Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Jongmense vra

Hoe kan ek die Bybel se beskouing van homoseksualiteit verduidelik?

Hoe kan ek die Bybel se beskouing van homoseksualiteit verduidelik?

Toe twee gewilde aktrises mekaar by ’n prysuitdeling met ’n hartstogtelike soen groet, is die plek in rep en roer! Toeskouers snak geskok na hulle asem en bars dan in applous uit. Gays noem dit ’n oorwinning. Skeptici sê dat dit net ’n poging is om publisiteit te kry. Hoe dit ook al sy, video-uittreksels van die soen sal dae lank herhaaldelik in TV-nuusberigte gewys word—en miljoene mense sal op die Internet daarna kyk.

SOOS die bogenoemde geval toelig, trek min gebeurtenisse meer media-aandag as ’n beroemde persoon wat openlik sê dat hy of sy gay, lesbies of biseksueel is. Party mense prys sulke persone vir hulle moed; ander veroordeel hulle vir hulle losbandigheid. Tussen die twee uiterstes is daar ook die algemene beskouing dat homoseksualiteit bloot ’n alternatiewe lewenstyl is. “Toe ek op skool was”, sê Daniel, 21, “het selfs die kinders wat nie gay was nie, gevoel dat jy bevooroordeeld en veroordelend is as jy dink dat dit verkeerd is om gay te wees.” *

Gesindhede oor homoseksualiteit verskil dalk van een ouderdomsgroep tot ’n ander of van een land tot ’n ander. Maar Christene word nie “hiernatoe en daarnatoe gevoer . . . deur elke wind van lering” nie (Efesiërs 4:14). Hulle hou eerder vas aan die Bybel se beskouing.

Wat is die Bybel se beskouing van homoseksualiteit? Wat kan jy, as jy volgens die Bybel se sedewet lewe, sê vir diegene wat beweer dat jy bevooroordeeld en veroordelend is of selfs ’n fobie vir gays het? Kyk na die volgende vrae en moontlike antwoorde.

Wat sê die Bybel oor homoseksualiteit?

Die Bybel sê duidelik dat God bedoel het dat slegs ’n man en vrou met mekaar seks mag hê en net as hulle met mekaar getroud is (Genesis 1:27, 28; Levitikus 18:22; Spreuke 5:18, 19). Waar die Bybel hoerery veroordeel, verwys dit na homoseksuele en heteroseksuele gedrag. *Galasiërs 5:19-21.

As iemand vra: “Hoe beskou jy homoseksualiteit?”

Kan jy sê: “Ek haat nie homoseksuele nie, maar ek kan hulle gedrag nie goedkeur nie.”

✔ Onthou: As jy jou deur die Bybel se sedewet laat lei, dan is dit die lewenstyl wat jy gekies  het, en jy het die reg om dit te volg (Josua 24:15). Moenie skaam wees vir jou beskouing nie.—Psalm 119:46.

Moet Christene nie alle mense met respek behandel, ongeag hulle seksuele neiging nie?

Beslis. Die Bybel sê: “Eer alle soorte mense” of, soos die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling dit stel: “Julle moet alle mense respekteer” (1 Petrus 2:17). Christene het dus nie ’n fobie vir homoseksuele nie. Hulle behandel alle mense goed, insluitende dié wat gay is.—Matteus 7:12.

As iemand vra: “Bevorder jou beskouing van homoseksualiteit nie vooroordeel teenoor gays nie?”

Kan jy antwoord: “Glad nie. Ek verwerp homoseksuele gedrag, nie mense nie.”

✔ Jy kan byvoeg: “Ek het byvoorbeeld ook besluit om nie te rook nie. Selfs net die idee is vir my aaklig. Maar sê nou jy rook en jy voel nie soos ek oor rook nie? Ek sal nie bevooroordeeld teenoor jou wees weens jou beskouing nie, en ek is seker dat jy ook nie bevooroordeeld teenoor my sal wees weens my beskouing nie—of hoe? Dieselfde beginsel geld vir ons verskillende beskouings van homoseksualiteit.”

Het Jesus nie geleer dat ons verdraagsaam moet wees nie? Moet Christene dan nie ’n permissiewe beskouing van homoseksualiteit hê nie?

