Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat moet ek omtrent seksuele aanranding weet?​—Deel 2: Herstel

Wat moet ek omtrent seksuele aanranding weet?​—Deel 2: Herstel

 Hoe om skuldgevoelens te verwerk

 Baie slagoffers van seksuele molestering voel baie skaam oor wat gebeur het. Hulle voel dalk selfs verantwoordelik daarvoor. Beskou Karen, nou 19, wat tussen die ouderdom van 6 en 13 gemolesteer is. “Vir my is die skuldgevoelens die ergste”, sê sy. “Ek dink soms: ‘Waarom het ek toegelaat dat ek so lank gemolesteer word?’”

 As jy so voel, dink aan die volgende:

  •   Kinders is nie fisies of emosioneel gereed om seks te hê nie. Hulle verstaan nie wat seks impliseer nie en kan dus nie ’n ingeligte besluit daaroor neem nie. Dit beteken dat kindermolestering nie die kind se skuld is nie.

  •   Kinders is geneig om volwassenes te vertrou en om naïef te wees oor die taktiek van verdorwe mense, en dit kan ’n kind ’n maklike teiken maak. “Molesteerders is baie goeie bedrieërs, en ’n kind is nie opgewasse teen hulle slinkse manipulasie nie”, sê die boek The Right to Innocence.

  •   ’n Kind kan seksueel gestimuleer voel terwyl hy of sy gemolesteer word. As dit met jou gebeur het, wees verseker dat dit die liggaam se outomatiese fisiese reaksie is wanneer dit op ’n sekere manier aangeraak word. Dit beteken nie dat jy ingestem het tot die molestering of dat dit enigsins jou skuld is nie.

 Wenk: Dink aan ’n kind wat jy ken wat nou so oud is soos jy was toe jy gemolesteer is. Vra jou af: ‘Sou dit regverdig wees om daardie kind verantwoordelik te hou as hy of sy gemolesteer word?’

 Karen het hieroor geredeneer toe sy drie kinders opgepas het, waarvan een byna ses jaar oud was—so oud soos Karen was toe die molestering begin het. Karen sê: “Ek het besef presies hoe kwesbaar ’n kind van daardie ouderdom werklik is—hoe kwesbaar ek op daardie ouderdom was.”

 Feit: Die molesteerder is verantwoordelik vir wat gebeur het. Die Bybel sê: “Die goddeloosheid van ’n goddelose sal op [daardie persoon alleen] wees.”—Esegiël 18:20.

 Neem iemand in jou vertroue

 Om met ’n volwassene wat jy vertrou, oor die molestering te praat, kan jou help om verligting te kry. Die Bybel sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.”—Spreuke 17:17.

 Dit is te verstane dat dit jou moontlik veiliger laat voel om nie te praat oor wat gebeur het nie. Stilswye het miskien soos ’n muur geword wat jy gebou het om jou teen verdere pyn te beskerm. Maar dink ’n bietjie hieraan: Die muur van stilswye wat jou teen verdere pyn beskerm, voorkom dalk ook dat jy hulp kry.

Die muur van stilswye wat jou teen verdere pyn beskerm, voorkom dalk ook dat jy hulp kry

 ’n Jong vrou met die naam Janet het gevind dat dit vir haar groot verligting meegebring het om oor die molestering te praat. Sy sê: “Ek is op ’n baie jong ouderdom gemolesteer deur iemand wat ek geken en vertrou het, en ek het jare lank niks daaroor gesê nie. Maar toe ek uiteindelik met my ma daaroor gepraat het, het dit gevoel asof ’n groot las van my skouers gelig is.”

 Wanneer Janet nou terugkyk, kan sy verstaan waarom party nie daaroor wil praat nie. “Molestering is ’n baie ongemaklike onderwerp”, sê sy. “Maar in my geval was die pyn wat my stilswye veroorsaak het, erger. Dit sou vir my beter gewees het om gouer daaroor te praat.”

 ‘’n Tyd om gesond te word’

 Die molestering het jou dalk ’n verkeerde beskouing van jouself gegee—byvoorbeeld, dat jy waardeloos is of dat jy net goed is vir die seksuele bevrediging van ander. Jy het nou die geleentheid om van sulke leuens te herstel, om baat te vind by ‘’n tyd om gesond te word’ (Prediker 3:3). Wat kan jou hiermee help?

 Studeer die Bybel. Die Bybel bevat God se gedagtes, wat “kragtig [is] om sterk verskanste dinge omver te werp”—insluitende verkeerde gedagtes oor jou waarde (2 Korintiërs 10:4, 5). Lees en peins byvoorbeeld oor die volgende tekste: Jesaja 41:10; Jeremia 31:3; Maleagi 3:16, 17; Lukas 12:6, 7; 1 Johannes 3:19, 20.

 Gebed. “Werp jou las op Jehovah” wanneer gevoelens van waardeloosheid of skuldgevoelens jou oorweldig (Psalm 55:22). Jy is nooit alleen nie!

 Gemeentelike ouer manne. Hierdie Christenmans is opgelei om “soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm [te] wees” (Jesaja 32:2). Hulle kan jou help om ’n gebalanseerde beskouing van jouself te verkry en om voort te gaan met jou lewe.

 Goeie assosiasie. Kyk na mans en vroue wat ’n voorbeeldige Christelike lewe lei. Let op hoe hulle mekaar behandel. Mettertyd sal jy besef dat nie almal hulle invloed gebruik om diegene wat hulle sê hulle liefhet, te misbruik nie.

 ’n Jong vrou met die naam Tanya leer nou hierdie belangrike les. Sy is van kleins af deur ’n aantal mans as ’n seksvoorwerp behandel. “Al die mans wat na aan my was, het my seergemaak”, sê sy. Maar Tanya het mettertyd besef dat daar wel mans is wat ware liefde aan die dag lê. Wat het haar hiervan oortuig?

 Toe Tanya met ’n egpaar begin assosieer het wat ’n voorbeeldige Christelike lewe lei, het haar beskouing verander. “Ek kon aan die man se optrede sien dat nie alle mans ander misbruik nie”, sê sy. “Die man het sy vrou beskerm, en dit is hoe God wou hê dit moet wees.” aEfesiërs 5:28, 29.

a As jy sukkel met probleme soos chroniese depressie, ’n eetversteuring, selfbesering, middelmisbruik, ’n slaapversteuring of selfmoordgedagtes, sal dit wys wees om die hulp van ’n mediese deskundige te kry.