Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Wees ’n goeie vader

Wees ’n goeie vader

“Wat het ek verkeerd gedoen?” Hierdie vraag het Michael, * van Suid-Afrika, gekwel. Al het hy hard probeer om ’n goeie vader te wees, het hy elke keer dat hy aan sy opstandige 19-jarige seun gedink het, gewonder of hy ’n beter ouer kon gewees het.

Daarteenoor lyk dit asof Terry, wat in Spanje woon, suksesvol was as ’n vader. Sy seun, Andrew, sê: “Baie van my vroegste herinneringe aan my pa is van hoe hy vir my gelees het, met my gespeel het en my op uitstappies geneem het sodat ek en hy tyd alleen kon deurbring. Hy het dit lekker gemaak om te leer.”

Dit is weliswaar nie maklik om ’n goeie vader te wees nie. Maar daar is basiese beginsels wat kan help. Baie vaders het gevind dat dit hulle en hulle gesinne tot voordeel strek wanneer hulle die wysheid wat in die Bybel gevind word, toepas. Kom ons bespreek van die Bybel se praktiese raad wat vaders kan help.

1. Maak tyd vir jou gesin

Hoe toon jy, as ’n vader, vir jou kinders dat hulle vir jou belangrik is? Jy doen ongetwyfeld baie dinge vir jou kinders, en dit sluit die opofferings in wat jy maak om hulle van voedsel en ’n dak oor hulle kop te voorsien. Jy sou nie sulke dinge gedoen het as jou kinders nie vir jou belangrik was nie. Maar as jy nie genoeg tyd saam met jou kinders deurbring nie, kan hulle tot die slotsom kom dat ander dinge, soos jou werk, jou vriende of jou stokperdjies, vir jou belangriker is as hulle.

Wanneer moet ’n vader tyd saam met sy kinders begin deurbring? ’n Moeder begin ’n band met haar kind vorm terwyl hy of sy nog in die baarmoeder is. Sowat 16 weke ná bevrugting begin ’n ongebore baba moontlik hoor. Op hierdie stadium kan ’n vader ook ’n unieke verhouding met sy ongebore kind begin opbou. Hy kan na die baba se hartklop luister, voel hoe die baba skop, met die baba praat en vir hom of haar sing.

Bybelbeginsel: In Bybeltye was mans persoonlik betrokke by die opvoeding van hulle kinders. Vaders is aangespoor om gereeld tyd saam met hulle kinders deur te bring, soos blyk uit die Bybel se woorde in Deuteronomium 6:6, 7: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit by jou kind inskerp en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.”

2. Goeie vaders is goeie kommunikeerders

Luister kalm sonder om veroordelend te wees

As jy doeltreffend met jou kinders wil kommunikeer, moet jy ’n goeie luisteraar wees. Jy moet die vermoë ontwikkel om te luister sonder om te oorreageer.

As jou kinders dink dat jy jou humeur sal verloor en veroordelend sal wees, sal hulle huiwer om jou te vertel hoe hulle werklik voel. Maar as jy kalm na hulle luister, toon jy dat jy opreg in hulle belangstel. Dan sal hulle meer geneig wees om met jou te praat oor hulle kosbare gedagtes en gevoelens.

Bybelbeginsel: Die praktiese wysheid in die Bybel is voordelig in baie aspekte van die daaglikse lewe. Die Bybel sê byvoorbeeld: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Vaders wat hierdie Bybelbeginsel toepas, kan beter met hulle kinders kommunikeer.

3. Gee liefdevolle dissipline en lof

Al voel jy gefrustreerd of kwaad, die dissipline wat jy toedien, moet ’n blyk van liefdevolle besorgdheid wees oor jou kind se welsyn op die lange duur. Dit sluit raad, teregwysing, opvoeding en, wanneer nodig, tugtiging in.

Wat meer is, dissipline is baie doeltreffender as ’n vader sy kinders gereeld prys. ’n Eertydse spreuk sê: “Soos goue appels in silwersnywerk is ’n woord wat op sy regte tyd gespreek word” (Spreuke 25:11). Lof help ’n kind om goeie eienskappe te ontwikkel. Kinders floreer wanneer hulle erkenning ontvang en weet dat hulle waardeer word. ’n Vader wat soek na geleenthede om sy kinders te prys, sal hulle help om selfvertroue op te bou en om die begeerte te ontwikkel om altyd te doen wat reg is.

Bybelbeginsel: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie.”Kolossense 3:21.

4. Betoon liefde en respek aan jou vrou

Die manier waarop ’n vader sy rol as man vervul, sal beslis ’n uitwerking op die kinders hê. ’n Groep deskundiges op die gebied van kinderontwikkeling verduidelik: “Een van die beste dinge wat ’n vader vir sy kinders kan doen, is om hulle moeder te respekteer. . . . ’n Vader en moeder wat mekaar respekteer en hulle kinders dit laat sien, voorsien ’n veilige omgewing vir hulle kinders.”—The Importance of Fathers in the Healthy Development of Children. *

Bybelbeginsel: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê . . . Elkeen van julle moet ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself.”Efesiërs 5:25, 33.

5. Pas God se praktiese wysheid toe

Vaders met ’n hartgrondige liefde vir God kan hulle kinders ’n uiters kosbare erfenis gee—’n intieme verhouding met hulle hemelse Vader.

Nadat Antonio, een van Jehovah se Getuies, dekades lank hard gewerk het om ses kinders groot te maak, het hy die volgende briefie van een van sy dogters ontvang: “Liewe Pa, ek wil net dankie sê dat Pa my grootgemaak het om lief te wees vir Jehovah God, my medemens en myself—dit wil sê, om ’n goed afgeronde persoon te wees. Pa het my gewys dat Pa vir Jehovah lief is en vir my omgee. Ek wil dankie sê dat Pa Jehovah eerste gestel het in Pa se lewe en ons kinders as gawes van God beskou het!”

Bybelbeginsel: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en al jou lewenskrag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees.”Deuteronomium 6:5, 6.

Vaderskap behels ongetwyfeld meer as net hierdie vyf punte, en al doen jy jou bes om ’n goeie vader te wees, sal jy natuurlik nooit ’n volmaakte vader wees nie. Maar as jy hierdie beginsels op ’n liefdevolle en gebalanseerde manier toepas, kan jy beslis ’n goeie vader wees. *

^ par. 3 Van die name in hierdie artikel is verander.

^ par. 19 Selfs as ’n vader nie meer getroud is met die moeder van sy kinders nie, is dit goed vir sy kinders se verhouding met hulle moeder as hy haar met respek en waardigheid behandel.

^ par. 25 Vir meer raad oor gesinslewe, sien die boek Die geheim van gesinsgeluk, uitgegee deur Jehovah se Getuies, of kyk onder “Vir die gesin” op die webwerf www.ps8318.com/af.