Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Boek wat jy kan vertrou—Deel 2

Assirië in Bybelgeskiedenis

’n Boek wat jy kan vertrou—Deel 2

Hierdie artikel is die tweede in ’n reeks van sewe artikels in opeenvolgende nommers van die “Ontwaak!” wat die sewe wêreldmoondhede van Bybelgeskiedenis bespreek. Die doel hiervan is om te toon dat die Bybel betroubaar en deur God geïnspireer is en dat die boodskap daarin hoop bied dat die lyding wat deur die wrede heerskappy van mense veroorsaak is, tot ’n einde sal kom.

AS MENSE van die eertydse Midde-Ooste net die naam Assirië gehoor het, het hulle moontlik in koue sweet uitgeslaan. Volgens die Bybelboek Jona het die profeet Jona in die teenoorgestelde rigting gevlug toe hy ’n toewysing van God gekry het om ’n oordeelsboodskap in die Assiriese hoofstad, Nineve, te verkondig! (Jona 1:1-3). Dalk was dit weens die Assiriërs se skrikwekkende reputasie.

Betroubare geskiedenis

Die Bybelprofeet Nahum het Nineve beskryf as “die lêplek van leeus” en “die stad van bloedvergieting”. Hy het bygevoeg: “Die prooi wyk nie uit hom nie! Daar is die geluid van die sweep en die geluid van die wiel wat ratel en die perd wat jaag en die strydwa wat stamp. Die perderuiter en die vlam van die swaard en die weerlig van die spies en die menigte  gesneuweldes en die groot klomp lyke; en daar is geen einde aan die lyke nie. Hulle bly struikel tussen hulle lyke” (Nahum 2:11; 3:1-3). Stem sekulêre geskiedenis ooreen met die Bybel se beskrywing van eertydse Assirië?

Die boek Light From the Ancient Past noem Assirië “die genadelose oorlogsmasjien wat met opsetlike wreedheid vrees by sy vyande ingeboesem het”. Die volgende aanhaling toon hoe ’n Assiriese koning, Assurnasirpal II, gespog het oor hoe hy dié behandel het wat hom teëgestaan het:

Steenreliëf wat uitbeeld hoe gevangenes lewendig afgeslag word

“Ek het ’n pilaar by sy stadspoort gebou, en ek het al die vername manne wat in opstand gekom het, afgeslag, en ek het die pilaar met hulle vel bedek; party het ek in die pilaar toegemessel, party het ek aan pale op die pilaar gehang, . . . en ek het die ledemate van die beamptes afgekap, van die koninklike beamptes wat in opstand gekom het. . . . Baie van die gevangenes het ek met vuur verbrand, en baie het ek lewend gevange weggevoer.” Toe argeoloë Assiriese koninklike paleise opgegrawe het, het hulle gevind dat die mure versier is met afbeeldings van die aaklige manier waarop gevangenes behandel is.

In die jaar 740 VHJ het Assirië Samaria, die hoofstad van die noordelike koninkryk van Israel, verower en sy inwoners in ballingskap weggevoer. Agt jaar later het Assirië Juda binnegeval (2 Konings 18:13). * Die Assiriese koning Sanherib het ’n skatting van 30 talente goud en 300 talente silwer van die Judese koning Hiskia geëis. Die Bybelverslag sê dat hierdie skatting betaal is. Nogtans het Sanherib daarop aangedring dat die hoofstad van Juda, Jerusalem, hulle ook onvoorwaardelik aan hom oorgee.—2 Konings 18:9-17, 28-31.

’n Prisma wat Sanherib se gespog oor sy inval in Juda bevat

By Nineve het argeoloë ’n verslag van dieselfde gebeure in die annale van Sanherib gevind. In die teks, wat op ’n seskantige kleiprisma ingegrif is, het die Assiriese koning gespog: “Wat Hiskia, die Jood, betref, hy het hom nie aan my juk onderwerp nie; ek het 46 van sy sterk stede, ommuurde vestings en die tallose dorpies in hulle omgewing beleër en verower . . . Hom [Hiskia] het ek in Jerusalem, sy koninklike tuiste, ’n gevangene gemaak, soos ’n voëltjie in ’n kou.” Sanherib het toe beweer dat Hiskia vir hom “30 talente goud, 800 talente silwer, edelstene . . . (en) allerhande kosbare skatte” gegee het, wat ’n oordrywing was van hoeveel silwer talente hy in werklikheid ontvang het.

Let egter daarop dat Sanherib nie beweer dat hy Jerusalem verower het nie. Trouens, hy sê niks van die verpletterende nederlaag wat sy leërmag gely het weens goddelike ingryping nie. Volgens die Bybel het God se engel 185 000 Assiriese soldate in een nag doodgemaak (2 Konings 19:35, 36). Die geleerde Jack Finegan sê: “Met die oog op die algemene neiging om te spog, wat oral in die Assiriese konings se inskrywings na vore kom, sou ’n mens egter nouliks kon verwag dat Sanherib so ’n nederlaag sou opteken.”

