Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Moet ons uitmaak? (Deel 1)

Moet ons uitmaak? (Deel 1)

 Soms is dit ’n seën as dinge nie uitwerk nie. Kyk na wat met Jill gebeur het. “Aan die begin”, sê sy, “was ek gevlei omdat my kêrel altyd bekommerd was oor waar ek is, wat ek doen en by wie ek is. Maar dit het die punt bereik waar ek geen tyd saam met enigiemand behalwe hom kon deurbring nie. Hy het selfs jaloers geword wanneer ek saam met my gesin tyd deurgebring het—veral saam met my pa. Toe ek die verhouding met my kêrel beëindig het, het dit gevoel of ’n geweldige las van my skouers afgelig is!”

 Sarah het ’n soortgelyke ondervinding gehad. Sy het begin agterkom dat John, die jong man met wie sy uitgegaan het, sarkasties, veeleisend en onbeskof is. “Eenkeer”, vertel Sarah, “het hy drie uur laat by my aangekom! Hy het my ma geïgnoreer toe sy die deur oopmaak en net gesê: ‘Kom, ons moet gaan. Ons is laat.’ Nie ‘Ek is laat’ nie, maar ‘Ons is laat’. Hy moes eintlik om verskoning gevra het of verduidelik het waarom hy laat was. Bowenal moes hy my ma met respek behandel het!”

 ’n Enkele teleurstellende daad of eienskap beteken natuurlik nie dat ’n verhouding tot mislukking gedoem is nie (Psalm 130:3). Maar toe Sarah besef dat John se onbeskoftheid ’n patroon is en nie net ’n alleenstaande geval nie, het sy besluit om die verhouding te beëindig.

 Sê nou jy kom, soos Jill en Sarah, agter dat die persoon met wie jy uitgaan, nie ’n goeie huweliksmaat sal wees nie? Moet dan nie jou gevoelens ignoreer nie! Al is dit moeilik om te aanvaar, is dit moontlik die beste om die verhouding te beëindig. Spreuke 22:3 sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het.”

 Dit is weliswaar nie maklik om uit te maak nie. Maar die huwelik is ’n permanente verbintenis. Dit is beter om nou vir ’n kort rukkie pyn te verduur as om later vir die res van jou lewe spyt te hê!