Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat glo Jehovah se Getuies?

Wat glo Jehovah se Getuies?

Die opvattings van Jehovah se Getuies is geen geheim nie, want hulle lektuur is geredelik beskikbaar in honderde tale. Hieronder is ’n opsomming van ’n paar van hulle vernaamste leerstellings.

1. Die Bybel

Die Getuies glo dat ‘die hele Skrif deur God geïnspireer is’ (2 Timoteus 3:16). Jason D. BeDuhn, ’n medeprofessor in godsdienswetenskap, het geskryf: “[Jehovah se Getuies het] hulle oortuigings en gebruike op die Bybel [gegrond], sonder om vooraf te besluit wat daarin gevind moet word.” Hulle bring hulle oortuigings in lyn met die Bybel; hulle vertolk dit nie om hulle te pas nie. Terselfdertyd besef hulle dat nie alles in die Bybel letterlik opgeneem moet word nie. Die sewe skeppingsdae is byvoorbeeld simbolies en verwys na lang tydperke.—Genesis 1:31; 2:4.

2. Die Skepper

Die ware God het homself ’n naam gegee—Jehovah (of Yahweh, soos die Rooms-Katolieke Jerusalem Bible dit weergee en party hedendaagse geleerdes dit verkies)—wat hom van valse gode onderskei (Psalm 83:18). * Die Hebreeuse vorm van die goddelike naam verskyn ongeveer 7 000 keer in die oorspronklike teks van die Skrif. Jesus het die belangrikheid van hierdie naam in sy modelgebed beklemtoon deur te sê: “Laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). God eis tereg uitsluitlike toegewydheid. Daarom gebruik die Getuies geen ikone of beelde in hulle aanbidding nie.—1 Johannes 5:21.

“Die Vader is groter as ek.”—Johannes 14:28.

3. Jesus Christus

Hy is die Redder, “die Seun van God” en “die eersgeborene van die hele skepping” (Johannes 1:34; Kolossense 1:15; Handelinge 5:31). As ’n wese wat geskep is, is hy nie deel van ’n Drie-eenheid nie. “Die Vader is groter as ek”, het Jesus gesê (Johannes 14:28). Jesus het in die hemel gelewe voordat hy aarde toe gekom het, en ná sy offerdood en opstanding het hy na die hemel teruggekeer. “Niemand kom na die Vader behalwe deur [hom] nie.”—Johannes 14:6.

 4. God se Koninkryk

Dit is ’n werklike hemelse regering met ’n Koning—Jesus Christus—en 144 000 medeheersers, wat “van die aarde gekoop is” (Openbaring 5:9, 10; 14:1, 3, 4; Daniël 2:44; 7:13, 14). Hulle sal heers oor die aarde, wat gereinig sal word van alle goddeloosheid en deur miljoene godvresende mense bewoon sal word.—Spreuke 2:21, 22.

5. Die aarde

Prediker 1:4 sê: “Die aarde bly vir ewig staan” (Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Ná die vernietiging van die goddeloses sal die aarde in ’n paradys omskep word en vir ewig deur regverdige mense bewoon word (Psalm 37:10, 11, 29). Jesus se woorde in gebed, “laat u wil geskied . . . op die aarde”, sal dan vervul wees.—Matteus 6:10.

6. Bybelprofesie

‘God kan nie lieg nie’ (Titus 1:2). Wat hy voorspel, word dus altyd bewaarheid, insluitende die Bybelprofesieë oor die einde van die teenswoordige wêreld (Jesaja 55:11; Matteus 24:3-14). Wie sal die komende vernietiging oorleef? “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”, sê 1 Johannes 2:17.

7. Sekulêre owerhede

“Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort”, het Jesus gesê (Markus 12:17). Gevolglik gehoorsaam Jehovah se Getuies die wette van die land wanneer dit nie bots met God se wette nie.—Handelinge 5:29; Romeine 13:1-3.

“Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:14.

8. Predikingswerk

Jesus het voorspel: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk” sal regoor die aarde verkondig word voordat die teenswoordige wêreld tot ’n einde kom (Matteus 24:14). Jehovah se Getuies beskou dit as ’n eer om aan hierdie lewensreddende werk deel te neem. Mense moet natuurlik self kies of hulle wil luister of nie. Die Bybel sê: “Laat enigeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”—Openbaring 22:17.

9. Doop

Jehovah se Getuies doop slegs diegene wat, op grond van ’n deeglike studie van die Bybel, God as een van sy Getuies wil dien (Hebreërs 12:1). Hulle simboliseer hulle persoonlike toewyding aan God deur in water gedoop te word.—Matteus 3:13, 16; 28:19.

10. Die onderskeid tussen geestelikes en leke

“Julle [is] almal broers”, het Jesus vir sy volgelinge gesê (Matteus 23:8). Die vroeë Christene, insluitende die Bybelskrywers, het nie ’n geestelikeklas gehad nie. Jehovah se Getuies volg hierdie Bybelse patroon.

^ par. 4 Jehovah se Getuies het nie die naam “Jehovah” uitgedink nie. God se naam is eeue gelede in verskeie nie-Bybelse tale, insluitende Engels en Duits, as “Jehovah” weergegee. Ongelukkig het party hedendaagse Bybelvertalers die goddelike naam vervang met titels, soos “God” en “Here”, en sodoende het hulle groot minagting getoon vir die Outeur van die Bybel.