Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | JONGMENSE

Wanneer ’n verhouding eindig

Wanneer ’n verhouding eindig

DIE UITDAGING

“Ek het gedink dat ek die regte persoon vir my gevind het. ‘Dié ou is troumateriaal’, het ek vir myself gesê. Maar nadat ons twee maande lank uitgegaan het, moes ek die verhouding verbreek. Ek kon nie glo dat iets wat so wonderlik begin het, so vinnig geëindig het nie!”—Anna. *

“Dit het gevoel asof ons alles in gemeen het. In my gedagtes was ons alreeds getroud. Maar mettertyd het ek begin besef hoe anders ons is. Toe ek sien wat ’n groot fout ek maak, het ek die verhouding beëindig.”—Elaine.

Het iets soortgelyks al met jou gebeur? Indien wel, kan hierdie artikel jou help om dit te verwerk.

WAT JY MOET WEET

As ’n verhouding eindig, kan dit pynlik wees, selfs vir die persoon wat dit beëindig het. “Ek het verskriklik gevoel!”, sê ’n jong vrou met die naam Sarah, wat die verhouding met haar kêrel ná ses maande beëindig het. “Die een oomblik was hierdie persoon deel van my lewe en my toekoms; die volgende oomblik was hy weg. Wanneer ek dan liedjies gehoor het wat vir ons spesiaal was, het dit my aan die goeie tye herinner. En as ek na plekke gegaan het wat vir ons spesiaal was, het ek hom verskriklik gemis. Dit alles terwyl ék die een was wat die verhouding verbreek het!”

Hoewel dit pynlik is om ’n verhouding te verbreek, kan dit ’n goeie ding wees. “Jy wil die persoon nie seermaak nie”, sê Elaine. “Aan die ander kant besef jy dat dit julle albei sal seermaak as julle in ’n verhouding bly wat eenvoudig nie werk nie.” Sarah stem saam. “As jy nie gelukkig is met iemand terwyl jy met hom uitgaan nie, sal jy heel moontlik nie gelukkig wees wanneer jy met hom getroud is nie. Dan is dit beter om die verhouding te verbreek”, sê sy.

’n Mislukte verhouding maak nie van jou ’n mislukking nie. In werklikheid lei ’n suksesvolle verhouding tot ’n besluit, nie altyd tot ’n huwelik nie. As jy of jou maat ernstige bedenkinge het, is die regte besluit dalk om die verhouding te beëindig. As dit gebeur, beteken die feit dat die verhouding misluk het, nie dat jy misluk het nie. Jy kan weer gelukkig wees! Hoe?

WAT JY KAN DOEN

Erken jou gevoelens. “Ek het nie net ’n vriend verloor nie; ek het my beste vriend verloor”, sê Elaine, wat aan die begin aangehaal is. Wanneer julle so na aan mekaar was en die verhouding eindig, is dit normaal om ’n tyd lank te treur. “Wanneer ’n verhouding eindig”, sê ’n jong man met die naam Adam, “sal dit altyd ’n mate van pyn veroorsaak, selfs as julle weet dat dit die beste besluit is.” Jy sal dalk voel soos koning Dawid in die Bybel gevoel het. “Ek huil die hele nag deur”, het hy geskryf toe hy ’n moeilike tyd deurgemaak het (Psalm 6:6; Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Soms is dit beter om nie die pyn te probeer vermy nie, maar te aanvaar dat dit normaal is om hartseer te voel. Om die werklikheid van jou eie gevoelens te erken, is dikwels die eerste stap tot genesing.—Bybelbeginsels: Psalm 4:4.

Assosieer met mense wat vir jou omgee. Dit is dalk nie altyd maklik nie. “Aan die begin wou ek nie eens mense sien nie”, erken Anna, wat vroeër aangehaal is. “Ek het tyd nodig gehad om te herstel; om oor alles te dink en daarvan sin te maak.” Maar ná ’n ruk het Anna besef dat dit verstandig is om tyd deur te bring met hegte vriende wat haar kan opbou. “Ek voel nou beter”, sê sy, “ek voel nie so verpletter soos voorheen nie.”—Bybelbeginsel: Spreuke 17:17.

Leer uit wat gebeur het. Vra jou af: ‘Het hierdie ondervinding enigiets aan die lig gebring waaraan ek moet werk? Wat sal ek anders doen in my volgende verhouding?’ “Nadat tyd verloop het, kon ek beter ontleed wat gebeur het”, sê ’n jong vrou met die naam Marcia. Sy sê dat dit tyd geneem het voordat sy haar emosies opsy kon skuif en helder oor dinge kon dink. Adam, wat vroeër gemeld is, voel ook so. Hy sê: “Dit het my ’n jaar geneem om oor dit te kom. Dit het my selfs langer geneem om te sien wat ek uit die ondervinding kon leer. Wat ek deurgemaak het, het my baie geleer oor myself, die teenoorgestelde geslag en verhoudings. Ek voel glad nie meer so hartseer wanneer ek daaraan dink nie.”

Bid oor jou gevoelens. Die Bybel sê van God: “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle pynlike plekke” (Psalm 147:3). Hoewel God nie vir ons ’n maat kies nie—en ook nie blameer kan word wanneer ’n verhouding eindig nie—stel hy in jou welsyn belang. Stort jou gevoelens in gebed voor hom uit.—Bybelbeginsel: 1 Petrus 5:7.

^ par. 4 Van die name in hierdie artikel is verander.