Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Wat moet ek oor rook en vaping weet?

Wat moet ek oor rook en vaping weet?

 “Waar ek bly, is dit vreemd om iemand onder die ouderdom van 25 te ontmoet wat nog nie gerook of gevape het nie.”Julia.

In hierdie artikel

  Wat jy moet weet

  •   Sigarette kan jou doodmaak. Nikotien – die hoofbestanddeel in tabak – is giftig en baie verslawend. Volgens die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming “is die gebruik van tabak een van die grootste voorkombare oorsake van vroeë sterftes en siektes wêreldwyd”.

     “My werk is om ultraklankskanderings te doen, en ek het al ultraklankbeelde gesien wat wys watter uitwerking rook op pasiënte het. Ek is geskok om te sien hoeveel plaak opgebou het in die are van mense wat gerook het. Ek het te veel respek vir my liggaam om te rook.” – Theresa.

     Het jy geweet? Sigarette bevat omtrent 7 000 chemikalieë, waarvan baie giftig is. Elke jaar gaan miljoene mense dood as gevolg van siektes wat deur die gebruik van tabak veroorsaak word.

  •   Vaping stel die gebruiker bloot aan giftige chemikalieë. Kenners glo dat as gevolg van vaping, dit wil sê om vape-penne of e-sigarette te gebruik, word mense se longe beskadig en sterf hulle. En, net soos sigarette, bevat baie vape-produkte ook nikotien. Omdat nikotien baie verslawend is, kan dit “veroorsaak dat jongmense aan ander dwelms verslaaf raak”, volgens ’n inligtingsblad oor e-sigarette.

     “Vape-produkte met name soos cotton candy en cherry bomb het soet geure, waarvan veral kinders en tieners hou. Die smaak laat hulle dink dat dit skadeloos is.” – Miranda.

     Het jy geweet? Die rookwalms van e-sigarette bestaan nie net uit water nie. Dit bevat deeltjies skadelike stowwe – wat dikwels baie giftige chemikalieë insluit – wat na jou longe toe gaan.

 Risiko’s wat verband hou met rook en vaping

  1.  (1) Verswakte waarnemingsvermoë sowel as probleme met konsentrasie en gemoed, veral in breine wat nog ontwikkel

  2.  (2) Ontsteekte tandvleis asook slegte tande

  3.  (3) Chroniese longontsteking en hartsiektes

     Asma wat vererger

     Omgekrapte maag en naarheid

 Wat jy kan doen

  •   Ken die feite. Moenie alles glo wat jy hoor nie – soos byvoorbeeld dat vaping skadeloos is of dat dit ’n goeie manier is om te ontspan. Doen jou eie navorsing, en maak ’n goeie besluit gebaseer op feite.

     Bybelwaarheid: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die verstandige persoon dink mooi voordat hy iets doen.” – Spreuke 14:15.

     “Wanneer jy nadink oor die negatiewe gevolge van rook en vaping, besef jy dat dit nie skadelose pret is soos beroemde mense of ander jongmense probeer voorgee nie.” – Evan.

     Iets om oor te dink: Is jongmense wat rook of vape regtig gelukkiger? Is hulle beter voorbereid om stresvolle situasies te hanteer – nou en in die toekoms? Of saai hulle die saadjies vir nog probleme?

  •   Kry produktiewe maniere om angstigheid te hanteer. Goeie maniere om minder angstig te wees, sluit gesonde aktiwiteite in, soos om te oefen, om te lees of om ’n lekker tyd te hê met vriende wat jou aanmoedig. Omdat jy baie goeie dinge het om op te fokus, sal jy nie die behoefte hê om te rook nie.

     Bybelwaarheid: “Angstigheid in ’n mens se hart maak hom terneergedruk, maar ’n goeie woord maak sy hart bly.” – Spreuke 12:25.

     “Mense dink dat om te rook en te vape jou stres verminder. Maar al wat hierdie dinge doen, is om jou vir ’n kort rukkie beter te laat voel, en dit het slegte gevolge vir die res van jou lewe. Daar is beter maniere om stres te hanteer.” – Angela.

     Iets om oor te dink: Wat is ’n paar maniere waarop jy stres goed kan hanteer? As jy hulp nodig het, sien die “Jongmense vra”-artikel “Wat kan ek omtrent angstigheid doen?

Om ’n verslawende middel te gebruik om jou te help met jou angstigheid, is soos om in die see te spring om weg te kom van die reën; dit veroorsaak net meer probleme!

  •   Wees voorbereid om groepsdruk te hanteer. Dit kan van jou skoolmaats kom of selfs deur jou vermaak. Films, TV-programme en sosiale media laat dit baie keer lyk asof rook en vaping vet pret is.

     Bybelwaarheid: “Volwasse mense [het] hulle denkvermoë geoefen . . . sodat hulle kan onderskei wat reg en wat verkeerd is.” – Hebreërs 5:14.

     “Toe ek op skool was, het baie van die ander jongmense my gerespekteer omdat ek nie gerook of gevape het nie. Nadat ek dit duidelik gemaak het dat ek nie sal rook of vape nie, het hulle my selfs verdedig. So, snaaks genoeg, om jou standpunt bekend te maak, kan as ’n beskerming dien.” – Anna.

     Iets om oor te dink: Hoe goed kan jy groepsdruk weerstaan? Kan jy aan gevalle dink toe jy dit gedoen het? As jy hiermee hulp nodig het, kyk na die “Portuurdrukplan” in hoofstuk 15 van Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2.

  •   Kies jou vriende versigtig. Die versoeking om te rook of te vape sal baie kleiner wees as jou vriende dieselfde oor hierdie dinge as jy voel.

     Bybelwaarheid: “Wees vriende met dié wat wys is, en jy sal wys word. Kies dwase om jou vriende te wees, en jy sal moeilikheid hê.” – Spreuke 13:20, Easy-to-Read Version.

     “Dit help regtig om vriende te wees met mense wat eienskappe het soos selfbeheersing en integriteit. Wanneer jy sien hoe goed dit met hulle gaan, motiveer dit jou om soos hulle te wees.” – Calvin.

     Iets om oor te dink: Maak jou vriende dit vir jou makliker om ’n skoon en gesonde leefstyl te hê, of maak hulle dit vir jou moeiliker om dit te doen?

 Wat van dagga?

 Baie mense sê dat dagga skadeloos is. Maar dit is ’n leuen!

  •   Jongmense wat dagga gebruik, kan verslaaf raak daaraan. Studies wys dat om dagga te gebruik jou brein permanent kan beskadig, en dit sluit in dat dit jou IK kan verlaag.

  •   Volgens die Amerikaanse Administrasie vir Dwelmmisbruik en Verstandelike Gesondheidsdienste “wys navorsing dat mense wat dagga gebruik, meer geneig is om probleme in hulle verhoudings te hê, slegter op skool te doen, minder suksesvolle loopbane te hê en minder tevrede met die lewe te wees”.

     “Ek het in die versoeking gekom om dagga te rook meestal omdat ek minder angstig wou voel. Maar toe ek dink aan die feit dat ek daaraan verslaaf kon raak, die geld wat ek daarop sou moes spandeer en die uitwerking wat dit op my gesondheid sou hê, het ek besef dat om dagga te rook my net meer angstig sou maak.” – Judah.