Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Stille bewys van akkurate profesie

’n Stille bewys van akkurate profesie

DAAR STAAN ’N TRIOMFBOOG IN DIE MIDDEL VAN ROME, ITALIË, WAT BESOEKERS VAN REGOOR DIE WÊRELD TREK. DIE BOOG VEREER TITUS, WAT EEN VAN ROME SE GELIEFDE KEISERS WAS.

Op die Titusboog is daar twee groot reliëfprente (beeldwerk wat uitstaan bo die agtergrond). Dit beeld ’n bekende gebeurtenis in die geskiedenis uit. Maar wat minder bekend is, is die feit dat daar ’n fassinerende verband tussen die boog en die Bybel is. Die Titusboog is ’n stille bewys van hoe akkuraat Bybelprofesie werklik is.

’N STAD WAT VEROORDEEL IS

Vroeg in die eerste eeu HJ het die Romeinse Ryk gestrek van Brittanje en Gallië (nou Frankryk) tot by Egipte. Hierdie gebied het vrede en sukses geniet soos nog nooit tevore nie. Maar die opstandige provinsie Judea was vir Rome heeltyd ’n doring in die vlees.

Die Encyclopedia of Ancient Rome sê: “Daar is min gebiede onder Rome se beheer waar al twee kante mekaar so erg gehaat het soos Judea en Rome. Die Jode was vyandig teenoor buitelandse heersers wat glad nie vir hulle tradisies omgegee het nie. Vir die Romeine was die hardkoppigheid van die Jode weer heeltemal onaanvaarbaar.” Baie Jode het gehoop dat ’n leier wat die gehate Romeine sou uitdryf, hulle sou red en Israel weer ’n sterk en voorspoedige nasie sou maak. Maar in 33 HJ het Jesus Christus gesê dat daar groot moeilikheid vir Jerusalem op pad was.

Jesus het gesê: “Die dae sal oor jou kom wanneer jou vyande ’n verskansing met spits pale rondom jou sal bou en jou sal omsingel en jou van alle kante in benoudheid sal bring, en hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter, en hulle sal in jou nie ’n klip op ’n klip laat nie.” — Lukas 19:43, 44.

Jesus se woorde het heel moontlik sy dissipels laat wonder. Twee dae later, terwyl hulle na die tempel in Jerusalem gekyk het, het een van hulle gesê: “Leermeester, kyk! watter klippe en watter geboue!” Daar word gesê dat party klippe van die tempel meer as 11 meter lank, 5 meter breed en 3 meter hoog was! Tog het Jesus geantwoord: “Wat hierdie dinge betref wat julle sien, die dae sal kom waarin nie ’n klip op ’n klip hier gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie.” — Markus 13:1; Lukas 21:6.

Jesus het verder vir hulle gesê: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het. Laat dié wat in Judea is, dan na die berge begin vlug, en laat dié wat in die stad is, uitgaan, en laat dié wat in die plattelandse plekke is, nie daar ingaan nie” (Lukas 21:20, 21). Het Jesus se woorde waar geword?

DIE DOOD VAN ’N STAD

Judea was 33 jaar later nog steeds onder die beheer van die Romeinse Ryk en het dit gehaat. Maar in 66 HJ het Gessius Florus, wat in beheer van Judea was, geld van die heilige tempel se skatkis gevat. Dit het die Jode woedend gemaak. Kort daarna het Joodse vegters Jerusalem binnegestorm en die Romeinse soldate wat daar was, doodgemaak. Die Jode het hulle onafhanklikheid van Rome verklaar.

Omtrent drie maande later het meer as 30 000 Romeinse soldate, onder die beheer van Cestius Gallus, na Jerusalem gegaan om ’n einde aan die opstand te maak. Dit het die Romeine nie lank gevat om die stad in te neem en onderdeur die buitemuur van die tempel te grawe nie. En toe, sonder enige rede, het die Romeinse soldate weggetrek. Die Joodse rebelle was baie bly en het die Romeine agternagesit. Die Romeinse soldate en die Joodse rebelle was toe nie meer in die stad nie. Daarom kon Christene Jesus se waarskuwing gehoorsaam en uit Jerusalem na die berge aan die anderkant van die Jordaanrivier vlug. — Matteus 24:15, 16.

Die volgende jaar het Rome besluit om Judea weer aan te val. Generaal Vespasianus en sy seun Titus sou in beheer wees van hierdie aanval. Maar kort nadat keiser Nero in 68 HJ dood is, het Vespasianus na Rome teruggekeer om die keiser te word. Hy het sy seun Titus saam met omtrent 60 000 soldate agtergelaat om die oorlog teen Judea verder te voer.

In Junie 70 HJ het Titus sy soldate beveel om die bome in die Judese platteland af te kap. Hulle het die hout gebruik om pale met skerp punte te maak en daarmee ’n muur van 7 kilometer lank om Jerusalem gebou. Teen September het die Romeine, nadat hulle al die waardevolle dinge met geweld gevat het, die stad en die tempel afgebrand. Hulle het nie ’n klip op ’n klip gelos nie, net soos Jesus vroeër voorspel het (Lukas 19:43, 44). Daar word gesê dat daar ten minste “tussen ’n kwart- en ’n halfmiljoen mense in Jerusalem en die res van die land gesterf het”.

’N KEISERLIKE OORWINNING

In 71 HJ het Titus na Italië teruggekeer en die mense van Rome het hom opgewonde terugverwelkom. Die hele stad het deelgeneem aan een van die grootste oorwinningsparades wat nog ooit in die hoofstad gehou is.

Skepe, groot vlotte waarop vegtonele uit die oorlog opgevoer is en items wat uit Jerusalem se tempel geneem is, het deur die strate beweeg. Die mense het hulle verkyk aan die ongelooflike rykdom waarmee daar in die strate van Rome gespog is.

Ná Vespasianus se dood het sy seun Titus in 79 HJ keiser geword. Maar net twee jaar later het Titus skielik gesterf. Sy broer, Domitianus, het begin regeer en kort hierna ’n triomfboog laat bou om Titus te vereer.

DIE BOOG VANDAG

Die Titusboog in Rome vandag

Elke jaar word die Titusboog deur duisende mense wat na Rome toe kom, bewonder. Party mense beskou die boog as ’n indrukwekkende kunswerk wat wys hoe groot en magtig die Romeinse Ryk was. Dit laat ander mense weer dink aan Jerusalem en sy tempel wat vernietig is.

Maar studente van die Bybel sien die Titusboog as iets wat selfs groter betekenis het. Dit is ’n stille bewys van hoe betroubaar en akkuraat Bybelprofesieë is, en dit wys ook dat dit deur God geïnspireer is. — 2 Petrus 1:19-21.