Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Die hemel

Die hemel

Daar is allerhande idees oor die hemel, en dit is iets waaroor mense verskillende opinies het. Maar wat die Bybel daaroor sê, is anders as wat baie mense geleer is.

Wat is die hemel?

WAT PARTY MENSE SÊ

Daar is talle verskillende opvattings oor die hemel en die doel daarvan. Byvoorbeeld:

  • Baie verklaarde Christene sal saamstem met die New Catholic Encyclopedia wat sê dat die hemel “die uiteindelike tuiste is van die geseëndes wat in die Here sterf”.

  • Volgens rabbi Bentzion Kravitz fokus Judaïsme meer op die teenswoordige lewe as op die lewe ná die dood. Maar hy sê dat “die siel die grootste moontlike genot in die hemel ervaar—’n groter begrip en gevoel van nabyheid aan God as vantevore”. Kravitz erken: “Hoewel Jode aan die hemel glo, word dit baie min in die Tora genoem.”

  • Hindoes en Boeddhiste glo dat die hemel op meer as een geestelike vlak bestaan. Dit is ’n tydelike woning, en daarna word ’n persoon óf op die aarde herbore, óf hy gaan oor na nirwana—’n toestand hoër as die hemel.

  • Party glo weer glad nie aan die hemel nie en sê dat die hele idee ’n kinderagtige storie is.

Daar is allerhande idees oor die hemel

WAT DIE BYBEL LEER

In die Bybel het die woord “hemel” meer as een betekenis. Byvoorbeeld:

  • Genesis 1:20 beskryf die skepping van voëls en sê dat hulle “oor die aarde in die uitspansel van die hemel vlieg”. In hierdie geval verwys die woord “hemel” na ons atmosfeer, die sigbare hemelruim.

  • Jesaja 13:10 meld “die sterre van die hemel”—dit is wat ons die buitenste ruimte noem.

  • Die Bybel praat van God se ‘woonplek in die hemel’ en sê dat daar “engele in die hemel” is (1 Konings 8:30; Matteus 18:10). Let op dat die woord “hemel” nie net beeldspraak is nie, maar eerder na ’n werklike woonplek verwys. *

“Kyk vanuit die hemel en aanskou uit u verhewe woning van heiligheid en luisterrykheid.”Jesaja 63:15.

Gaan alle goeie mense hemel toe wanneer hulle sterf?

Die Bybel leer nie dat die aarde bloot ’n tydelike tuiste is waar ons op die dood wag en dat ons daarna hemel toe gaan nie. Die Bybel sê duidelik dat die dood nooit deel was van God se oorspronklike voorneme met die mens nie. Dink hieraan:

  • God het vir die eerste mensepaar gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde” (Genesis 1:28). Die aarde sou die mens se permanente tuiste wees waar hy vir ewig kon woon. Die eerste man en vrou sou slegs sterf as hulle ongehoorsaam was aan God. Ongelukkig het hulle gekies om ongehoorsaam te wees.Genesis 2:17; 3:6.

  • Daardie eerste man se ongehoorsaamheid het gelei tot die dood, nie net vir hom en sy vrou nie, maar ook vir hulle nakomelinge (Romeine 5:12). Was die mensdom sonder enige hoop?

  • Die Bybel sê: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag” (2 Petrus 3:13). * Deur middel van sy Koninkryk sal God sy voorneme met die aarde vervul, “en die dood sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:3, 4). Verwys dit na wat in die hemel of op die aarde sal gebeur? As iets ‘nie meer daar is nie’, moes dit eens op ’n tyd daar gewees het. Maar die dood het nog nooit in die hemel bestaan nie. Die vers moet dus verwys na wat op die aarde sal gebeur, die plek waar ons veronderstel is om te lewe en waar ons graag saam met ons dierbares wil wees. Die Bybel wys dat die dooies weer sal lewe en met hulle dierbares herenig sal word.Johannes 5:28, 29.

Vir baie mense is wat die Bybel werklik oor die hemel leer, iets wonderliks. ’n Voormalige Katoliek genaamd George sê byvoorbeeld: “Die Bybellering van die ewige lewe op aarde was vir my vertroostend. Dit het meer sin gemaak as om hemel toe te gaan.” *

“Wat die hemel betref, aan Jehovah behoort die hemel, maar die aarde het hy aan die mensekinders gegee.”Psalm 115:16.

^ par. 13 God is natuurlik ’n gees; hy het nie ’n fisiese liggaam nie (Johannes 4:24). Sy woonplek moet dus ’n geesteryk wees wat nie deel is van ons fisiese heelal nie.

^ par. 19 Die woorde “nuwe aarde” verwys nie na ’n letterlike nuwe planeet nie; dit verwys eerder simbolies na ’n mensegemeenskap wat op die aarde lewe en God se goedkeuring geniet.Psalm 66:4.

^ par. 20 Die Bybel leer dat ’n beperkte aantal mense—144 000—onder God se Koninkryk saam met Jesus in die hemel sal regeer.1 Petrus 1:3, 4; Openbaring 14:1.