Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek ’n tragedie die hoof bied?

Hoe kan ek ’n tragedie die hoof bied?

 ’n Tragedie kan enigiemand tref. “Die vinniges [het] nie die wedloop . . . nie en die sterkes ook nie die geveg nie”, sê die Bybel. “Onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal” (Prediker 9:11). Dit sluit party jongmense in wat deur ’n tragedie getref is. Hoe het hulle dit die hoof gebied? Kyk na twee voorbeelde.

 REBEKAH

 My ouers het geskei toe ek 14 was.

 Ek het vir myself gesê dat my ouers se egskeiding nie ’n werklikheid is nie, dat my pa net ’n bietjie tyd vir homself nodig het. Hy is mos lief vir my ma—waarom sou hy haar verlaat? Waarom sou hy my verlaat?

 Dit was vir my moeilik om met enigiemand daaroor te praat. Ek wou nie eens daaraan dink nie. Ek was kwaad, al het ek dit nie op daardie stadium besef nie. Ek het dikwels angstig gevoel en het gesukkel om te slaap.

  Toe ek 19 was, is my ma oorlede aan kanker. Sy was my beste vriendin.

 My ouers se egskeiding was ’n skok, maar my ma se dood was verpletterend. Ek het dit nog steeds nie verwerk nie. Ek sukkel nou selfs meer om te slaap, en ek voel nog steeds angstig.

 Maar daar is ’n hele paar dinge wat my gehelp het. Byvoorbeeld, Spreuke 18:1 sê dat ons ons nie moet afsonder nie, en ek probeer hierdie raad volg.

 As een van Jehovah se Getuies probeer ek ook om ons aanmoedigende Bybelpublikasies te lees. ’n Publikasie wat my gedurende my ouers se egskeiding gehelp het, was Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk. Ek onthou spesifiek die hoofstuk in Deel 2 “Kan ek gelukkig wees in ’n enkelouergesin?

 Een van my gunstelingtekste wat my met my angstigheid help, is Matteus 6:25-34. In vers 27 het Jesus gevra: “Wie van julle kan deur hom te kwel een el a by sy lewensduur voeg?”

 Slegte dinge gebeur met ons almal, maar ek het uit my ma se voorbeeld geleer dat die manier waarop ons hierdie beproewinge hanteer, belangrik is. Sy moes baie verduur—⁠’n egskeiding en toe ’n terminale siekte—maar sy was altyd positief, en haar geloof in God het tot op die einde sterk gebly. Ek sal nooit vergeet wat sy my omtrent Jehovah geleer het nie.

 Iets om oor te dink: Hoe kan dit jou help om ’n tragedie die hoof te bied as jy die Bybel en Bybelpublikasies lees?—Psalm 94:19.

 CORDELL

 Toe ek 17 jaar oud was, het ek gesien hoe my pa sy laaste asem uitblaas. Om hom te verloor, was die verskriklikste ondervinding van my lewe. Ek was verpletterd.

 Dit het vir my gevoel asof hy nie werklik dood is nie, asof dit nie my pa is wat hulle met die doodslaken toegemaak het nie. Ek het vir myself gesê: ‘Hy sal môre wakker word.’ Ek het leeg en verlore gevoel.

 Ek en my gesin is Getuies van Jehovah, en ons gemeente was ’n ongelooflike ondersteuning toe my pa oorlede is. Hulle het vir ons kos gebring, aangebied om by ons te bly en ons werklik bygestaan—⁠nie net die eerste ruk nie, maar selfs lank daarna. Hulle ondersteuning was vir my ’n bewys dat Jehovah se Getuies ware Christene is.—Johannes 13:35.

 ’n Teks wat my werklik aangemoedig het, is 2 Korintiërs 4:17, 18. Dit sê: “Al is die verdrukking kortstondig en lig, bewerk dit vir ons ’n heerlikheid wat van al hoe meer oortreffende gewig en ewig is; terwyl ons ons oë gerig hou, nie op die dinge wat gesien word nie, maar op die dinge wat nie gesien word nie. Want die dinge wat gesien word, is tydelik, maar die dinge wat nie gesien word nie, is ewig.”

 Die laaste vers is vir my baie betekenisvol. My pa se lyding was tydelik, maar wat God vir die toekoms belowe, is ewigdurend. My pa se dood het my die geleentheid gegee om na te dink oor wat ek met my lewe doen en om my doelwitte aan te pas.

 Iets om oor te dink: Hoe kan ’n persoonlike tragedie jou help om weer na te dink oor jou doelwitte in die lewe?—1 Johannes 2:17.

a ’n El is ’n maateenheid wat gelyk is aan sowat 45 sentimeter.