Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat ander al gesê het

Wat ander al gesê het

Frankryk

“Jehovah se Getuies is burgers wat die wette van die Republiek respekteer. . . . Hulle hou geen bedreiging vir die openbare orde in nie. Hulle werk, betaal belasting, neem deel aan die ekonomiese ontwikkeling van ons land en gee vir liefdadigheid. Dit is ’n plesier om hierdie verskeidenheid mense uit alle rasse en lande, wat saam in vrede vergader, te aanskou. . . . As almal Jehovah se Getuies was, sou ons as polisiemanne nie werk gehad het nie.”—Woordvoerder vir ’n Franse polisie-unie.

Die Oekraïne

“Jehovah se Getuies skerp hoë sedelike beginsels by hulle kinders in. Hulle leer hulle kinders om gedrag, dade en selfs gesindhede te vermy wat, [al] word dit in vandag se wêreld as normaal beskou, skadelik vir die kinders self en vir ander kan wees. Hulle waarsku hulle kinders dus teen die gevare van dwelms, rook en alkoholmisbruik. Hulle besef hoe belangrik eerlikheid en harde werk is. . . . Jehovah se Getuies leer hulle kinders sedelike eienskappe, om die owerhede, ander mense en hulle eiendom te respekteer en om wetsgehoorsame burgers te wees.”—The History of Religion in Ukraine, geredigeer deur professor Petro Jarotski.

Italië

“Dertigduisend in stilte by die Olimpiese stadion . . . Geen rommel, geen geraas, geen geskreeu. Dit was gister die toneel by die Olimpiese stadion . . . Geen onwelvoeglike gebare, geen sigarette, geen [koeldrank]blikkies nie. Net oop Bybels, mense wat aantekeninge maak en kinders wat stil sit.”—L’Unità, wat berig gelewer het oor ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Rome.

“Jehovah se Getuies leer hulle kinders sedelike eienskappe . . . en om wetsgehoorsame burgers te wees”

Brittanje

“Die Aartsdeken van Cheltenham het gesê dat [die Anglikaanse Kerk] groepe toegewyde mense nodig het wat rondgaan soos Jehovah se Getuies.”—The Gazette, Bisdom van Gloucester.

 Nederland

Mense wat naby die Koninkryksaal in die stad Leeuwarden bly, het vir die Getuies daar ’n brief gegee wat gesê het: “Ons wil julle prys vir die uitstekende invloed wat julle op die voorkoms van Noorderweg het. Julle lede trek altyd netjies aan, en hulle het baie goeie maniere. Die kinders is soet, die volwassenes parkeer nooit hulle motors onwettig nie, hulle gooi nie rommel in die straat nie, en die terrein om die Koninkryksaal is altyd skoon en netjies. Ons hoop dat julle nog lank ons bure sal wees, want ons is baie bly om julle hier te hê.”

Mexiko

Elio Masferrer, professor en navorser van die Nasionale Skool van Antropologie en Geskiedenis, het gesê dat die Getuies mense gehelp het wat “ernstige gesinskrisisse deurgemaak het, soos verkragting, mishandeling van gesinslede, alkoholisme en dwelmverslawing”. Die Getuies se leringe, het hy gesê, “verleen ook waardigheid aan mense met ’n lae selfbeeld” en maak dit vir hulle moontlik om “groot probleme in die lewe te vermy deur dinge te doen wat God behaag”.—Die koerant Excélsior.

“ . . . Mense uit alle rasse en lande, wat saam in vrede vergader . . .”

Brasilië

’n Koerant het berig: “Die organisasie van Jehovah se Getuies is werklik indrukwekkend. Die plekke waar hulle bymekaarkom, is altyd skoon. Alles is baie goed georganiseer . . . Ná ’n byeenkoms is die plek wat hulle gebruik het, skoner as wat dit was voordat hulle dit gekry het. Gedurende die toesprake is daar absolute stilte. Niemand stoot of stamp mekaar nie. Goeie maniere is aan die orde van die dag. . . . Dit is inderdaad ’n ordelike godsdiens. Hulle weet wat dit beteken om God te aanbid.”—Comércio da Franca.

Jehovah se Getuies glo vas dat die Skepper beter as enigiemand anders weet watter beginsels sy menseskepping moet volg (Jesaja 48:17, 18). Daarom gee die Getuies hom die eer wanneer hulle gedrag positiewe kommentare van ander uitlok. Jesus het gesê: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is.”—Matteus 5:16.