Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ONDERHOUD | HANS KRISTIAN KOTLAR

’n Biotegnoloog verduidelik waarom hy aan God glo

’n Biotegnoloog verduidelik waarom hy aan God glo

In 1978 het dr. Hans Kristian Kotlar wetenskaplike navorsingswerk by die Noorweegse Radiumhospitaal begin doen, waar hy kanker en die mens se immuunstelsel bestudeer het. Hy het destyds ook in die oorsprong van lewe begin belangstel. Ontwaak! het met hom gesels oor sy navorsing en sy geloof.

Wat het jou belangstelling gewek in die oorsprong en die doel van die lewe?

My pa was ’n Katoliek, en my ma ’n Protestant. Maar godsdiens was nie vir hulle belangrik nie. Ek het egter gedurende my tienerjare oor die doel van die lewe gewonder, en ek het boeke oor Boeddhisme, Hindoeïsme en Islam gelees. Ek het God selfs gevra om die waarheid aan my te openbaar.

Teen die 1970’s was daar al geweldige vooruitgang op die gebied van molekulêre biologie gemaak, en ek het gewonder of dit dalk sal toon hoe lewe ontstaan het. Ek het baie in die meganismes in lewende selle belanggestel, en daarom het ek besluit om biotegnologie te studeer. Ek wil byvoeg dat die meeste van my professors gesê het dat lewe deur middel van natuurlike prosesse geëvolueer het, en ek het hulle geglo.

Waarom het jy in die Bybel begin belangstel?

Twee Getuies van Jehovah het aan ons deur geklop. Hoewel hulle vriendelik was, was ek onbeskof en het ek vir hulle gesê dat ek nie belangstel nie. My vrou het my gehoor. “Dit was nie mooi nie, Hans Kristian”, het sy gesê. “Jy het nog altyd in die doel van die lewe belanggestel.” Sy was reg, en ek het skaam gevoel. Daarom het ek agter die Getuies aan gehardloop. Terwyl ons gesels het, het ek hulle gevra of die Bybel met die wetenskap ooreenstem.

Hoe het hulle geantwoord?

Hulle het my gewys wat die Bybel sê oor die Bron van die energie waarvan ons bewyse in die heelal sien. Die teks wat hulle gelees het, sê: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? . . . Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek  nie een van hulle nie.” * Hierdie teks was vir my baie interessant. Dit het ook vir my redelik gelyk dat net ’n intelligente Bron van energie vir die orde in die heelal verantwoordelik kan wees.

Het jou beskouing van evolusie verander?

Ek het begin besef dat die verskillende evolusieteorieë nie deur wetenskaplike bewyse gestaaf kan word nie. Trouens, dit is in werklikheid stories wat versin is om te verduidelik hoe die merkwaardige stelsels in lewende dinge, soos die immuunstelsel, deur middel van ’n verstandelose proses kon ontstaan het. Hoe meer ek die immuunstelsel bestudeer het, hoe meer het ek besef hoe kompleks en doeltreffend dit werklik is. My navorsing het my dus tot die slotsom laat kom dat lewe aan ’n intelligente Skepper te danke is.

My navorsing het my tot die slotsom laat kom dat lewe aan ’n intelligente Skepper te danke is

Wat het jou oortuig dat die immuunstelsel ontwerp is?

Die immuunstelsel is eintlik ’n verstommende versameling meganismes wat ontwerp is om ons teen ’n groot verskeidenheid agense, insluitende bakterieë en virusse, te beskerm. Die meganismes kan in twee aanvullende stelsels verdeel word. Die eerste stelsel loods binne ure ’n aanval teen invallende mikrobes. Die tweede stelsel reageer eers ná ’n paar dae, maar is doeltreffender wanneer spesifieke indringers aangeval word. Hierdie tweede stelsel het ook ’n goeie geheue, en daarom sal ’n spesifieke indringer wat dalk jare later terugkeer, onmiddellik aangeval word. Die hele stelsel werk so goed dat jy dikwels nie eers agterkom dat jy aangeval en doeltreffend verdedig is nie. Dit is ook verstommend dat die immuunstelsel kan onderskei tussen vreemde stowwe en die honderde soorte selle waaruit ons liggaam bestaan.

Wat gebeur wanneer ’n mikrobe ons liggaam binnedring?

Mikrobes sluip in deur die kos wat ons eet, die lug wat ons inasem, ons urogenitale kanaal of stukkende plekkies op ons vel. Wanneer die immuunstelsel bespeur dat daar indringers is, stel dit ’n reeks reaksies in werking waarby tientalle noukeurig ontwerpte proteïene betrokke is. Elke stap in hierdie reeks sit die volgende stap aan die gang wat die teenaanval versterk. Die proses is verstommend!

Sal jy sê dat jou kennis van die wetenskap jou geloof in God versterk het?

Beslis! Die feit dat ons immuunstelsel so doeltreffend en kompleks is, dui op ’n wyse en liefdevolle Skepper. Ek wil byvoeg dat die wetenskap ook my geloof in die Bybel versterk het. Spreuke 17:22 sê byvoorbeeld dat ‘’n vreugdevolle hart ’n goeie geneesmiddel is’. Navorsers het uitgevind dat ons immuunstelsel deur ons gemoedstoestand beïnvloed kan word. Stres kan byvoorbeeld ons immuunreaksie verswak.

Baie van die mense wat jy ken, glo nie aan God nie. Waarom nie?

Daar is verskeie redes. Party mense aanvaar eenvoudig wat hulle geleer is, soos met my die geval was. Hulle neem dalk aan dat evolusie deur goeie wetenskap gestaaf word. Ander dink nie juis aan hoe lewe begin het nie. Dit is ’n jammerte. Ek dink hulle behoort meer vrae te vra.

Waarom het jy een van Jehovah se Getuies geword?

Ek is aangetrek deur hulle gasvryheid en hulle geloof in die Skepper se belofte van ’n beter toekoms. * En hierdie geloof berus op navorsing en grondige redenasies, nie op mites of bespiegeling nie. *