Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sewe wenke om kos veilig te hou en gesond te eet

Sewe wenke om kos veilig te hou en gesond te eet

 Hoekom dit saak maak wat jy eet

 Jou gesondheid hang gedeeltelik af van wat jy eet. As jy seker maak dat jou kos veilig is om te eet en ’n gesonde dieet volg, kan jy jou gesondheid verbeter. Maar as jy kos op ’n manier hanteer wat dit onveilig maak om te eet en kos eet wat nie goed is vir jou nie, kan dit tot ernstige gesondheidsprobleme lei, net soos brandstof van ’n swak gehalte tot karprobleme kan lei. Dit sal dalk nie dadelik gebeur nie, maar dit sal die een of ander tyd gebeur. – Galasiërs 6:7.

 Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê dat “elke land in die wêreld deur een of meer vorme van wanvoeding geraak word”. Hierdie term sluit nie net ondervoeding in nie, maar ook toestande soos vetsug en om oorgewig te wees. Om gereeld ongesonde kos te eet en drankies te drink, vergroot jou risiko van ’n hartaanval, beroerte, diabetes en kanker. Volgens ’n studie het ondervoeding in 2017 tot die dood van ten minste 11 miljoen mense gelei. Die WGO skat dat kos wat besmet is, die dood van meer as eenduisend mense elke dag veroorsaak en tot gesondheidsprobleme vir honderde miljoene ander lei.

 Die Bybel moedig ons aan om hierdie saak as ernstig te beskou. Dit leer ons dat God “die bron van lewe” is (Psalm 36:9). Lewe is ’n geskenk, en ons wys dat ons dit waardeer deur na ons en ons gesin se gesondheid te kyk. Kom ons kyk hoe jy dit kan doen.

 Vier wenke oor hoe om kos veilig te hou

 1. Berei kos voor sodat dit veilig is om te eet.

 Hoekom? Gevaarlike kieme a in kos en water wat besmet is, kan in jou liggaam inkom en jou siek maak.

 Gesondheidsdeskundiges sê:

  •   Voordat jy kos voorberei, was jou hande met seep en water. b Vryf jou hande saam vir ten minste 20 sekondes. Was die agterkant van jou hande sowel as tussen jou vingers en onder jou vingernaels. Spoel en droog jou hande behoorlik af.

  •   Gebruik seep en water om die snyplanke, bakke en enige iets anders wat aan die kos gaan raak, te was. Moet ook nie dieselfde snyplank gebruik vir kos wat gekook gaan word en kos wat nie gekook gaan word nie.

  •   Was alle vrugte en groente, en ontsmet dit ook as jy in ’n gebied bly waar die landerye dalk met water natgespuit word wat met ontlasting besmet is.

 2. Hou rou en gekookte kos apart.

 Hoekom? Kieme van rou kos, soos vleis en die sappe daarvan, sal ander kos besmet.

 Gesondheidsdeskundiges sê:

  •   Hou alle rou kos – veral vleis – weg van gekookte kos wanneer jy dit van die winkel af huis toe vat, en bêre dit.

  •   Nadat jy rou vleis gesny het, was jou hande, die mes en die snyplank deeglik voordat jy enige ander kositems sny.

 3. Maak seker dat kos wat gaargemaak moet word, deeglik gaargemaak word.

 Hoekom? Skadelike kieme kan net doodgemaak word as die kos ’n hoë temperatuur bereik.

 Gesondheidsdeskundiges sê:

  •   Kook kos totdat dit baie warm is. Kos, insluitende die middelste gedeelte van vleis, moet ten minste 70 grade Celsius bereik vir ten minste 30 sekondes.

  •   Sop en bredies moet kookpunt bereik.

  •   Verhit kos wat klaar gekook is totdat dit warm en stomend is om dit weer te eet.

 4. Bêre kos teen veilige temperature.

 Hoekom? As kos vir net 20 minute teen ’n temperatuur van tussen 5 en 60 grade Celsius gebêre word, kan die aantal bakterieë daarin verdubbel. En as vleis wat rou is, nie teen ’n veilige temperatuur gebêre word nie, kan party bakterieë gifstowwe afgee wat nie deur die kookproses vernietig word nie.

