Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal daar ooit geregtigheid wees?

Sal daar ooit geregtigheid wees?

 Dit lyk asof ongeregtigheid oral om ons is. Kyk na net twee voorbeelde van mense wat onregverdig in die tronk gesit is:

  •   In Januarie 2018 het ’n regter in die Verenigde State beveel dat ’n man wat amper 38 jaar lank in die tronk was, vrygelaat moet word. DNS-toetse het bewys dat hy onskuldig is.

  •   In September 1994 is drie jong mans in ’n land in Afrika tronk toe gestuur omdat hulle gewetensbeswaar teen militêre diens het. Tot en met September 2020 is hulle 26 jaar lank in die tronk sonder dat hulle ooit formeel van ’n misdaad aangekla is of in die hof verskyn het.

 As jy al ooit onregverdig behandel is, voel jy dalk soos die man Job van Bybeltye wat gesê het: “Ek roep heeltyd vir hulp, maar daar is geen geregtigheid nie” (Job 19:7). Maar selfs al lyk dit asof ware geregtigheid net ’n droom is, belowe die Bybel ’n tyd wanneer dit ’n werklikheid sal wees. Die wysheid in die Bybel kan jou ook help om ongeregtigheid nou te hanteer.

Wat veroorsaak ongeregtigheid?

 Ongeregtigheid word veroorsaak wanneer God se standaarde verwerp word. Die Bybel wys dat ware geregtigheid van God af kom (Jesaja 51:4). In die Bybel is daar ’n noue verband tussen die woorde “geregtigheid” en “regverdigheid” (Psalm 33:5). Dade wat regverdig is, of reg is volgens God se standaarde, veroorsaak dat daar geregtigheid is. In teenstelling hiermee is ongeregtigheid die gevolg van sonde, wat beteken dat mense ongehoorsaam is aan God se regverdige standaarde. Kyk na die volgende voorbeelde:

  •   Selfsugtigheid. Selfsugtige begeertes word gekoppel aan sonde (Jakobus 1:14, 15). Baie mense misbruik ander deur hulle onregverdig te behandel sodat hulle kan kry wat hulle wil hê. Maar God wil hê dat ons die voordeel van ander eerste moet stel. – 1 Korintiërs 10:24.

  •   Onkunde. Party behandel ander onregverdig sonder dat hulle dit besef, maar God beskou dit nog steeds as ’n sonde (Romeine 10:3). Om die waarheid te sê, onkunde het gelei tot een van die grootste dade van ongeregtigheid – die teregstelling van Jesus Christus. – Handelinge 3:15, 17.

  •   Mensestelsels wat misluk het. Die politieke, kommersiële en godsdiensstelsels van die wêreld sê dat hulle regverdige behandeling en sosiale geregtigheid bevorder. Maar die werklikheid is dat hierdie stelsels gewoonlik die oorsaak is van foute, korrupsie, diskriminasie, gierigheid, uiterste finansiële ongelykheid en onverdraagsaamheid. Dit alles kan tot ongeregtigheid lei. Party van hierdie stelsels word ondersteun deur mense wat die regte ding wil doen. Maar op die ou end kan niks wat die mens doen, suksesvol wees nie omdat hulle God se standaarde ignoreer. – Prediker 8:9; Jeremia 10:23.

Gee God om oor ongeregtigheid?

 Ja, hy haat ongeregtigheid en die gesindhede en dade wat dit veroorsaak (Spreuke 6:16-18). Hy het die profeet Jesaja geïnspireer om te skryf: “Ek, Jehovah, a is lief vir geregtigheid. Ek haat diefstal en onregverdigheid.” – Jesaja 61:8.

 Die Wet wat God vir die eertydse Israeliete gegee het, wys dat hy wou hê dat hulle geregtigheid moes beoefen. Hy het hulle regters beveel om omkoopgeskenke en ander dade te verwerp wat die reg kon verdraai (Deuteronomium 16:18-20). Hy het die Israeliete veroordeel wat ongehoorsaam aan hom was toe hulle die armes en hulpeloses uitgebuit het. En hy het hulle uiteindelik verwerp omdat hulle nie by sy standaarde gebly het nie. – Jesaja 10:1-3.

Sal God ’n einde aan ongeregtigheid maak?

 Ja. Deur middel van Jesus Christus sal God sonde, die oorsaak van ongeregtigheid, verwyder en die mens tot volmaaktheid herstel (Johannes 1:29; Romeine 6:23). Hy het ook ’n Koninkryk opgerig wat ’n regverdige nuwe wêreld sal bring en geregtigheid vir almal sal gee (Jesaja 32:1; 2 Petrus 3:13). Om meer oor hierdie hemelse Koninkryk uit te vind, kyk na die video Wat is God se Koninkryk?

Hoe sal lewe in die regverdige nuwe wêreld wees?

 Wanneer daar geregtigheid oor die hele aarde is, sal daar vrede en veiligheid vir almal wees (Jesaja 32:16-18). Almal is gelyk in God se oë, en daarom sal almal regverdig behandel word. Die hartseer, gehuil en pyn wat deur ongeregtigheid veroorsaak word, sal vir ewig weggeneem word, en later sal ons nie eers meer terugdink aan die pynlike ondervindinge wat ons gehad het nie (Jesaja 65:17; Openbaring 21:3, 4). Vir meer inligting kyk na die artikel “Wat sal God se Koninkryk doen?

Kan jy regtig God se belofte van ’n wêreld sonder ongeregtigheid glo?

 Ja. Die Bybel het bewys dat dit betroubare profesieë bevat, geskiedkundig en wetenskaplik akkuraat is en nie homself weerspreek nie. Hierdie dinge wys dat jy die beloftes daarin kan vertrou. Die volgende artikels gee meer inligting hieroor:

Kan ’n mens nou teen ongeregtigheid veg?

 Goeie mense in Bybeltye het gedoen wat hulle kon om nie onregverdig behandel te word nie. Byvoorbeeld, die apostel Paulus is met ’n onregverdige verhoor gedreig wat sy dood kon veroorsaak het. Eerder as om net sulke ongeregtigheid te aanvaar, het hy die regsopsies wat aan hom beskikbaar was, gebruik en wou hy hê dat die keiser sy saak moes verhoor. – Handelinge 25:8-12.

 Maar die dinge wat mense doen om al die ongeregtigheid in hierdie wêreld reg te stel, sal beslis misluk (Prediker 1:15). Tog het baie gesien dat geloof in God se belofte van ’n regverdige nuwe wêreld hulle gehelp het om innerlike vrede te kry al word hulle onregverdig behandel.

a Jehovah is die persoonlike naam van God. – Psalm 83:18.