Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Hoe om reëls vir jou tiener vas te stel

Hoe om reëls vir jou tiener vas te stel

DIE UITDAGING

Jou tiener sê dat jy te streng is. Jou instink sê vir jou die teenoorgestelde. ‘As ek die reëls verslap’, sê jy vir jouself, ‘sal hy net in die moeilikheid kom!’

Jy kan redelike reëls vir jou tiener vasstel. Maar jy moet eers verstaan waarom hy dalk in die eerste plek teen die reëls skop. *

WAAROM DIT GEBEUR

Mite: Alle tieners kom in opstand teen reëls; dit is ’n onvermydelike deel van adolessensie.

Feit: ’n Tiener is minder geneig om in opstand te kom as ouers redelike reëls vasstel en dit met hom bespreek.

Hoewel verskeie faktore tot opstandigheid kan lei, kan ouers onwetend daartoe bydra as hulle reëls onbuigsaam is of nie by die tiener se ouderdom aangepas word nie. Kyk na die volgende:

  • Die reëls is onbuigsaam. As ouers streng reëls voorskryf en dit nie wil bespreek nie, word reëls eerder soos ’n dwangbaadjie wat die tiener inperk as ’n sitplekgordel wat hom beskerm. Gevolglik sal hy dalk in die geheim juis die dinge doen wat sy ouers verbied.

  • Die reëls word nie by die tiener se ouderdom aangepas nie. “Omdat ek so sê”, is dalk genoeg verduideliking vir ’n jong kind, maar adolessente het meer nodig—hulle het redes nodig. In die nabye toekoms sal jou tiener moontlik op sy eie bly en gewigtige besluite neem. Dit is baie beter dat hy nou, terwyl hy nog onder jou toesig is, leer om goed te redeneer en wyse besluite te neem.

Maar wat kan jy doen as dit lyk asof jou tiener heeltyd deur jou reëls geïrriteer word?

WAT JY KAN DOEN

Eerstens, besef dat tieners perke nodig het—en dit diep in hulle hart selfs wil hê. Stel dus reëls vas en maak seker dat jou tiener dit verstaan. “Wanneer daar vir adolessente duidelike perke gestel word en hulle ’n redelike mate van ouerlike toesig verwag, is hulle minder geneig om hulle aan kommerwekkende gedrag skuldig te maak”, sê die boek Letting Go With Love and Confidence. Maar onbetrokke ouers wat hulle tieners te veel vryheid gee, skep die indruk dat hulle nie vir hulle tieners omgee nie. En dít is ’n resep vir opstandigheid.—Bybelbeginsel: Spreuke 29:15.

Hoe kan jy dan balans toon? Laat jou tiener toe om te sê hoe hy voel oor huisreëls. As hy byvoorbeeld vra dat sy inkomtyd aangepas word, moet jy luister terwyl hy sy saak stel. ’n Tiener wat weet dat jy aandagtig na hom geluister het, sal meer geneig wees om die besluit wat jy neem, te respekteer en te gehoorsaam—al stem hy nie daarmee saam nie.—Bybelbeginsel: Jakobus 1:19.

Voordat jy egter ’n besluit neem, moet jy aan die volgende dink: Hoewel tieners geneig is om meer vryheid te vra as wat hulle behoort te hê, is ouers dalk geneig om minder vryheid te gee as wat hulle kan gee. Oorweeg jou tiener se versoek dus ernstig. Het hy al getoon dat hy verantwoordelik is? Regverdig die omstandighede dat jy ’n toegewing maak? Wees bereid om buigsaam te wees wanneer dit gepas is.—Bybelbeginsel: Genesis 19:17-22.

Moenie net luister na hoe jou tiener voel nie, maar maak ook seker dat jou tiener weet waaroor jy besorg is. Sodoende kan jy hom leer om nie net te dink aan wat hy wil hê nie, maar om ook ander se gevoelens in ag te neem.—Bybelbeginsel: 1 Korintiërs 10:24.

Laastens, neem ’n besluit en verduidelik jou redes daarvoor. Selfs as hy nie van die besluit hou nie, is hy waarskynlik bly om ouers te hê wat hom die geleentheid gee om te sê hoe hy voel. Onthou dat ’n adolessent ’n “leerlingvolwassene” is. Deur redelike reëls vas te stel en dit met jou tiener te bespreek, sal jy hom help om ’n verantwoordelike volwassene te word.—Bybelbeginsel: Spreuke 22:6.

^ par. 5 Hoewel ons in hierdie artikel na die tiener as manlik verwys, is die beginsels op albei geslagte van toepassing.