Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou aan om in broederliefde toe te neem

Hou aan om in broederliefde toe te neem

Hou aan om in broederliefde toe te neem

“Gaan voort om in liefde te wandel, net soos die Christus julle ook liefgehad het.”—EF. 5:2.

1. Op watter belangrike kenmerk van sy volgelinge het Jesus die aandag gevestig?

 DIE verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk van huis tot huis is iets waaraan Jehovah se Getuies uitgeken word. Nogtans het Christus Jesus ’n ander faset van die Christelike godsdiens gekies waaraan sy ware dissipels geïdentifiseer sou word. Hy het gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Joh. 13:34, 35.

2, 3. Watter uitwerking het ons broederliefde op diegene wat ons Christelike vergaderinge bywoon?

2 Die liefde van die ware Christenbroederskap het geen gelyke in die mensegemeenskap nie. Net soos ’n magneet yster aantrek, trek liefde Jehovah se knegte in eenheid saam en trek dit opregtes na ware aanbidding. Neem byvoorbeeld Marcelino, ’n man in Kameroen, wat sy gesigsvermoë by die werk verloor het. Ná sy ongeluk het die gerug versprei dat hy blind geword het omdat hy ’n towenaar is. Pleks van hom te vertroos, het sy pastoor en ander lidmate van sy kerk hom uit die gemeente gesit. Toe een van Jehovah se Getuies hom na ’n vergadering genooi het, was Marcelino huiwerig. Hy wou nie weer verwerp word nie.

3 Marcelino was verbaas oor wat by die Koninkryksaal gebeur het. Hy is hartlik verwelkom, en hy het vertroosting geput uit die Bybelleringe wat hy gehoor het. Hy het al die gemeentelike vergaderinge begin bywoon, vordering gemaak in sy Bybelstudie en is in 2006 gedoop. Nou praat hy met sy familielede en bure oor die waarheid, en hy het al ’n hele paar Bybelstudies begin. Marcelino wil hê dat die mense met wie hy die Bybel studeer, dieselfde liefde moet ondervind wat hy van God se volk ontvang het.

4. Waarom moet ons Paulus se vermaning ter harte neem om ‘voort te gaan om in liefde te wandel’?

4 Ons broederliefde is wel aantreklik, maar dit kan nie as vanselfsprekend aanvaar word nie. Dink aan ’n kampvuur wat in die aand brand en mense na sy warm, flikkerende vlamme trek. Tensy dié wat die vuur geniet, hout daarop sit, sal dit doodgaan. Net so sal die wonderlike band van liefde in die gemeente verswak tensy ons as individuele Christene ons daarop toelê om dit te versterk. Hoe kan ons dit doen? Die apostel Paulus antwoord: “Gaan voort om in liefde te wandel, net soos die Christus julle ook liefgehad het en homself vir julle oorgegee het as ’n offergawe en ’n offerande aan God tot ’n welriekende geur” (Ef. 5:2). Die vraag wat ons dus wil bespreek is: Hoe kan ek voortgaan om in liefde te wandel?

‘Julle moet ook verruim word’

5, 6. Waarom het Paulus die Christene in Korinte aangespoor om “verruim” te word?

5 Die apostel Paulus het aan die Christene in eertydse Korinte geskryf: “Ons mond is teenoor julle geopen, Korintiërs, ons hart het verruim geword. Julle het nie te min ruimte in ons nie, maar julle het te min ruimte in julle eie tere geneenthede. By wyse van vergoeding dan—ek praat soos met kinders—moet julle ook verruim word” (2 Kor. 6:11-13). Waarom het Paulus die Korintiërs aangespoor om verruim te word in hulle liefde?

6 Dink aan hoe die gemeente in eertydse Korinte ontstaan het. Paulus het in die noordelike herfs van 50 HJ na Korinte gekom. Hoewel sy predikingswerk daar aanvanklik moeilik was, het die apostel nie moed opgegee nie. Binne ’n kort tydjie het baie in daardie stad geloof in die goeie nuus gestel. “’n Jaar en ses maande lank” het Paulus hom ingespan om die nuwe gemeente te onderrig en te versterk. Dit is duidelik dat hy innige liefde vir die Christene in Korinte gehad het (Hand. 18:5, 6, 9-11). Hulle het alle rede gehad om hom op hulle beurt lief te hê en te respekteer. Maar party in die gemeente het hulle van hom onttrek. Dalk het ’n paar nie van sy reguit raad gehou nie (1 Kor. 5:1-5; 6:1-10). Ander het moontlik na die laster van die “uitnemende apostels” geluister (2 Kor. 11:5, 6). Paulus wou graag die opregte liefde van al sy broers en susters hê. Hy het hulle dus versoek om “verruim” te word deur nader aan hom en ander medegelowiges te kom.

