Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Is orale seks werklik seks?

Is orale seks werklik seks?

 Volgens ’n verslag deur die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming het omtrent die helfte van alle jongmense tussen die ouderdomme van 15 en 19 met wie ’n onderhoud gevoer is, al orale seks gehad. “As jy met tieners [oor orale seks] praat, sê hulle vir jou dat dit mos niks ernstigs is nie”, sê Sharlene Azam, die outeur van die boek Oral Sex Is the New Goodnight Kiss. “Om die waarheid te sê, hulle beskou dit nie eers as seks nie.”

 Wat dink jy?

 Antwoord ja of nee op die volgende vrae.

  1.   Kan ’n meisie van orale seks swanger raak?

    1.   Ja

    2.   Nee

  2.   Hou orale seks enige gesondheidsgevare in?

    1.   Ja

    2.   Nee

  3.   Is orale seks werklik seks?

    1.   Ja

    2.   Nee

 Wat is die feite?

 Vergelyk jou antwoorde met die volgende antwoorde.

  1.   Kan ’n meisie van orale seks swanger raak?

     Antwoord: Nee. Dit is een rede waarom baie mense aanneem​—⁠verkeerdelik​—⁠dat orale seks onskadelik is.

  2.   Hou orale seks enige gesondheidsgevare in?

     Antwoord: Ja. Iemand wat orale seks het, kan hepatitis (A of B), genitale vratte, gonorree, herpes, MIV en sifilis kry.

  3.   Is orale seks werklik seks?

     Antwoord: Ja. Enige gedrag wat te doen het met die geslagsorgane van iemand anders—insluitende geslagsomgang, orale seks, anale seks of masturbasie van ’n ander persoon—is seks.

 Waarom maak dit saak?

 Kyk na ’n paar Bybeltekste wat van toepassing is op orale seks.

 Die Bybel sê: ‘Dit is die wil van God dat julle julle van onsedelikheid weerhou.’—1 Tessalonisense 4:3, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

 Die woord in die oorspronklike taal wat met “onsedelikheid” vertaal is, verwys na alle soorte intieme gedrag buite die huwelik, insluitende geslagsomgang, orale seks, anale seks en masturbasie van ’n ander persoon. Seksuele onsedelikheid kan ernstige gevolge hê. Die ergste gevolg is ’n beskadigde vriendskap met God.—1 Petrus 3:12.

 Die Bybel sê: “Hy wat hoerery [seksuele onsedelikheid] beoefen, sondig teen sy eie liggaam.”—1 Korintiërs 6:18.

 Orale seks kan ’n mens fisies en geestelik benadeel. Dit kan ook emosioneel skadelik wees. “Vaginale seks is nie die enigste soort seks wat jou misbruik, spyt en kwesbaar kan laat voel nie”, sê die boek Talking Sex With Your Kids. “Al die slegte emosies wat dit kan meebring om geslagsomgang in die verkeerde situasie te hê, kan veroorsaak word deur enige soort seks in die verkeerde situasie. Seks is seks.”

 Die Bybel sê: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel.”—Jesaja 48:17.

 Glo jy dat God se wette oor seks jou werklik tot voordeel strek? Of dink jy dat dit jou onnodig inperk? Om jou te help om hierdie vrae te beantwoord, dink aan ’n besige hoofweg met spoedbeperkings, verkeerstekens en stoptekens. Beskou jy hierdie tekens as ’n onnodige beperking of as ’n beskerming? Wat sou gebeur as jy—en ander bestuurders—dit ignoreer?

Verkeersreëls beperk wel jou vryheid, maar dit beskerm jou. Net so, plaas God se wette beperkings op jou, maar dit is ook tot jou beskerming

 Dit is dieselfde met God se standaarde. As jy dit ignoreer, sal jy beslis maai wat jy saai (Galasiërs 6:7). “Hoe meer jy jou oortuigings en standaarde prysgee en aan bedrywighede deelneem wat jy nie voel reg is nie, hoe minder selfrespek sal jy hê”, sê die boek Sex Smart. Maar as jy volgens God se standaarde lewe, sal jy toon dat jy hoë sedelike waardes het. Wat meer is, jy sal ’n skoon gewete behou.—1 Petrus 3:16.