Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Filippense 4:6, 7 – “Moet oor niks bekommerd wees nie”

Filippense 4:6, 7 – “Moet oor niks bekommerd wees nie”

 “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar vra God in elke situasie om julle te help deur tot hom te bid, hom te smeek en hom te dank. Dan sal die vrede van God, wat alle denke oortref, julle harte en julle verstande beskerm deur middel van Christus Jesus.” – Filippense 4:6, 7, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” – Filippense 4:6, 7, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983).

Betekenis van Filippense 4:6, 7

 Wanneer aanbidders van God baie bekommerd of angstig is, kan hulle tot hom bid om vertroos te word. Hy belowe om hulle innerlike vrede te gee, wat hulle sal help om hulle angstigheid te hanteer en om hulle denke en gevoelens te beskerm. Vers 6 identifiseer verskillende soorte gebed wat ons kan help om sulke vrede te kry.

 Smeek God: Dit is gebede waarin ’n persoon God opreg smeek vir hulp. ’n Persoon kan God smeek wanneer hy onder baie druk of in gevaar is, net soos wat Jesus gedoen het (Hebreërs 5:7). Baie keer word sulke gebede oor en oor gedoen.

 Vra God: Dit is spesifieke versoeke aan God. Sy aanbidders kan “in alles” of “in elke situasie” hom vir hulp vra. Maar sulke gebede moet ooreenstem met God se wil wat in die Bybel verduidelik word. – 1 Johannes 5:14.

 Dank God: Dit is gebede wat wys hoe dankbaar ons is vir wat hy gedoen het en nog vir ons gaan doen. Wanneer ons fokus op die redes wat ons het om God te dank, kan dit ons help om gelukkig te bly. – 1 Tessalonisense 5:16-18.

 God beantwoord sulke gebede deur sy aanbidders vrede te gee. “Die vrede van God” beskryf die kalmte wat ’n mens het as gevolg van ’n goeie vriendskap met hom (Romeine 15:13; Filippense 4:9). Hierdie vrede ‘oortref alle denke’, want dit is van God en dit kan ons meer help as wat ons ons ooit kan voorstel.

 Hierdie Bybelvers sê dat die vrede van God ons hart kan beskerm. Die Griekse woord wat hier met “beskerm” vertaal word, hou verband met ’n militêre term wat beskryf wat ’n groep soldate gedoen het om ’n stad te beskerm. Net so beskerm die vrede van God ’n persoon emosioneel en verstandelik. Dit help hom om nie oorweldig te word deur ontstellende probleme nie.

 Die vrede wat God gee, beskerm ons “deur middel van Christus Jesus” omdat dit deur Jesus vir ons moontlik is om ’n verhouding met God te hê. Jesus het sy lewe as ’n losprysoffer vir ons sondes gegee. As ons geloof in hom het, kan ons God se seëninge geniet (Hebreërs 11:6). Jesus het dit moontlik gemaak om God in gebed te nader. Jesus het gesê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.” – Johannes 14:6; 16:23.

Konteks van Filippense 4:6, 7

 Die Bybelboek Filippense is ’n brief wat die apostel Paulus geskryf het aan die Christene wat in die stad Filippi a gewoon het. In wat nou hoofstuk 4 van die boek is, moedig Paulus diegene in die gemeente aan om altyd bly te wees en hy bedank hulle vir hulle vrygewigheid, wat hom gelukkig gemaak het (Filippense 4:4, 10, 18). Hy wys hoe gebed tot die vrede van God lei, en hy identifiseer waaroor ons moet dink en wat ons moet doen sodat ons die hulp van “die God van vrede” kan kry. – Filippense 4:8, 9.

a ’n Stad wat nou in hedendaagse Griekeland is.