7. Hoe kan ons daarin “verruim” word om broederliefde aan die dag te lê?

7 Wat van ons? Hoe kan ons daarin “verruim” word om broederliefde aan die dag te lê? Persone in dieselfde ouderdomsgroep of met dieselfde etniese agtergrond voel dalk van nature aangetrokke tot mekaar. En dié wat van dieselfde soort ontspanning hou, bring dikwels baie tyd saam deur. Maar as die belangstellings wat ons met party Christene deel, ons van ander afsonder, moet ons “verruim” word. Dit sal verstandig wees om ons af te vra: ‘Neem ek selde deel aan die bediening of sosiale bedrywighede met broers en susters wat nie in my intieme groep is nie? Beperk ek my assosiasie met nuwelinge by die Koninkryksaal omdat ek dink dat hulle my vriendskap eers met verloop van tyd moet verdien? Groet ek ouer sowel as jonger persone in die gemeente?’

8, 9. Hoe kan Paulus se raad in Romeine 15:7 ons help om mekaar te groet op ’n manier wat ons broederliefde versterk?

8 Wanneer dit daarby kom om mekaar te groet, kan Paulus se woorde aan die Romeine ons help om die regte beskouing van ons medeaanbidders te ontwikkel. (Lees Romeine 15:7.) Die Griekse woord wat in die vers met “verwelkom” vertaal word, beteken “om vriendelik of gasvry te ontvang, om deel van jou geselskap en vriendekring te maak”. Wanneer ’n gasvrye gasheer in Bybeltye vriende in sy huis ontvang het, het hy hulle gewys hoe bly hy was om hulle te sien. Christus het ons figuurlik gesproke so verwelkom, en ons word aangespoor om sy voorbeeld te volg deur medeaanbidders te verwelkom.

9 Wanneer ons ons broers by die Koninkryksaal en op ander plekke groet, kan ons aandag gee aan dié wat ons lank laas gesien of met wie ons lank laas gesels het. Praat gerus ’n paar minute met hulle. By die volgende vergadering kan ons dieselfde met ander doen. Binne ’n kort tydjie sal ons aangename gesprekke met omtrent al ons broers en susters gehad het. Ons hoef ons nie daaroor te bekommer as ons nie op dieselfde dag met almal kan praat nie. Niemand moet aanstoot neem as ons hulle nie by elke vergadering kan groet nie.

10. Watter kosbare geleentheid het almal in die gemeente, en hoe kan ons dit ten volle benut?

10 Die eerste stap om ander te verwelkom, is om hulle te groet. Dit is ’n stap wat tot genotvolle gesprekke en blywende vriendskappe kan lei. Byvoorbeeld, wanneer diegene wat ’n byeenkoms bywoon, hulle aan mekaar voorstel en begin gesels, sien hulle daarna uit om mekaar weer te sien. Vrywilligers wat Koninkryksale bou asook dié wat noodlenigingswerk doen, word dikwels goeie vriende omdat die ondervindinge wat hulle saam geniet, hulle help om mekaar se goeie eienskappe te leer ken. In Jehovah se organisasie is daar oorgenoeg geleenthede om blywende vriendskappe aan te knoop. As ons “verruim” word, sal ons vriendekring groter word, en dit sal die liefde versterk wat ons in ware aanbidding verenig.

Maak tyd vir ander

11. Watter voorbeeld het Jesus gestel, soos Markus 10:13-16 toon?

11 Alle Christene kan daarna streef om, soos Jesus, genaakbaar te wees. Dink aan hoe Jesus gereageer het toe sy dissipels ouers probeer verhinder het om hulle kinders na hom toe te bring. “Laat die jong kinders na my toe kom”, het hy gesê. “Moet hulle nie probeer keer nie, want die koninkryk van God behoort aan dié wat soos hulle is.” Toe het hy “die kinders in sy arms geneem en hulle begin seën terwyl hy hulle die hande opgelê het” (Markus 10:13-16). Stel jou voor hoe bly hierdie kinders was omdat die Groot Leermeester sulke liefdevolle aandag aan hulle geskenk het!

