Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Neem kennis van God in—Hoe?

Neem kennis van God in—Hoe?

Neem kennis van God in—Hoe?

Party twyfel dalk of God hom werklik aan mense wil openbaar. As hy dit wel doen, hoe gaan hy te werk?

DIE 16de-eeuse Protestantse Hervormer Johannes Calvyn het tereg tot die slotsom gekom dat mense God nie op hulle eie kan ken nie tensy hy hom aan hulle openbaar. Maar party wonder dalk of God hom werklik aan mense wil openbaar. En as hy dit wel doen, hoe gaan hy te werk?

Jehovah, die “Grootse Skepper”, het ’n rede vir alles wat hy doen. En as “God die Almagtige” is hy heeltemal in staat om sy voornemens te verwesenlik (Prediker 12:1; Eksodus 6:3). Ons kan seker wees dat hy bereid is om sy voornemens aan mense te openbaar, want sy profeet Amos is geïnspireer om te skryf: “Die Soewereine Heer Jehovah sal niks doen tensy hy sy vertroulike saak aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.” Maar let op dat God sy voornemens net aan sy knegte, dié wat hom opreg liefhet, geopenbaar het. Is dit nie logies nie? Aan wie openbaar jy jou vertroulike sake? Aan sommer enigiemand of aan jou naaste vriende?—Amos 3:7; Jesaja 40:13, 25, 26.

God se wysheid en kennis vervul nederiges met ontsag, en dit is heel gepas. Maar meer as ontsag is nodig as ons persoonlik wil baat vind by goddelike wysheid en kennis. Die Bybel beklemtoon dat ons ’n nederige hart moet hê om God se denke te leer: ‘Bewaar my gebooie as ’n skat by jou. Skenk met jou oor aandag aan wysheid. Neig jou hart tot onderskeidingsvermoë. Roep na begrip en verhef jou stem na onderskeidingsvermoë. Bly daarna soek soos na silwer.’—Spreuke 2:1-4.

’n Nederige persoon wat hom so inspan, sal God inderdaad kan leer ken. Daardie gedeelte uit die boek Spreuke sê verder: “Jehovah gee wysheid; uit sy mond kom kennis en onderskeidingsvermoë.” Ja, opregte waarheidsoekers kan “regverdigheid en reg en regskapenheid verstaan, die hele weg van wat goed is”.—Spreuke 2:6-9.

Op soek na die waarheid

The Encyclopedia of Religion sê: “Die mens se lewe word gekenmerk deur die behoefte om ’n onderskeid te tref tussen dit wat werklik en onwerklik, kragtig en kragteloos, eg en oneg, rein en besmet, duidelik en onduidelik is, sowel as die relatiewe grade tussen die twee uiterstes.” Om hierdie behoefte te bevredig, soek mense al lank na die waarheid. Hulle het vooruitgang in hulle soeke gemaak in die mate waarin hulle hulle gewend het tot Jehovah, wat die psalmis “die God van waarheid” noem.—Psalm 31:5.

Die naam Jehovah beteken letterlik “Hy laat word” (Genesis 2:4, voetnoot in NW). Die betekenis van God se naam vestig dus die aandag op sy voorneme en op die feit dat hy die Skepper is. Om die naam Jehovah te ken en te gebruik, is in werklikheid ’n kenmerk van die ware godsdiens. Dit is duidelik dat Jesus dit besef het. Hy het met verwysing na sy volgelinge vir God in gebed gesê: “Ek het u naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee u my liefgehad het, in hulle kan wees en ek in eenheid met hulle.”—Johannes 17:26.

Toe ’n eertydse Hebreër met die naam Josef die betekenis van drome moes uitlê, het hy op sy vriendskap met God staatgemaak en met vertroue gesê: “Is uitleggings nie ’n saak van God nie?”—Genesis 40:8; 41:15, 16.

Etlike eeue later het koning Nebukadnesar van Babilon ’n droom gehad wat sy wyse manne nie kon uitlê nie. Die profeet Daniël het vir die koning gesê: “Daar bestaan ’n God in die hemel wat ’n Openbaarder van geheime is, en hy het aan koning Nebukadnesar bekend gemaak wat aan die einde van die dae gaan plaasvind.”—Daniël 2:28.