 Gesondheidsdeskundiges sê:

  •   Hou kos warm of koud, nie louwarm nie. Dit sal keer dat kieme vermeerder.

  •   Moet nooit kos meer as twee ure teen kamertemperatuur buite los nie, of meer as ’n uur as die kamertemperatuur meer as 32 grade Celsius is nie.

  •   Wanneer die kos gaar is, hou dit warm tot net voordat jy dit opskep.

 Drie wenke oor hoe om gesond te eet

 1. Eet ’n verskeidenheid vrugte en groente elke dag.

 Vrugte en groente is belangrike bronne van vitamiene, minerale en ander noodsaaklike elemente wat tot goeie gesondheid lei. Die WGO sê dat jou liggaam elke dag ten minste vyf porsies vrugte en groente nodig het. Hierdie porsies sluit nie groentes wat ryk is aan stysel, soos aartappels en soetpatat, in nie.

 2. Eet matige hoeveelhede vette en olies.

 Die WGO stel voor dat jy jou inname van gebraaide kosse, verwerkte kosse of kosse wat klaar voorberei is, moet beperk omdat dit ongesonde vette bevat. As jy kan, kook met onversadigde plantolie. c Hierdie olies is beter as dié wat hoog is in versadigde vette.

 3. Beperk jou inname van sout en suiker.

 Die WGO stel voor dat volwassenes hulle totale daaglikse inname van sout beperk tot minder as een teelepel. Die WGO stel ook voor dat die totale inname van vrye suikers per dag minder as 60 milliliter (12 gelyke teelepels) moet wees. d Suiker is die hoofbestanddeel van baie verwerkte kosse en drankies. Byvoorbeeld, ’n gemiddelde 355-milliliter koeldrank bevat tot soveel as 50 milliliter (10 teelepels) suiker. Alhoewel koeldranke baie kalorieë bevat, het dit min of geen voedingswaarde nie.

 Die Bybel sê: “Die verstandige sien die gevaar en vermy dit, maar die onervarene gaan voort en moet die gevolge dra” (Spreuke 22:3). As jy verstandig optree wanneer dit by jou eetgewoontes kom en die nodige veranderinge maak, wys jy vir God dat jy jou lewe en gesondheid waardeer.

 Algemene verkeerde idees

 Verkeerde idee: Dit is veilig om kos te eet wat reg lyk, ruik en proe.

 Feit: Meer as 10 miljard bakterieë is nodig om water vuil te laat lyk, maar so min as 15 tot 20 gevaarlike bakterieë kan jou siek maak. Om seker te maak dat jou kos en drankies veilig is, berei dit voor, bedien dit en bêre dit teen die voorgestelde temperature en binne die voorgestelde tyd.

 Verkeerde idee: Vlieë is nie skadelik vir kos nie.

 Feit: Vlieë eet en broei in vullis, soos ontlasting, so hulle dra dikwels miljoene kieme op hulle pote wat siektes veroorsaak. Om te keer dat voorbereide kos deur vlieë besmet word, moet dit heeltemal toegemaak word.

 Verkeerde idee: “Ek eet al so lank ongesonde kosse dat dit my nie sal help om my eetgewoontes te verander nie.”

 Feit: Navorsers het gevind dat om nou gesonder te eet, jou risiko van ’n vroeë dood verminder, en hoe langer jy ’n gesonde dieet volg, hoe meer sal dit jou bevoordeel.

a Kieme, of mikro-organismes, is so klein dat jy dit nie met die blote oog kan sien nie. Dit sluit bakterieë, virusse en parasiete in. Party mikro-organismes is goed vir jou, maar skadelike mikro-organismes kan jou seermaak of selfs doodmaak.

b Seep en water maak meer kieme dood as net water.

c Onversadigde vette is ’n vloeistof by kamertemperatuur, nie solied nie.

d Vrye suikers sluit gekonsentreerde of verwerkte suikers in, soos tafelsuiker, heuning, stroop en vrugtesap. Die term sluit nie die natuurlike suiker in wat in vars vrugte, groente en melk gekry word nie.