Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek my tyd goed gebruik?

Hoe kan ek my tyd goed gebruik?

 Hoe kan ek my tyd goed gebruik?

  •   Tyd is soos geld. As jy dit mors, sal jy dit nie hê wanneer jy dit nodig het nie. Maar as jy jou tyd goed gebruik, sal jy tyd oorhê om die dinge te doen wat jy geniet!

     Bybelwaarheid: “Die luiaard toon dat hy begerig is, maar sy siel het niks. Die siel van die vlytiges sal egter vet gemaak word.” – Spreuke 13:4.

     Die slotsom: As jy jou tyd goed gebruik, sal jy meer vryheid hê, nie minder nie.

  •   Om te weet hoe om jou tyd goed te gebruik, is ’n waardevolle vaardigheid wat jy as ’n volwassene nodig sal hê. Dit kan selfs die verskil beteken tussen om ’n werk te behou en afgedank te word. Want sê nou jy het ’n besigheid, sou jy ’n werknemer hou wat die heeltyd laat is vir werk?

     Bybelwaarheid: “Hy wat in die geringste getrou is, is ook in baie getrou.” – Lukas 16:10.

     Die slotsom: Die vermoë om jou tyd goed te gebruik, sê iets oor die tipe persoon wat jy is.

 Maar om die waarheid te sê, dit is nie maklik om jou tyd goed te gebruik nie. Kyk na net ’n paar struikelblokke.

 Struikelblok #1: Vriende

 “As vriende my vra om met hulle uit te gaan, gaan ek amper altyd saam, al het ek nie eintlik die tyd nie. Ek dink: ‘Ag, ek kan alles wat ek moet doen, vinnig klaarmaak wanneer ek by die huis kom.’ Dit werk nie altyd nie, en as gevolg daarvan het dinge al lelik skeefgeloop.” – Cynthia.

 Struikelblok #2: Afleidings

 “Die TV is soos ’n stofsuier. Dit suig jou in met sy programme en flieks, wat moeilik is om te weerstaan.” – Ivy.

 “Ek kan ure mors op my tablet. Ek voel skuldig wanneer ek net ophou omdat die battery pap is.”Marie.

 Struikelblok #3: Uitstellery

 “Ek stel my skooltake uit, en enigiets anders wat ek moet doen. Dan mors ek my tyd deur iets simpel te doen totdat ek my taak eenvoudig moet klaarmaak – dis nou nie die beste manier om jou tyd te gebruik nie.” – Beth.

As jy jou tyd goed gebruik, sal jy meer vryheid hê, nie minder nie

 Wat jy kan doen

  1.   Maak ’n lys van wat jy alles moet doen. Voorbeelde sluit jou huistakies en skoolwerk in. Skryf neer hoeveel tyd jy nodig het om in ’n normale week elke taak te doen.

     Bybelwaarheid: ‘Maak seker van die belangriker dinge.’ – Filippense 1:10.

  2.   Maak ’n lys van die dinge wat jy in jou vrye tyd wil doen. Dit kan dinge insluit soos om sosiale media te gebruik en TV te kyk. Skryf weer neer hoeveel tyd jy in ’n normale week vir elke aktiwiteit gebruik.

     Bybelwaarheid: “Gaan voort om in wysheid te wandel ... terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop.” – Kolossense 4:5.

  3.   Kry ’n plan. Kyk weer na die twee lysies wat jy gemaak het. Het jy genoeg tyd opsy gesit vir die belangrike take? Moet jy miskien van jou tyd vir ontspanning hiervoor gebruik?

     Wenk: Maak elke dag ’n lys van wat jy moet doen, en merk elke item af nadat jy dit gedoen het.

     Bybelwaarheid: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel.” – Spreuke 21:5.

  4.   Bly by wat jy beplan het. Dalk sal jy nou en dan moet nee sê vir ’n sosiale uitnodiging omdat jy die belangrike dinge moet doen. Maar jy sal agterkom dat jy op die ou ent meer vrye tyd het – en jy sal dit meer geniet.

     Bybelwaarheid: “Moenie traag wees in julle bedrywighede nie.” – Romeine 12:11.

  5.   Beloon jouself – maar nie te gou nie. “Soms sal ek twee dinge op my lysie doen”, sê ’n jong vrou met die naam Tara, “en dan dink ek: ‘Oukei, nou kan ek 15 minute lank TV kyk en dan weer aan die werk spring.’ Wel, 15 minute word 30, en 30 minute word ’n uur, en voordat ek dit weet, het ek twee uur gemors deur TV te kyk!”

     Die oplossing? Beskou ontspanning as ’n beloning omdat jy jou take gedoen het – nie as ’n outomatiese deel van jou dag nie.

     Bybelbeginsel: ‘Vir ’n mens is daar niks beters nie as dat hy die goeie sien weens sy harde werk.’ – Prediker 2:24.