12. Wat kan ons verhinder om met ander te gesels?

12 Elke Christen moet hom afvra: ‘Maak ek dit vir ander maklik om my te nader of lyk ek dikwels te besig?’ Gewoontes wat op sigself nie verkeerd is nie, kan soms gesprekke belemmer. As ons byvoorbeeld in die teenwoordigheid van ander dikwels op die selfoon besig is of oorfone gebruik om na opnames te luister, kan ons die boodskap uitstuur dat ons eerder nie in hulle geselskap wil wees nie. As ander dikwels sien dat ons met ’n handrekenaar besig is, sal hulle moontlik tot die slotsom kom dat ons nie daarin belangstel om met hulle te praat nie. Daar is natuurlik “’n tyd om stil te bly”. Maar wanneer ons saam met mense is, is dit dikwels die “tyd om te praat” (Pred. 3:7). Party sê dalk: “Ek verkies om alleen te wees” of: “Soggens is ek nie lus om te gesels nie.” Maar as ons ’n vriendelike gesprek aanknoop, al is ons nie eintlik lus daarvoor nie, is dit ’n blyk van liefde wat “nie sy eie belang [soek] nie”.—1 Kor. 13:5.

13. Watter beskouing van Christenbroers en -susters het Paulus Timoteus aangemoedig om te hê?

13 Paulus het die jong Timoteus aangemoedig om respek vir al die lede in die gemeente te hê. (Lees 1 Timoteus 5:1, 2.) Ook ons moet ouer Christene soos moeders en vaders behandel en jongeres soos ons vleeslike broers en susters. Wanneer ons hierdie gesindheid het, sal nie een van ons dierbare Christenbroers en -susters in ons teenwoordigheid soos vreemdelinge voel nie.

14. Wat is ’n paar voordele daarvan om opbouende gesprekke met ander te hê?

14 Wanneer ons ander by opbouende gesprekke betrek, dra ons by tot hulle geestelikheid en emosionele welsyn. ’n Broer wat by ’n takkantoor werk, het aangename herinneringe aan hoe ’n hele paar ouer Betheliete in sy vroeë dae by Bethel gereeld tyd gemaak het om met hom te praat. Hulle aanmoedigende woorde het hom laat voel dat hy werklik deel is van die Bethelgesin. Nou probeer hy hulle voorbeeld navolg deur met sy mede-Betheliete te gesels.

Nederigheid help ons om vrede te maak

15. Wat toon dat ons nie immuun is teen meningsverskille nie?

15 Euodia en Sintige, twee Christensusters in eertydse Filippi, het klaarblyklik gesukkel om ’n probleem wat tussen hulle ontstaan het, op te los (Fil. 4:2, 3). ’n Driftige woordewisseling tussen Paulus en Barnabas het algemeen bekend geword en daartoe gelei dat hulle ’n tyd lank elkeen sy eie weg gegaan het (Hand. 15:37-39). Hierdie verslae toon dat ware aanbidders nie immuun is teen meningsverskille nie. Jehovah voorsien ons van hulp om konflikte op te los en vriendskappe te herstel. Maar hy vereis iets van ons.

16, 17. (a) Hoe belangrik is nederigheid om persoonlike geskille op te los? (b) Hoe word die waarde van nederigheid toegelig deur die verslag oor hoe Jakob Esau genader het?

16 Stel jou voor dat jy en jou vriend per motor op reis wil gaan. Voordat julle met julle reis kan begin, moet jy ’n sleutel gebruik om die motor se enjin aan te skakel. Die proses om persoonlike geskille uit die weg te ruim, word ook met ’n sleutel aan die gang gesit. Die sleutel is nederigheid. (Lees Jakobus 4:10.) Soos die volgende skriftuurlike voorbeeld toon, stel hierdie sleutel dié wat ’n probleem met mekaar het, in staat om Bybelbeginsels te begin toepas.

