Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan jy bid sodat jou gebede gehoor word?

Hoe kan jy bid sodat jou gebede gehoor word?

Jehovah God is die “Hoorder van gebed” (Psalm 65:2). Ons kan enige plek en op enige tyd met hom praat, hardop of in ons gedagtes. Jehovah wil hê dat ons hom “Vader” moet noem, en hy is regtig die beste Vader wat ons kan hê (Matteus 6:9). Jehovah leer ons op ’n liefdevolle manier hoe om te bid sodat ons deur hom gehoor kan word.

BID TOT JEHOVAH GOD IN DIE NAAM VAN JESUS

“As julle die Vader enigiets vra, sal hy dit vir julle in my naam gee.” – Johannes 16:23.

Jesus se woorde wys duidelik dat Jehovah wil hê dat ons tot Hom moet bid in die naam van Jesus Christus, nie deur middel van beelde, heiliges, engele of voorouers wat gesterf het nie. Wanneer ons tot God in Jesus se naam bid, wys ons dat ons Jesus se belangrike rol erken. Jesus het gesê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.” – Johannes 14:6.

PRAAT UIT DIE HART

“Stort julle hart voor hom uit.” – Psalm 62:8.

Wanneer ons tot Jehovah bid, moet ons praat soos ons met ’n liefdevolle vader sou praat. Ons moenie uit ’n boek lees of iets herhaal wat ons gememoriseer het nie. Ons moet eerder respekvol en uit die hart met hom praat.

BID IN OOREENSTEMMING MET GOD SE WIL

“Hy [hoor ons], ongeag wat ons volgens sy wil vra.” – 1 Johannes 5:14.

In die Bybel sê Jehovah God vir ons wat hy vir ons wil doen en wat hy wil hê ons vir hom moet doen. As ons wil hê dat ons gebede vir God aanvaarbaar moet wees, moet ons “volgens sy wil” bid. Om dit te doen, moet ons die Bybel studeer sodat ons hom goed kan leer ken. Dan sal ons gebede hom gelukkig maak.

WAARVOOR KAN ONS BID?

Bid vir wat jy nodig het. Ons kan tot God bid vir die dinge wat ons elke dag nodig het – kos, klere en ’n plek om te bly. Ons kan dalk ook vir wysheid bid om die regte besluite te maak en vir krag om ons probleme te hanteer. Ons kan vir geloof, vir vergifnis en vir God se hulp bid. – Lukas 11:3, 4, 13; Jakobus 1:5, 17.

Bid vir ander. Ouers wat lief is vir hulle kinders, is bly wanneer hulle kinders lief is vir mekaar. Jehovah wil ook graag hê dat sy kinders op aarde vir mekaar moet omgee. Dit is gepas om vir ons huweliksmaat, ons kinders, ons familie en ons vriende te bid. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Bid vir mekaar.” – Jakobus 5:16.

Sê dankie. Die Bybel sê oor ons Skepper: “[Hy het] goeie dinge [gedoen]. Hy het vir julle reën uit die hemel en vrugbare seisoene gegee, en hy het vir julle oorgenoeg voedsel en ’n hart vol blydskap gegee” (Handelinge 14:17). Wanneer ons dink aan alles wat God vir ons gedoen het, sal dit ons beweeg om vir hom dankie te sê. Ons moet natuurlik ook wys dat ons dankbaar teenoor God is deur gehoorsaam te wees aan hom. – Kolossense 3:15.

WEES GEDULDIG EN HOU AAN BID

Partykeer kan ons mismoedig voel omdat ons nie onmiddellik antwoorde op ons gebede kry nie. Beteken dit dat God nie vir ons omgee nie? Glad nie! Kyk na die volgende ondervindinge wat wys dat ons net moet aanhou bid.

Steve, wat in die eerste artikel genoem word, erken: “As ek nie aangehou het om te bid nie, dan sou ek alle hoop verloor het om ooit weer gelukkig te wees.” Wat het verander? Hy het die Bybel begin studeer en geleer hoekom dit belangrik is om te bid en om aan te hou daarmee. Steve sê: “Ek bid tot God om vir hom dankie te sê vir al die liefdevolle ondersteuning wat ek by al my goeie vriende gekry het. Ek is nou gelukkiger as ooit te vore.”

Jenny het gevoel dat sy nie goed genoeg is om deur God gehoor te word nie. Sy sê: “Op die laagste punt in my lewe het ek God gesmeek om my te help verstaan hoekom ek so waardeloos voel.” Hoe het dit haar gehelp? “Om met God te praat, het my gehelp om die regte perspektief van dinge te hê en om te sien dat selfs al veroordeel my hart my, doen hy dit nie. Dit het my ook gehelp om nie op te gee nie.” Wat was die gevolg? “Gebed het my gehelp om Jehovah as ’n regte en liefdevolle God, Vader en Vriend te sien wat altyd daar vir my sal wees en my sal help solank as wat ek probeer om te doen wat hy wil hê.”

‘Ek besef dat hy die beste antwoord op my gebede is’, sê Isabel wanneer sy na haar seun, Gerard, kyk en sien hoe hy die lewe geniet ten spyte van sy gestremdheid

Kyk ook na die ondervinding van Isabel. Toe sy swanger geword het, het haar dokters vir haar gesê dat haar kind erg gestremd sou wees. Sy was verpletter. Party het haar selfs aangeraai om ’n aborsie te kry. “Ek het gevoel asof ek gaan sterf van al die hartseer.” Wat het sy gedoen? Sy sê: “Ek het oor en oor tot God gebid vir ondersteuning.” Sy het toe geboorte gegee aan ’n seun, Gerard, en hy was gestremd. Voel Isabel dat God haar gebede beantwoord het? Ja! Op watter manier? Isabel sê: “As ek sien hoe my seun, wat nou 14 jaar oud is, die lewe geniet ten spyte van sy gestremdheid, dan besef ek dat hy die beste antwoord op my gebede is, die grootste seëning wat Jehovah my ooit kon gegee het.”

Sulke opregte woorde laat ons dink aan wat die psalmis gesê het: “U sal die versoek van die nederiges hoor, o Jehovah. U sal hulle hart versterk en noukeurig aan hulle aandag skenk” (Psalm 10:17). Watter wonderlike redes om aan te hou bid!

In die Bybel vind ons baie van Jesus se gebede. Die bekendste gebed is beslis die gebed wat hy sy dissipels geleer het. Wat kan dit ons leer?