Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Verdraagsaamheid

Verdraagsaamheid

Aanvaarding, vergifnis en verdraagsaamheid bevorder vreedsame verhoudings. Maar moet verdraagsaamheid perke hê?

Wat is die sleutel tot groter verdraagsaamheid?

DIE WERKLIKHEID

Onverdraagsaamheid kom regoor die wêreld voor en word vererger deur dinge soos rasse- en etniese vooroordeel, nasionalisme, stamtrots en godsdiensekstremisme.

WAT DIE BYBEL SÊ

Gedurende Jesus Christus se bediening was onverdraagsaamheid iets algemeens. Veral Jode en Samaritane het mekaar gehaat (Johannes 4:9). Vroue is as minderwaardig behandel. En Joodse godsdiensleiers het die gewone mense verag (Johannes 7:49). Jesus Christus was opvallend anders. “Hierdie man verwelkom sondaars en eet saam met hulle”, het sy teenstanders gesê (Lukas 15:2). Jesus was goedhartig, geduldig en verdraagsaam omdat hy gekom het, nie om mense te oordeel nie, maar om hulle geestelik te genees. Liefde was sy grootste motivering.—Johannes 3:17; 13:34.

Jesus, die beste voorbeeld van verdraagsaamheid, het gekom, nie om mense te oordeel nie, maar om hulle geestelik te genees

Liefde, die sleutel tot groter verdraagsaamheid, sluit ons hart vir ander oop, ongeag hulle onvolmaakthede of eienaardighede. Kolossense 3:13 sê: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het.”

“Bo alles moet julle intense liefde vir mekaar hê, want die liefde bedek ’n menigte sondes.”1 Petrus 4:8.

Waarom moet verdraagsaamheid perke hê?

DIE WERKLIKHEID

Die meeste gemeenskappe probeer om wet en orde te handhaaf. As gevolg hiervan stel hulle gewoonlik redelike perke aan hoe ’n persoon hom moet gedra.

WAT DIE BYBEL SÊ

“[Die liefde] gedra hom nie onwelvoeglik nie” (1 Korintiërs 13:5). Hoewel Jesus die beste voorbeeld van verdraagsaamheid was, het hy nie onwelvoeglikheid, huigelary en ander vorme van slegtheid verskoon nie. Inteendeel, hy het sulke dinge skerp veroordeel (Matteus 23:13). “Hy wat veragtelike dinge beoefen, haat die lig [van die waarheid]”, het hy gesê.—Johannes 3:20.

Die Christenapostel Paulus het geskryf: “Verafsku wat goddeloos is, hou vas aan wat goed is” (Romeine 12:9). Hy het in ooreenstemming met hierdie woorde gelewe. Toe sekere Joodse Christene hulle byvoorbeeld van die nie-Joodse gelowiges afgesonder het, het Paulus—wat self ’n Jood was—hom ferm maar op liefdevolle wyse daarteen uitgespreek (Galasiërs 2:11-14). Hy het geweet dat God, wat “nie partydig is nie”, geen rassevooroordeel onder Sy volk sou duld nie.—Handelinge 10:34.

As Christene vertrou Jehovah se Getuies op die Bybel vir sedelike leiding (Jesaja 33:22). Daarom laat hulle nie goddeloosheid in hulle midde toe nie. Die rein Christengemeente moenie verderf word deur mense wat God se standaarde opsystoot nie. Om hierdie rede gehoorsaam die Getuies die Bybel se duidelike opdrag: “Verwyder die goddelose mens onder julle uit.”—1 Korintiërs 5:11-13.

“O  julle wat Jehovah liefhet, haat die kwaad.”Psalm 97:10.

Sal God vir ewig slegtheid verdra?

WAT BAIE MENSE GLO

As gevolg van die menslike natuur sal slegtheid altyd bestaan.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die profeet Habakuk het tot Jehovah God gebid en gevra: “Waarom kyk u toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei” (Habakuk 1:3, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). God het sy angstige profeet in geen twyfel gelaat nie. Hy het hom verseker dat Hy wel van die goddeloses rekenskap sal eis. God het omtrent daardie belofte gesê: “Dit sal vir seker uitkom. Dit sal nie laat wees nie.”—Habakuk 2:3.

Intussen het oortreders die geleentheid om hulle slegte weg te verlaat. Esegiël 18:23 sê: “‘Skep ek enigsins behae in die dood van ’n goddelose’, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah, ‘en nie daarin dat hy hom afkeer van sy weë en bly lewe nie?’” Diegene wat na Jehovah soek deur hulle slegte weg te verlaat, kan die toekoms met vertroue tegemoetgaan. “Wat die een betref wat na my luister, hy sal in veiligheid woon en nie deur vrees vir rampspoed versteur word nie”, sê Spreuke 1:33.

“Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie . . . Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”Psalm 37:10, 11.