17 Twintig jaar het verloop sedert Esau verbitterd geword het en sy tweelingbroer, Jakob, wou doodmaak omdat Jakob Esau se geboortereg van hom af weggeneem het. Die tweeling sou mekaar nou ná al die jare weer sien, “en Jakob het baie bang en angstig geword”. Hy het gedink dat Esau hom heel waarskynlik sou aanval. Maar by hierdie ontmoeting het Jakob iets gedoen wat Esau nie verwag het nie. Toe hy sy broer nader, het hy “na die aarde neergebuig”. Wat het toe gebeur? “Esau het hom tegemoetgehardloop, en hy het hom begin omhels en hom om die hals geval en hom gesoen, en hulle het in trane uitgebars.” Die gevaar van ’n geveg is afgeweer. Jakob se nederigheid het gehelp om enige haat wat Esau dalk gekoester het, te bowe te kom.—Gen. 27:41; 32:3-8; 33:3, 4.

18, 19. (a) Waarom is dit noodsaaklik dat ons die inisiatief neem om skriftuurlike raad toe te pas wanneer persoonlike geskille opduik? (b) Waarom moet ons nie moed opgee as die ander persoon aanvanklik nie positief reageer nie?

18 Die Bybel bevat uitstekende raad oor hoe om geskille uit die weg te ruim (Matt. 5:23, 24; 18:15-17; Ef. 4:26, 27). a Maar tensy ons hierdie raad nederig toepas, sal dit moeilik wees om vrede te maak. Die oplossing is nie om te wag dat die ander persoon nederigheid toon terwyl ons self ook die sleutel in ons hand het nie.

19 As dit om die een of ander rede lyk asof ons eerste pogings om vrede te maak, geen vrugte afwerp nie, moet ons nie moed verloor nie. Die ander persoon het dalk tyd nodig om sy gevoelens te verwerk. Josef se broers het verraderlik met hom gehandel. ’n Lang tyd het verloop voordat hulle voor hom, die eerste minister van Egipte, gestaan het. Maar hulle het uiteindelik getoon dat hulle gesindheid verander het en het hom om vergifnis gesmeek. Josef het hulle vergewe, en Jakob se seuns het ’n nasie geword wat die voorreg gehad het om Jehovah se naam te dra (Gen. 50:15-21). Deur vrede met ons broers en susters te handhaaf, dra ons by tot die eenheid en vreugde van die gemeente.—Lees Kolossense 3:12-14.

Laat ons liefhê “met dade en in waarheid”

20, 21. Watter les kan ons leer uit die feit dat Jesus sy apostels se voete gewas het?

20 Kort voor sy dood het Jesus vir sy apostels gesê: “Ek het vir julle die voorbeeld gestel, dat julle, net soos ek aan julle gedoen het, ook moet doen” (Joh. 13:15). Hy het so pas die voete van die 12 gewas. Wat Jesus gedoen het, was nie bloot ’n ritueel of net ’n daad van goedhartigheid nie. Voordat Johannes vertel het hoe Jesus hulle voete gewas het, het hy geskryf: “Jesus, . . . wat dié liefgehad het wat syne was en wat in die wêreld was, [het] hulle tot die einde toe liefgehad” (Joh. 13:1). Dit was Jesus se liefde vir die dissipels wat hom beweeg het om ’n diens te verrig wat gewoonlik deur ’n slaaf gelewer is. Nou moes hulle nederig liefdevolle dinge vir mekaar doen. Ja, opregte broederliefde moet ons beweeg om besorgdheid en belangstelling teenoor al ons Christenbroers en -susters te toon.

21 Die apostel Petrus, wie se voete deur die Seun van God gewas is, het die betekenis van wat Jesus gedoen het, verstaan. Hy het geskryf: “Noudat julle julle siel gesuiwer het deur julle gehoorsaamheid aan die waarheid met ongeveinsde broederlike geneentheid as resultaat, moet julle mekaar intens liefhê uit die hart” (1 Pet. 1:22). Die apostel Johannes, wie se voete ook deur die Here gewas is, het geskryf: “Kindertjies, laat ons liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid” (1 Joh. 3:18). Mag ons harte ons beweeg om ons broederliefde deur dade te bevestig.

[Voetnoot]

a Sien die boek Georganiseer om Jehovah se wil te doen, bladsye 144-150.

Onthou jy?

• Hoe kan ons “verruim” word in ons liefde vir mekaar?

• Wat sal ons help om tyd vir ander te maak?

• Watter rol speel nederigheid daarin om vrede te maak?

• Wat moet ons beweeg om vir medegelowiges om te gee?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 21]

Verwelkom medegelowiges hartlik

[Prent op bladsy 23]

Moenie geleenthede laat verbygaan om tyd te maak vir ander nie