Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL SE BESKOUING

Voorhuwelikse seks

Voorhuwelikse seks

Is voorhuwelikse seks verkeerd?

“Want dít is die wil van God, . . . dat julle julle onthou van hoerery.”—1 Tessalonisense 4:3.

WAT MENSE SÊ

In sommige kulture word seksuele bedrywighede tussen gewillige ongetroude volwassenes geduld. En in party gebiede word sekere vorme van seksuele intimiteit tussen ongetroude adolessente as aanvaarbaar beskou.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel gebruik die woord “hoerery” vir party seksuele bedrywighede buite die huwelik. God vereis dat sy aanbidders hulle “onthou van hoerery” (1 Tessalonisense 4:3). Hoerery word genoem onder ernstige sondes soos egbreuk, spiritisme, dronkenskap, afgodediens, moord en diefstal.—1 Korintiërs 6:9, 10; Openbaring 21:8.

WAAROM DIT SAAK MAAK

Om maar een ding te noem, die Bybel waarsku dat “God . . . hoereerders [sal] oordeel” (Hebreërs 13:4). Nog belangriker, as ons God se wette oor geslagsedelikheid gehoorsaam, bewys ons ons liefde vir Jehovah God (1 Johannes 5:3). Op sy beurt seën hy diegene wat sy gebooie bewaar.—Jesaja 48:18.

 Is enige vorm van seksuele intimiteit tussen ongetroude persone onsedelik?

“Laat hoerery en elke soort onreinheid of hebsug nie eens onder julle genoem word nie.Efesiërs 5:3.

WAT MENSE SÊ

Baie mense dink dat daar niks verkeerd is met seksuele intimiteit tussen ongetroude persone nie, mits hulle nie geslagsgemeenskap het nie.

WAT DIE BYBEL SÊ

Waar die Bybel van onsedelike seksuele gebruike praat, meld dit nie net hoerery nie, maar ook seksuele “onreinheid” en “losbandige gedrag” (2 Korintiërs 12:21). Dit is duidelik dat verskeie vorme van seksuele intimiteit vir God aanstootlik is as dit buite die huwelik beoefen word, selfs as daar geen geslagsgemeenskap betrokke is nie.

Die algemene boodskap in die Bybel aangaande seks is dat seksuele intimiteit beperk moet word tot ’n man en ’n vrou wat met mekaar getroud is. Die Bybel keur ook “hebsugtige geslagsdrif” af (1 Tessalonisense 4:5). Wat beteken dit? Kyk na ’n voorbeeld wat op ’n man sowel as ’n vrou van toepassing kan wees: ’n Vrou is dalk vasbeslote om nie geslagsgemeenskap met haar mansvriend te hê nie. Maar sy maak haar miskien skuldig aan ander vorme van seksuele intimiteit met hom. Sodoende openbaar hulle ’n hebsugtige of wellustige begeerte na iets wat nie aan hulle behoort nie. Hulle maak hulle dus skuldig aan “hebsugtige geslagsdrif”. Sulke seksuele hebsug word in die Bybel veroordeel.—Efesiërs 5:3-5.

Hoe kan jy geslagsonsedelikheid vermy?

“Vlug vir die hoerery.”—1 Korintiërs 6:18.

WAAROM DIT SAAK MAAK

Volgens die Bybel loop diegene wat voorhuwelikse seks het, die gevaar om hulle vriendskap met God te verloor.—Kolossense 3:5, 6.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel spoor mense aan om te “vlug vir die hoerery” (1 Korintiërs 6:18). Dit beteken dat ’n persoon so ver as moontlik moet wegbly van enigiets wat hom of haar kan verlok om seksueel onsedelik te wees (Spreuke 22:3). Byvoorbeeld, as ’n mens sedelik rein wil bly, is dit noodsaaklik dat jy noue omgang vermy met mense wat God se beginsels oor seks verontagsaam. Die Bybel waarsku: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.”—Spreuke 13:20.

As ’n mens jou verstand met onsedelike gedagtes voed, kan dit ook tot seksuele wangedrag lei (Romeine 8:5, 6). Dit is dus verstandig om musiek, video’s, gedrukte materiaal en enigiets anders te vermy waarin geslagsonsedelikheid voorkom of wat enigsins seksuele gedrag bevorder wat God aanstoot gee.—Psalm 101:3.