Betroubare profesie

Omtrent honderd jaar voor die val van die  Assiriese Ryk het Jesaja aangekondig dat Jehovah God van daardie trotse veroweraars rekenskap sou eis vir hulle vermetelheid teenoor sy volk. Jehovah het gesê: “Ek [sal] rekenskap eis vir die vrug van die vermetelheid van die hart van die koning van Assirië en vir die eiewaan van sy verwaande oë” (Jesaja 10:12). Verder het God se profeet Nahum voorspel dat Nineve geplunder sou word, dat sy poorte vir sy vyande oopgemaak sou word en dat sy wagte sou vlug (Nahum 2:8, 9; 3:7, 13, 17, 19). Die Bybelprofeet Sefanja het geskryf dat die stad “’n verlate woesteny” sou word.—Sefanja 2:13-15.

Hierdie profesieë van vernietiging is in 632 VHJ vervul. Dit is toe Nineve voor die gesamentlike magte van die Babiloniërs en die Meders geval het, wat die Assiriese Ryk tot ’n roemlose einde gebring het. ’n Babiloniese kroniek van hierdie gebeurtenis sê dat die veroweraars “die groot buit van die stad en die tempel weggedra het” en Nineve “’n puinhoop” gemaak het. Op die oostelike oewer van die Tigrisrivier, oorkant die stad Mosoel, in Irak, is daar vandag net ruïnes in die verlate woesteny wat eens op ’n tyd Nineve was.

Assirië se vernietiging het ook bygedra tot die vervulling van nog ’n Bybelprofesie. Vroeër, in 740 VHJ, het Assirië die tienstammeryk in ballingskap weggevoer. Omstreeks dieselfde tyd dat Assirië dit gedoen het, het God se profeet Jesaja voorspel dat Jehovah “die Assiriër [sal] verbreek”, “hom [sal] vertrap” en Israel na hulle vaderland sal terugbring. Jesaja het geskryf dat God ‘die oorblyfsel van sy volk wat sal oorbly uit Assirië, sal bymekaarmaak’. Dit is presies wat gebeur het—omtrent tweehonderd jaar later!—Jesaja 11:11, 12; 14:25.

’n Betroubare belofte

Lank voor Nineve se val, terwyl sy konings nog vrees by hulle vyande ingeboesem het, het Jesaja die koms voorspel van ’n heerser wat heeltemal anders sou wees. Hy het geskryf: “’n Kind is vir ons gebore, ’n seun is vir ons gegee; en die vorstelike heerskappy sal op sy skouer wees. En hy sal genoem word: . . . Vredevors. Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk om dit stewig te vestig en om dit deur middel van geregtigheid en deur middel van regverdigheid in stand te hou, van nou af en tot onbepaalde tyd. Die ywer van Jehovah van die leërs sal dit doen.”—Jesaja 9:6, 7.

Die heerskappy van die “Vredevors”, Jesus Christus, sal oor die hele aarde strek. Psalm 72:7, 8 sê: “In sy dae sal die regverdige bloei, en die oorvloed van vrede totdat die maan nie meer is nie. En hy sal onderdane hê van see tot see en van die Rivier [die Eufraat] tot aan die eindes van die aarde.”

Deur middel van hierdie magtige “Vredevors” sal Jehovah God die belofte in Psalm 46:8, 9 vervul: “Kom, aanskou die dade van Jehovah, hoe hy verbasende dinge op die aarde tot stand gebring het. Hy laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde. Die boog verbreek hy en die spies kap hy stukkend; die waens verbrand hy met vuur.”

As ’n voorspel tot die vervulling van hierdie Bybelprofesie is Jehovah se Getuies besig met ’n Bybelonderrigtingsprogram wat mense in die weë van vrede onderrig, soos Jesus gedoen het. Ja, nie die mens nie, maar God sal die Bybelprofesie vervul in Jesaja 2:4: “Hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Nasie sal nie teen nasie die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie.” In teenstelling hiermee spandeer die wêreld van vandag en sy heersers elke jaar ’n biljoen dollar aan militêre strewes!

Akkurate geskiedenis en profesie maak die Bybel uniek en lewer bewys aan diegene wat opreg na die waarheid soek, dat dit inderdaad ’n betroubare boek is. In die volgende artikel in hierdie reeks sal ons eertydse Babilon, die hoofstad van die derde groot ryk van Bybelgeskiedenis, bespreek.

^ par. 9 Ná die heerskappy van koning Salomo is die 12 stamme van die nasie Israel verdeel. Juda en Benjamin het die suidelike koninkryk gevorm; en die ander tien stamme, die noordelike koninkryk. Jerusalem was die hoofstad van die suidelike koninkryk, en Samaria was die hoofstad van die noordelike koninkryk.