Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Ons is diep geraak om sulke liefde te sien”

“Ons is diep geraak om sulke liefde te sien”

OP Saterdag 25 April 2015 is Nepal, ’n bergagtige land noord van Indië, deur ’n aardbewing van 7,8 geskud. Die aardbewing het die gebied sowat 80 kilometer noordwes van die hoofstad, Katmandoe, getref. Meer as 8 500 mense is in hierdie aardbewing dood. Dit was die dodelikste natuurramp wat nog ooit in Nepal plaasgevind het en meer as ’n halfmiljoen huise is verwoes. Daar is 2 200 Getuies van Jehovah in Nepal en die meeste van hulle het in die rampgebied gewoon. Een Getuie en haar twee kinders is in die aardbewing dood.

Michelle, een van Jehovah se Getuies, sê: “Die aardbewing het gebeur toe die gemeentes hulle Christelike vergaderinge gehad het. As die aardbewing plaasgevind het toe die meeste van ons by die huis was, sou baie meer gesterf het.” Waarom was diegene by die Koninkryksale veilig? Die ontwerp van die Koninkryksale het ’n groot rol hierin gespeel.

“NOU SIEN ONS DIE VOORDELE!”

Die moderne Koninkryksale in Nepal is ontwerp om aardbewings te kan weerstaan. Man Bahadoer, wat betrokke is by die bou van Koninkryksale, sê: “Ons is al baie gevra hoekom ons sulke sterk fondasies vir sulke klein geboue gooi. Nou sien ons die voordele!” Ná die aardbewing is daar goedkeuring gegee dat Koninkryksale as skuilings gebruik kon word. Al was daar naskokke, het Jehovah se Getuies en hulle bure veilig in die Koninkryksale gevoel.

Jehovah se Getuies en hulle bure word in Koninkryksale versorg

Christen- ouer manne het dadelik begin soek na die lede van die gemeente wat vermis was. ’n Getuie met die naam Babita sê: “Die ouer manne het die gemeente eerste gestel. Hulle liefde het ons diep geraak.” Die dag ná die aardbewing het die drie lede van die komitee wat toesig hou oor die werk van Jehovah se Getuies in Nepal, sowel as reisende bedienaars (kringopsieners) gemeentes besoek. Hulle het gaan kyk wat gedoen moet word en het die ouer manne ondersteun.

Gary Breaux, van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies, vertroos mense in Nepal

Gary Breaux en sy vrou, Ruby, van die Getuies se wêreldhoofkwartier in die Verenigde State, het ses dae ná die aardbewing in Nepal aangekom. “Omdat daar soveel chaos in Katmandoe was en daar boonop naskokke was, was ons nie seker of broer Breaux hier sou uitkom nie”, het Reuben, ’n lid van die bogenoemde komitee, gesê. “Maar hy was vasbeslote om te kom! Die plaaslike Getuies het sy besoek baie waardeer.”

‘ONS HET NADER GEVOEL AS OOIT TEVORE’

Silas, wat by die Getuies se kantoor in Nepal werk, het gesê: “Toe die telefone weer werk, het dit dag en nag gelui! Getuies van regoor die wêreld was bekommerd oor ons. Al kon ons nie almal se taal verstaan nie, kon ons aanvoel hoe lief hulle vir ons is en dat hulle ons wou help.”

’n Mediese span van Getuies uit Europa behandel beseerdes

Die plaaslike Getuies het ná die aardbewing kos na die Koninkryksale gebring om dit met ander te deel. ’n Noodlenigingskomitee is ook gestig en kort daarna het voorrade van Bangladesj, Indië en Japan ingestroom. ’n Mediese span van Getuies uit Europa het gekom en by ’n Koninkryksaal die beseerdes behandel. Hulle het dadelik aan die werk gespring, en nie net die mense se beserings behandel nie, maar hulle ook gehelp om die trauma te verwerk.

Oettara het gesê hoe baie voel: “Die aardbewing was verskriklik en ons was doodbang. Maar daarna het ons nader aan ons broers gevoel as ooit tevore.” Ja, die aardbewing het glad nie hulle liefde vir Jehovah of vir mekaar verswak nie. Dit het dit eerder versterk.