Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Miljoene eksemplare van die geletterdheidshulp Lê jou toe op lees en skryf is al in meer as 100 tale gedruk

Bybelonderrig bevorder geletterdheid

Bybelonderrig bevorder geletterdheid

“Geletterdheid is ’n mensereg, ’n middel tot persoonlike bemagtiging en sosiale en menslike ontwikkeling.”—UNESCO. *

VOLGENS berigte is daar wêreldwyd meer as 700 miljoen mense van 15 jarige ouderdom en ouer wat nie kan lees en skryf nie. As gevolg hiervan het hulle geen toegang tot die geweldige groot skatkis van kennis, insluitende die uitstekende sedelike en geestelike leringe wat in die Bybel “tot ons onderrigting geskryf [is]” nie (Romeine 15:4). Om hierdie rede sluit die Bybelonderrigtingswerk van Jehovah se Getuies in ’n aantal lande ’n lees-en-skryf-program in—en dit is gratis. Is die program suksesvol?

Neem die werk van Jehovah se Getuies in Mexiko, ’n land waar die meeste mense Spaans praat. Sedert die jaar 1946 het die Getuies al meer as 152 000 mense geleer om te lees en skryf, en baie van die studente het later self onderrigters geword. Die regering het al baie briewe aan die Getuies gestuur ter erkenning van hulle werk. Een brief sê: “Die Algemene Raad vir Onderwys wil julle bedank en geluk toewens vir julle samewerking in die ontwikkeling van die Onderwysprogram vir Volwassenes.”

Jonk sowel as oud het by hierdie lees-en-skryf-program baat gevind. Josefina was byvoorbeeld 101 jaar oud toe sy hierdie kursus begin volg het, en sy het dit binne twee jaar suksesvol voltooi!

Hoewel Mexiko se hooftaal Spaans is, is dit nie die enigste taal waarin lees-en-skryf-klasse gehou word nie. In die jaar 2013 het mense uit agt inheemse groepe met behulp van hierdie program geleer om in hulle moedertaal te lees en skryf.

Geletterdheid is inderdaad ’n kosbare vaardigheid wat ’n mens die geleentheid bied om talle nuwe dinge te leer. Maar bowenal maak geletterdheid dit vir alle soorte mense moontlik om die Bybel te lees—’n boek wat deur God geïnspireer is en hulle van slawerny aan bygelowe, valse godsdiensoortuigings en skadelike gedrag kan verlos.—Johannes 8:32.

^ par. 2 Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie.