Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glimlag—Dit sal almal se dag ophelder

Glimlag—Dit sal almal se dag ophelder

HOE voel jy as iemand vir jou glimlag? Jy kan nie help om terug te glimlag nie. En jy voel ook gelukkig. Ja, ’n opregte glimlag is aansteeklik en laat jou goed voel. ’n Vrou met die naam Magdalena sê: “Georg, my oorlede man, het ’n baie mooi glimlag gehad. Wanneer hy na my gekyk het, het dit my veilig en kalm laat voel.”

Mense glimlag wanneer hulle positiewe gevoelens ervaar soos om iets snaaks te vind, gelukkig te wees of iets te geniet. Dit is “asof ons gebore is met die vermoë om te glimlag”, sê ’n artikel in Observer, ’n aanlyn tydskrif van die Association for Psychological Science. Volgens die artikel weet selfs pasgebore babas wat gesigsuitdrukkings beteken. Dit het ook gesê: “’n Glimlag dra nie net nuttige inligting aan mense oor nie; dit help hulle ook om te weet hoe hulle moet optree.”

Navorsers by Harvard-universiteit in die Verenigde State het ’n studie gedoen op ’n groep bejaarde pasiënte. Hulle het gekyk hoe die groep op die gesigsuitdrukkings van gesondheidswerkers reageer. Die navorsers het gesê dat die pasiënte gelukkiger en beter gevoel het wanneer hulle die vriendelikheid, besorgdheid en empatie op die gesigte van die versorgers gesien het. Maar wanneer die versorgers se gesigsuitdrukkings en lyftaal koud was teenoor die pasiënte, het dit die teenoorgestelde uitwerking gehad.

Wanneer jy glimlag, kan dit ook vir jou goed wees. Volgens studies gee dit jou meer selfvertroue, laat dit jou gelukkiger voel en verminder dit jou stres. Maar wanneer jy frons, kan dit die teenoorgestelde uitwerking hê.

‘HULLE GLIMLAG HET MY BETER LAAT VOEL’

Magdalena, wat vroeër genoem is, was een van Jehovah se Getuies gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Sy en haar gesin is na Ravensbrück-konsentrasiekamp in Duitsland gestuur omdat hulle nie die Nazi’s wou ondersteun nie. Sy het gesê: “Partykeer het die wagte ons verbied om met mekaar te praat. Maar hulle het geen beheer oor ons gesigsuitdrukkings gehad nie. Wanneer my ma en my suster vir my glimlag het, het dit my sommer beter laat voel en het dit my gehelp om te volhard.”

Miskien voel jy dat jy soveel probleme het dat jy niks het om oor te glimlag nie. Maar onthou, waaraan jy dink, beïnvloed hoe jy voel (Spreuke 15:15; Filippense 4:8, 9). Probeer liewer om aan positiewe en aangename dinge te dink, al is dit moeilik. * Bybellees en gebed het al baie mense hiermee gehelp (Matteus 5:3; Filippense 4:6, 7). Woorde soos “gelukkig” en “vreugde” kom honderde kere in die Bybel voor! Probeer om elke dag ’n bladsy of twee te lees. Wie weet, dalk help dit jou om meer te glimlag.

Moenie wag dat ander eers vir jou glimlag nie. Neem die eerste stap en helder iemand se dag op. Jou glimlag is ’n gawe van God wat jou en ander gelukkiger kan maak.

^ par. 8 Sien ook die artikel “Het jy ‘voortdurend ’n feesmaal’?” in die Ontwaak! van November 2013.