Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Depressie onder tieners—Waarom? Wat kan help?

Depressie onder tieners—Waarom? Wat kan help?

“WANNEER ek depressief voel, wil ek niks doen nie, nie eers die dinge waarvan ek gewoonlik hou nie. Ek wil net slaap. Ek voel dat niemand vir my kan lief wees nie, en dat ek waardeloos en ’n las vir ander is”, sê Anna. *

“Ek het aan selfmoord gedink. Ek wou nie regtig doodgaan nie, maar ek wou net nie meer so voel nie. Ek is gewoonlik ’n liefdevolle persoon, maar wanneer ek depressief is, gee ek vir niks of niemand om nie”, sê Julia.

Anna en Julia was in hulle vroeë tienerjare toe hulle die eerste keer depressief begin voel het. Party jongmense voel dalk nou en dan hartseer, maar Anna en Julia het tye van depressie gehad wat weke of selfs maande lank aangehou het. Anna sê: “Dis soos om in ’n diep, donker gat te wees, en ’n mens kan nie daar uitkom nie. Jy voel asof jy van jou kop af raak, asof jy nie meer weet wie jy is nie.”

Anna en Julia is nie die enigstes wat so voel nie. Al hoe meer jongmense word met depressie gediagnoseer. Dit is “die hoofrede waarom seuns en meisies tussen die ouderdom van 10 en 19 siek word en nie met hulle daaglikse lewe kan aangaan nie”, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

Die simptome van depressie kan gedurende die tienerjare voorkom en kan veranderinge in slaappatrone, eetlus en gewig veroorsaak. Hierdie jongmense voel dalk ook desperaat, moedeloos, hartseer en waardeloos. Ander tekens sluit in dat die persoon hulle van hulle vriende onttrek en dit moeilik vind om te konsentreer of vergeetagtig is. Hulle oorweeg of probeer dalk om selfmoord te pleeg en het simptome wat dokters nie kan verduidelik nie. Wanneer deskundiges vermoed dat iemand aan depressie ly, kyk hulle gewoonlik of hy meer as een simptoom het wat weke lank aanhou en of dit sy daaglikse lewe ontwrig.

MOONTLIKE REDES VIR DEPRESSIE

Volgens die WGO kan ’n kombinasie van baie faktore tot depressie lei. Dit kan veroorsaak word deur stres, die manier waarop iemand behandel word of ander fisiese faktore. Kom ons kyk na ’n paar oorsake.

Fisiese faktore. Soos in Julia se geval, kan depressie oorerflik wees. ’n Mens se gene kan dus ’n rol speel en moontlik ’n chemiese wanbalans in die brein veroorsaak. Ander fisiese faktore wat tot depressie kan lei, sluit in hartvatsiekte, hormoonvlakke wat verander en dwelmmisbruik. Wanneer iemand oor ’n lang tydperk dwelms misbruik, kan dit nie net depressie veroorsaak nie, maar dit ook vererger. *

Stres. ’n Bietjie stres is nie ’n slegte ding nie. Maar te veel stres kan vir ons fisies en emosioneel baie sleg wees. Hierdie soort stres, tesame met die hormoonveranderinge wat normaalweg in ’n tiener se liggaam plaasvind, kan tot depressie lei. Maar die presiese oorsaak van depressie is nog nie duidelik nie. Dit is dalk ’n kombinasie van faktore.

Die volgende stresvolle situasies kan tot depressie lei: Ouers wat geskei of uitmekaar is, die dood van ’n geliefde, fisiese of seksuele mishandeling, siekte, ’n ernstige ongeluk of ’n leergestremdheid—veral as dit ’n kind verwerp laat voel. Nog iets wat depressie kan veroorsaak, is wanneer ouers te veel van hulle kinders op skool verwag. Ander moontlike oorsake sluit die volgende in: Kinders wat geboelie word, onsekerheid oor die toekoms, ’n depressiewe ouer wat ’n kind afskeep en ouers wat onstabiel en onvoorspelbaar is. Wat kan ’n tiener met depressie help?

SORG VIR JOU LIGGAAM EN VERSTAND

Matige tot ernstige depressie kan gewoonlik behandel word met medikasie en terapie deur ’n gesondheidsdeskundige. * Jesus Christus het gesê: “Dié wat sterk is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel” (Markus 2:17). En siekte kan enige deel van ons liggaam aantas, selfs ons brein! Wat met jou liggaam gebeur, het ’n uitwerking op jou verstand. Daarom is dit dalk nodig om jou leefstyl te verander.

As jy aan depressie ly, moet jy seker maak dat jy vir jou liggaam en verstand sorg. Eet gesonde kos, kry genoeg slaap en oefen gereeld. Wanneer ’n mens oefen, stel dit chemiese stowwe vry wat jou beter kan laat voel, jou meer energie gee en jou beter laat slaap. Probeer uitwerk wat jou depressief laat voel en besluit op ’n plan van aksie. Praat met iemand wat jy vertrou. Hegte familielede en vriende kan jou help om jou depressie te hanteer. Skryf jou gedagtes en gevoelens in ’n dagboek neer. Dit het Julia gehelp, wat vroeër genoem is. Maar die belangrikste ding wat jy kan doen, is om ’n verhouding met God op te bou. Dit kan jou uitkyk op die lewe baie verbeter. Jesus Christus het gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”—Matteus 5:3.

Eet gesond, oefen gereeld en kry genoeg slaap

Dit sal jou vertroos as jy met geestelike dinge besig bly

Anna en Julia stem saam met Jesus se woorde. Anna sê: “Om met geestelike dinge besig te bly, help my om op ander mense te konsentreer, nie net op my eie probleme nie. Dis nie altyd maklik nie, maar dit maak my baie gelukkiger.” Julia word vertroos wanneer sy bid en die Bybel lees. Sy sê: “Dit kalmeer my om uit die hart met God te praat. En die Bybel help my om te sien dat ek kosbaar in God se oë is en dat hy regtig vir my omgee. Wanneer ek die Bybel lees, help dit my ook om positief oor die toekoms te wees.”

Omdat Jehovah God ons geskep het, verstaan hy ten volle dat ons opvoeding, ons ondervindinge in die lewe en ons gene ’n invloed op ons gesindheid en gevoelens het. Daarom kan hy ons die ondersteuning en vertroosting gee wat ons nodig het. Hy doen dit deur mense te gebruik wat verstaan hoe ons voel en simpatie met ons het. Maar die tyd gaan kom wanneer God al ons siektes, of dit nou fisies of emosioneel is, gaan genees. Jesaja 33:24 sê: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”

Ja, God belowe in die Bybel: “Hy sal elke traan van [ons] oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:4). Is hierdie woorde nie vertroostend nie? As jy meer wil weet oor die wonderlike toekoms wat God vir die mens en die aarde belowe, gaan gerus na jw.org. Daar sal jy die Bybel aanlyn kan lees en artikels oor verskillende onderwerpe, insluitende depressie, vind.

^ par. 3 Name is verander.

^ par. 10 Honderde siektes, medisyne en dwelms kan ’n uitwerking hê op hoe ’n persoon voel. Daarom is dit belangrik dat ’n mens na ’n dokter toe moet gaan.

^ par. 14 Ontwaak! staan nie enige spesifieke behandeling of terapie voor nie.