Die voorbeelde van Josef en Daniël toon dat die wysheid en kennis van God slegs beskikbaar is vir dié wat Jehovah God dien. Dit spreek vanself dat ons dalk beskouings wat ons voorheen gehad het, sal moet laat vaar om God se goedkeuring te verkry. Dit is presies wat eerste-eeuse Jode wat Christene geword het, moes doen. Omdat hulle van kleins af geleer is om die wette wat deur die Joodse stelsel van dinge neergelê is, te respekteer en te gehoorsaam, het hulle tyd nodig gehad om Jesus as die Messias te aanvaar. Hy het gekom om die Mosaïese Wet, wat “’n skaduwee . . . van die toekomstige goeie dinge” was, te vervul (Hebreërs 10:1; Matteus 5:17; Lukas 24:44, 45). Hierdie wet is vervang deur “die wet van die Christus”, wat ver bo die Mosaïese Wet verhewe is.—Galasiërs 6:2; Romeine 13:10; Jakobus 2:8.

Ons is almal in ’n wêreld gebore wat vervreemd is van God. Weens die sonde wat ons van die eerste mensepaar geërf het, is ons gebore as vyande van God, sonder juiste kennis van sy voornemens. Ons het ook ’n verraderlike hart geërf (Jeremia 17:9; Efesiërs 2:12; 4:18; Kolossense 1:21). Om God se vriendskap te verkry, moet ons leer om ons denke na God se weë te skik. Dit is glad nie maklik om dit te doen nie.

Dit kan moeilik wees om valse godsdiensidees of -gebruike af te lê, veral as dit van kleins af reeds by ons ingeprent is. Maar is dit verstandig om ’n verkeerde weg te bly volg? Glad nie! Dit is beslis verstandiger om jou denkwyse te verander en op dié manier God se goedkeuring te verkry.

Identifiseer die kanaal waardeur God onderrigting voorsien

Waar kan ons hulp vind om die Woord van waarheid te verstaan en dan in ooreenstemming daarmee te lewe? In eertydse Israel het God leierskap voorsien deur middel van betroubare en lojale persone in verantwoordelike posisies. Die Hoof van die hedendaagse Christengemeente, Christus, lei eweneens diegene wat opreg na waarheid soek. Hy doen dit deur middel van sy betroubare en lojale volgelinge, en hulle is die kanaal wat verantwoordelik is om ernstige waarheidsoekers te rig en te beskerm (Matteus 24:45-47; Kolossense 1:18). Maar hoe kan ’n mens die kanaal identifiseer waardeur God onderrigting voorsien?

Ware volgelinge van Jesus Christus streef daarna om dieselfde eienskappe te weerspieël wat Jesus as ’n mens geopenbaar het. In ’n wêreld wat al hoe goddeloser word, is dit maklik om hierdie volgelinge te identifiseer omdat hulle die enigstes is wat sulke geestelike eienskappe openbaar. (Sien die venter op bladsy 6.) Word hierdie eienskappe in jou godsdiens of in jou bure s’n weerspieël? Dit sal die moeite werd wees om hierdie saak in die lig van die Bybel te ondersoek.

Ons nooi jou, die leser, om dit deur middel van ’n Bybelstudiekursus te doen. Verlede jaar het gemiddeld meer as 6 000 000 mense in 235 lande gebruik gemaak van hierdie reëling om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. Om die wysheid en kennis van God te verkry, is ’n voortdurende, bevredigende en lonende bedrywigheid. Begin gerus vandag om die wysheid en kennis van God te verkry. Dit is iets waaroor jy nooit spyt sal wees nie. Ja, ons kan God werklik leer ken!

[Venster op bladsy 6]

DIEGENE WAT IN HARMONIE MET GOD WERK . . . 

handhaaf neutraliteit in politieke konflikte.—Jesaja 2:4.

bring goeie vrugte voort deur God se wil te doen.—Matteus 7:13-23.

betoon ware liefde aan mekaar.—Johannes 13:35; 1 Johannes 4:20.

praat oral eenstemmig.—Miga 2:12.

volg nie die verkeerde gesindhede en gedrag van die wêreld om hulle na nie.—Johannes 17:16.

getuig van die waarheid en maak dissipels.—Matteus 24:14; 28:19, 20.

geniet dit om gereeld bymekaar te kom vir wedersydse aanmoediging.—Hebreërs 10:25.

loof God as ’n internasionale groep.—Openbaring 7:9, 10.

[Prente op bladsy 7]

Kennis van God word op ’n individuele, gesins- en gemeentelike vlak verkry