Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat as ek nie inpas nie?

Wat as ek nie inpas nie?

 “Jy moet inpas anders het jy nie vriende nie, nie ’n lewe nie en nie ’n toekoms nie. Niemand sal aan jou dink nie en jy sal heeltemal alleen wees.” – Carl.

 Is dit regtig so erg? Miskien. Maar party mense sal enigiets doen om nie in die situasie te beland wat Carl beskryf het nie. Sou jy? Hierdie artikel sal jou help om ’n beter manier te kry om vriende te maak.

 Hoekom probeer mense inpas?

  •   Want hulle wil nie uit voel nie. “Op sosiale media het ek foto’s gesien van ’n groep wat uitgegaan het en dinge sonder my gedoen het. Dit het my laat wonder wat fout is met my, en ek het myself mal gemaak, want ek het gedink dat ek nie goed genoeg is vir hulle nie.” – Natalie.

     IETS OM OOR TE DINK: Het jy al ooit gevoel dat ’n groep mense jou nie by hulle wil hê nie? Het jy enigiets aan jouself verander sodat jy deel kan wees van daai groep? Wat het jy gedoen?

  •   Want hulle wil nie anders wees nie. “My ouers wil nie nou al vir my ’n selfoon gee nie. Wanneer ander kinders vir my nommer vra en ek vir hulle sê dat ek nie ’n foon het nie, dan sê hulle: ‘Wat? Hoe oud is jy dan?’ Wanneer ek vir hulle sê dat ek 13 is, kry hulle my jammer.” – Mary.

     IETS OM OOR TE DINK: Watter reëls maak jou ouers wat jou anders laat voel as ander kinders? Hoe reageer jy op hierdie reëls?

  •   Want hulle wil nie geboelie word nie. “Kinders by die skool hou nie van kinders wat dinge anders doen, anders praat of selfs op ’n ander manier aanbid nie. As jy nie inpas nie, is jy ’n teiken om deur ander kinders geboelie te word.” – Olivia.

     IETS OM OOR TE DINK: Is jy al ooit sleg behandel omdat jy nie ingepas het nie? Wat het jy toe gedoen?

  •   Want hulle wil nie hulle vriende verloor nie. “Ek het by elke groep waarin ek was, probeer inpas. Ek het soos hulle gepraat. Ek het gelag wanneer iets nie snaaks was nie. Ek het selfs iemand anders gespot net omdat ander in die groep dit gedoen het, al het ek geweet dit maak die persoon seer.” – Rachel.

     IETS OM OOR TE DINK: Hoe belangrik is dit vir jou dat ander jongmense van jou moet hou? Het jy al ooit jou persoonlikheid verander om by hulle in te pas?

 Wat jy moet weet

  •   As jy dinge doen wat ander doen net om in te pas, kan dit maak dat hulle dalk glad nie van jou hou nie. Hoekom? Want mense kan sien as jy aansit. Die 20-jarige Brian sê: “Ek het nog minder by my klasmaats ingepas toe ek gemaak het of ek iemand is wat ek nie is nie. Ek het geleer dat dit die beste is om net jouself te wees, want mense weet wanneer jy vals is.”

     ’N BETER MANIER: Dink aan wat vir jou belangrik is. Die Bybel sê: “Maak [seker] van die belangriker dinge” (Filippense 1:10). So, vra jou af: ‘Wat is belangriker – om in te pas by mense wie se standaarde anders is as myne of om myself te wees?’

     “Dit gaan jou nie help om soos ander te probeer wees nie. Dit gaan nie maak dat mense meer van jou hou nie en dit gaan ook nie van jou ’n beter mens maak nie.”James.

  •   As jy probeer inpas, kan dit keer dat jy jouself is. Jy dwing dalk jouself om iemand te wees sodat jy ander mense gelukkig kan hou. ’n Jong man met die naam Jeremy sê: “Ek het alles gedoen wat ek kon om by ’n spesifieke groep in te pas, selfs al het dit beteken dat ek dinge gedoen het wat my naam deur die modder gesleep het. Ek het toegelaat dat ander my beheer. Ek het nie meer ’n sê gehad nie.”

     ’N BETER MANIER: Weet wat jou standaarde is en bly by dit. Moenie soos ’n verkleurmannetjie wees wat die heeltyd sy kleur verander om by sy omgewing in te pas nie. Daarom sê die Bybel: “Moenie iets doen net omdat iemand anders dit doen nie.” – Eksodus 23:2, Holy Bible—Easy-to-Read Version.

     “Ek het van alles probeer hou waarvan hulle gehou het – musiek, speletjies, klere, televisieprogramme, grimering . . . Ek wou net soos hulle wees. Ek dink hulle kon sien dat ek aansit. Ek dink almal het dit gesien, en ek ook. Ek het leeg en alleen gevoel en ek het nie eers meer myself geken nie. Ek het nie meer my eie persoonlikheid gehad nie. Ek het besef dat nie almal wat jy ontmoet, by jou sal inpas of selfs van jou sal hou nie. Dit beteken nie jy moet ophou om vriende te maak nie. Wees net geduldig en onthou dat dit tyd vat om vriende te maak en om jouself regtig te leer ken.” – Melinda.

  •   As jy probeer inpas, maak dit dat jy anders optree. ’n Jong man met die naam Chris het gesien hoe dit met ’n familielid gebeur. Chris sê: “Hy’t dinge begin doen wat hy nie gewoonlik sou doen nie – soos om dwelms te gebruik – net om in te pas. Hy het aan dwelms verslaaf geraak en dit het amper sy lewe opgemors.”

     ’N BETER MANIER: Bly weg van mense wie se lewe wys dat hulle nie goeie standaarde het nie. Die Bybel sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte [dom mense] inlaat, met hom sal dit sleg gaan.” – Spreuke 13:20.

     “Dis soms goed om iets te doen om in te pas. Maar jy moet nooit iets doen wat jy weet verkeerd is nie. Die regte mense sal jou aanvaar vir wie jy regtig is.” – Melanie.

     Wenk: Wanneer jy vriende probeer maak en nuwe mense ontmoet, moenie net vir mense soek wat dieselfde belangstellings as jy het nie. Soek vir mense wat dieselfde standaarde as jy het – wat dieselfde dinge glo wanneer dit kom by hoe jy aanbid en hoe jy lewe.

    Sekere klere pas nie by jou nie. Net so sal sekere mense nie by jou pas nie omdat hulle nie dieselfde standaarde as jy het nie