Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat weet jy van Jehovah se Getuies?

Wat weet jy van Jehovah se Getuies?

Jy sien ons wanneer ons vir mense preek. Miskien het jy koerantberigte oor ons gelees of by ander mense dinge oor ons gehoor. Maar hoeveel weet jy regtig van Jehovah se Getuies?

TOETS JOU KENNIS

Merk die volgende waar of onwaar.

WAAR ONWAAR

  1. Jehovah se Getuies is Christene.

  2. Jehovah se Getuies is voorstanders van die skeppingsleer.

  3. Jehovah se Getuies glo nie in dokters nie.

  4. Jehovah se Getuies aanvaar die hele Bybel.

  5. Jehovah se Getuies gebruik net hulle eie Bybelvertaling.

  6. Jehovah se Getuies het hulle Bybel verander om hulle te pas.

  7. Jehovah se Getuies weier om by die gemeenskap betrokke te raak.

  8. Jehovah se Getuies sien neer op mense van ander godsdienste.

Sien die volgende bladsye vir die antwoorde.

  1. 1 WAAR. Ons probeer die leringe en voorbeeld van Jesus Christus noukeurig volg (1 Petrus 2:21). Maar ons verskil in ’n aantal opsigte van ander groepe wat Christelike godsdienste genoem word. Byvoorbeeld, ons glo dat die Bybel leer dat Jesus die Seun van God is, nie deel van ’n Drie-eenheid nie (Markus 12:29). Ons glo nie dat die siel onsterflik is nie, dat daar enige skriftuurlike grondslag is om te sê dat God mense vir ewig in die hel pynig nie of dat diegene wat die leiding in godsdiensbedrywighede neem, titels behoort te hê wat hulle bo ander verhef nie.Prediker 9:5; Esegiël 18:4; Matteus 23:8-10.

  2. 2 ONWAAR. Ons glo dat God alles geskep het. Maar ons stem nie saam met die skeppingsleer nie. Waarom nie? Omdat ’n aantal aspekte van die skeppingsleer in werklikheid met die Bybel bots. Party beweer byvoorbeeld dat die ses skeppingsdae letterlike dae van 24 uur was. Maar die woord “dag” in die Bybel kan na ’n lang tyd verwys (Genesis 2:4; Psalm 90:4). Party voorstanders van die skeppingsleer sê ook dat die aarde net ’n paar duisend jaar oud is. Maar volgens die Bybel het die aarde en die heelal lank voor die ses skeppingsdae bestaan. 1Genesis 1:1.

  3. 3 ONWAAR. Ons aanvaar wel mediese behandeling. Trouens, soos die eerste-eeuse Christen Lukas, is party van ons dokters (Kolossense 4:14). Maar ons verwerp enige behandeling wat met Bybelbeginsels bots. Ons aanvaar byvoorbeeld nie bloedoortappings nie omdat die Bybel ons verbied om bloed in te neem.Handelinge 15:20, 28, 29.

    Maar ons wil nogtans die heel beste mediese sorg vir onsself en ons gesinne hê. Trouens, bloedbesparingstegnieke wat ontwikkel is om Getuiepasiënte te help, word nou tot voordeel van almal in die gemeenskap gebruik. In baie lande kan enige pasiënt nou kies om die gevare van bloedoortappings te vermy, soos siektes wat deur bloed oorgedra word, immuunreaksies en menslike foute.

  4. 4 WAAR. Ons glo dat die hele Bybel ‘deur God geïnspireer en nuttig is’ (2 Timoteus 3:16). Dit sluit die Ou Testament sowel as die Nuwe Testament in, soos dit oor die algemeen genoem word. Gewoonlik verwys ons na hierdie dele van die Bybel as die Hebreeuse Geskrifte en die Christelike Griekse Geskrifte. Ons doen dit omdat ons nie die indruk wil skep dat sekere dele van die Bybel verouderd of nie van toepassing is nie.

  5. 5 ONWAAR. Ons gebruik baie vertalings wanneer ons die Bybel studeer. Maar in tale waarin dit wel beskikbaar is, het ons groot waardering vir die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif omdat dit God se naam gebruik en akkuraat en duidelik is. Kom ons kyk na die gebruik van God se naam, Jehovah. In die voorwoord van een Bybelvertaling is daar ’n lys van die name van 79 persone wat op die een of ander manier tot die publisering daarvan bygedra het. Tog laat hierdie einste Bybel die naam van die Outeur—Jehovah God—weg! In teenstelling hiermee herstel die Nuwe Wêreld-vertaling God se naam op die duisende plekke waar dit in die oorspronklike teks verskyn het. 2

  6. 6 ONWAAR. Wanneer ons besef het dat ons oortuigings nie heeltemal met die Bybel ooreenstem nie, het ons ons oortuigings verander. Lank voordat ons die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in 1950 begin publiseer het, het ons die beskikbare vertalings gebruik en ons oortuigings in ooreenstemming daarmee gevorm.

  7. 7 ONWAAR. Ons bediening strek baie mense in die gemeenskap tot voordeel. Ons het al baie mense gehelp om skadelike gewoontes, soos dwelm- en alkoholmisbruik, te oorkom. Ons help duisende mense regoor die wêreld om te leer lees en skryf. Ons help mense ook wanneer daar ’n ramp is deur praktiese hulp te verleen aan Getuies sowel as mense wat nie Getuies is nie. Ons probeer mense die emosionele en geestelike ondersteuning gee wat hulle so dringend in sulke tye nodig het. 3

  8. 8 ONWAAR. Ons volg die Bybel se raad om “alle mense [te] respekteer”—ongeag hulle godsdiensoortuigings (1 Petrus 2:17, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Byvoorbeeld, in party lande is daar honderdduisende van ons. Nogtans probeer ons nie druk op politici of wetgewers uitoefen om die werk van ander godsdiensgroepe te beperk of te verbied nie. Ons voer ook nie veldtogte sodat wette gemaak word wat ons sedelike en godsdiensoortuigings op die gemeenskap sal afdwing nie. Inteendeel, ons is net so verdraagsaam teenoor ander as wat ons wil hê hulle teenoor ons moet wees.Matteus 7:12.

Hierdie artikel bevat inligting wat op ons amptelike webwerf, jw.org, verskyn. Vir meer inligting, gaan na OMTRENT ONS > ALGEMENE VRAE.

^ 1. Anders as party voorstanders van die skeppingsleer, het ons dus geen beswaar teen betroubare wetenskaplike navorsing wat toon dat die aarde miljarde jare oud kan wees nie.

^ 2. Wat die Nuwe Wêreld-vertaling ook noemenswaardig maak, is die feit dat dit gratis versprei word. Gevolglik kan miljoene die Bybel in hulle moedertaal lees. Die Nuwe Wêreld-vertaling is nou beskikbaar in ongeveer 130 tale. Jy kan dit selfs aanlyn lees by jw.org.

^ 3. Een manier waarop ons bydraes gebruik, is om hulp aan rampslagoffers te verleen (Handelinge 11:27-30). Aangesien die werk deur onbetaalde vrywilligers gedoen word, word die geld vir noodleniging en nie vir administratiewe uitgawes gebruik nie.