Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Depressie—Wat kan ek doen?

Depressie—Wat kan ek doen?

 As jy maniere het om dit te verwerk, kan dit jou help om beter te voel!

 Wat sou jy doen?

 Dink aan die volgende scenario’s:

 Niks maak Jennifer meer gelukkig nie. Sy huil elke dag sonder ophou, en sy weet nie hoekom nie. Sy vermy mense en eet skaars iets. Dit is vir haar moeilik om te slaap of om te konsentreer. Jennifer wonder: ‘Wat is besig om met my te gebeur? Sal ek ooit weer myself wees?’

 Mark was altyd ’n goeie student. Maar nou haat hy skool en sy punte raak al hoe slegter. Mark het dit altyd geniet om aan sport deel te neem, maar nou het hy net nie die energie daarvoor nie. Sy vriende verstaan nie wat aangaan nie. Sy ouers is bekommerd. Is dit net ’n fase, of is dit dalk iets ernstigs?

 Voel jy ook soos Jennifer of Mark? As jy so voel, wat kan jy daaroor doen? Jy kan die volgende twee dinge probeer:

  1.   Probeer om dinge op jou eie te verwerk

  2.   Praat met ’n grootmens wat jy vertrou

 Opsie A lyk dalk makliker, veral as jy nie lus is om te praat nie. Maar sal dit slim wees om dit te doen? Die Bybel sê: “Twee is beter as een ... Want as een van hulle val, kan die ander sy metgesel ophelp. Maar hoe sal dit wees met net die een wat val wanneer daar nie ’n ander is om hom op te help nie?”—Prediker 4:9, 10.

 Byvoorbeeld: Sê nou jy verdwaal in ’n gevaarlike buurt waar daar baie misdaad is. Dit is donker, en daar is vreemdelinge om elke hoek en draai. Wat sal jy doen? Jy kan probeer om self daar uit te kom. Maar sou dit nie beter wees om iemand wat jy vertrou, te vra om jou te help nie?

 Depressie kan vergelyk word met so ’n gevaarlike buurt. Ons almal voel partykeer bietjie af, en dit sal dalk vanself oorwaai. Maar wanneer jy die heeltyd depressief is, is dit beter om hulp te kry.

 BYBELWAARHEID: “Wie hom afsonder, sal ... teen alle praktiese wysheid ... losbreek.”—Spreuke 18:1.

 Die voordeel van opsie B—om met jou ouers of ’n grootmens wat

jy vertrou, te praat—is dat jy gehelp kan word deur iemand wat reeds moeilike gevoelens verwerk het.

 Jy sê dalk: ‘Maar my ouers verstaan glad nie hoe ek voel nie!’ Maar is dit regtig so? Al het hulle nie dieselfde dinge as tieners deurgemaak wat jy deurmaak nie, het hulle dalk dieselfde gevoelens ervaar. En hulle weet dalk wat om te doen!

 BYBELWAARHEID: “Is daar nie wysheid onder die bejaardes en verstand in lengte van dae nie?”—Job 12:12.

  Feit: Jy sal heel moontlik goeie raad kry as jy met jou ouers of ’n grootmens wat jy vertrou, praat.

Wanneer jy depressie het, is dit soos om in ’n gevaarlike buurt te verdwaal. Om daaruit te kom, moet jy iemand vra om jou te help

Sê nou dit is ’n mediese probleem?

 As jy elke dag depressief voel, het jy dalk ’n mediese probleem, soos kliniese (of, ernstige) depressie, wat behandel moet word.

 Tieners is baie keer buierig, en daarom kan depressie by jongmense nie altyd raakgesien word nie. Maar die simptome van kliniese depressie is intens en hou langer aan. So as jy vir ’n lang tyd baie hartseer is, praat eerder met jou ouers en hoor of jy nie na ’n dokter toe moet gaan nie?

 BYBELWAARHEID: “Dié wat gesond is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel.”—Matteus 9:12.

 As jy met ernstige depressie gediagnoseer word, is dit nie iets om oor skaam te voel nie. Depressie onder jongmense is iets algemeens, en dit kan behandel word! Jou ware vriende sal nog steeds jou vriende bly.

  Wenk: Wees geduldig. As jy depressie het, sal jy nie oornag beter voel nie. Daar gaan goeie en slegte dae wees. a

’n Plan van aksie

 Of jy nou mediese behandeling nodig het of nie, daar is dinge wat jy kan doen as jy die heeltyd hartseer is. Byvoorbeeld, gereelde oefening, ’n gesonde dieet en genoeg slaap kan jou help om jou gevoelens onder beheer te kry (Prediker 4:6; 1 Timoteus 4:8). Dit kan jou ook help as jy ’n dagboek hou. Daarin kan jy jou gevoelens neerskryf asook wat jy gaan doen om gesond te word, probleme wat jy ondervind en die vordering wat jy al gemaak het.

  Of jy nou aan kliniese depressie ly of net deur ’n moeilike tyd gaan, onthou die volgende: As jy toelaat dat ander mense jou help en self iets doen om beter te word, kan dit jou help om depressie te verwerk.

Bybeltekste wat jou kan help

  •  “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.”—Psalm 34:18.

  •  “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag. Nooit sal hy die regverdige laat wankel nie.”—Psalm 55:22.

  •  “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.’”—Jesaja 41:13.

  •  “Moet julle ... nooit kwel oor die volgende dag nie.”—Matteus 6:34.

  •  “Laat julle versoeke ... by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte ... bewaak.”—Filippense 4:6, 7.

a As jy daaraan dink om jouself dood te maak, praat dadelik met ’n grootmens wat jy vertrou. Vir meer inligting sien die reeks “Waarom voortgaan?” in die Ontwaak! van April 2014.