Jesus het sy volgelinge nie aangespoor om enige en alle lewenstyle te aanvaar nie. Hy het eerder geleer dat redding moontlik is vir “elkeen wat geloof in hom beoefen” (Johannes 3:16). Iemand wat geloof in Jesus beoefen, sal onder andere in ooreenstemming met God se sedewet lewe, wat sekere gedrag, insluitende homoseksualiteit, verbied.—Romeine 1:26, 27.

Christene het die moed om nie met die stroom saam te gaan wanneer dit kom by gewilde beskouings nie

As iemand sê: “Homoseksuele kan nie hulle neiging verander nie; hulle word so gebore.”

Kan jy antwoord: “Die Bybel sê niks oor die biologiese redes vir homoseksualiteit nie, maar dit erken wel dat sommige neigings diep ingewortel is (2 Korintiërs 10:4, 5). Al voel party dalk aangetrokke tot dieselfde geslag, sê die Bybel vir Christene om homoseksuele dade te vermy.”

✔ Wenk: In plaas daarvan om betrokke te raak by ’n debat oor die oorsaak van homoseksuele begeertes, kan jy eerder beklemtoon dat die Bybel homoseksuele gedrag verbied. Jy kan ’n vergelyking tref deur te sê: “Jy weet, baie beweer dat gewelddadige gedrag ’n genetiese oorsaak kan hê en dat party mense gevolglik ’n ingebore neiging tot sulke gedrag het (Spreuke 29:22). Sê nou dit was waar? Soos jy seker weet, veroordeel die Bybel woedeuitbarstings (Psalm 37:8; Efesiërs 4:31). Is hierdie standaard onregverdig net omdat party dalk ’n neiging het om gewelddadig te wees?”

Hoe kan God iemand wat tot dieselfde geslag aangetrokke voel, beveel om homoseksualiteit te vermy? Dit klink wreed.

Hierdie redenasie is gegrond op die verkeerde idee dat mense op hulle seksuele impulse moet reageer. Die Bybel verleen waardigheid aan mense deur hulle te verseker dat hulle kan besluit om ongepaste seksuele begeertes te weerstaan as hulle werklik wil.—Kolossense 3:5.

As iemand sê: “Selfs as jy nie gay is nie, moet jy jou beskouing van homoseksualiteit verander.”

Kan jy antwoord: “Sê nou ek dink dat dit nie reg is om te dobbel nie, maar jy dink dit is. Sal dit redelik van jou wees om daarop aan te   dring dat ek my beskouing verander, bloot omdat miljoene mense dobbel?”

✔ Onthou: Die meeste mense (insluitende homoseksuele) het ’n stel waardes wat maak dat hulle sekere dinge afkeur—miskien bedrog, ongeregtigheid of oorlog. Die Bybel verbied hierdie dinge; dit verbied ook sekere soorte seksuele gedrag, soos homoseksualiteit.—1 Korintiërs 6:9-11.

Die Bybel is nie onredelik nie en bevorder ook nie vooroordeel nie. Dit sê bloot dat diegene wat seksueel tot dieselfde geslag aangetrokke voel, moet doen wat ook vereis word van diegene wat tot die teenoorgestelde geslag aangetrokke voel—hulle moet “vlug vir die hoerery”.—1 Korintiërs 6:18.

Die feit is dat miljoene wat tot die teenoorgestelde geslag aangetrokke voel en wat Bybelstandaarde wil volg, selfbeheersing aan die dag lê al kom hulle voor baie versoekings te staan. Dit sluit baie in wat ongetroud is, maar heel moontlik nie ’n huweliksmaat sal vind nie en baie wat getroud is met iemand wat gestremd is en nie seks kan hê nie. Hulle kan ’n gelukkige lewe lei sonder om hulle seksuele begeertes te bevredig. Diegene met homoseksuele neigings kan dieselfde doen as hulle werklik God se goedkeuring wil geniet.—Deuteronomium 30:19.

^ par. 4 Name in hierdie artikel is verander.

^ par. 7 Die Bybelterm “hoerery” verwys nie net na geslagsomgang nie, maar ook na dade soos om iemand anders te masturbeer, sowel as orale of anale seks.

IETS OM OOR TE DINK

  • Waarom verwag God dat mense sedewette moet gehoorsaam?

  • Hoe vind jy daarby baat om die Bybel se sedewette te gehoorsaam?