Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons leer oor God deur sy profete

Ons leer oor God deur sy profete

In die verlede het God sy profete belangrike boodskappe gegee wat hulle aan die mens moes oordra. Kan hierdie boodskappe vir ons wys hoe om seëninge van God te kry? Ja, dit kan. Kom ons kyk wat ons kan leer by hierdie drie getroue profete.

ABRAHAM

God is onpartydig en wil alle mense seën.

God het die profeet Abraham belowe dat ‘al die families van die aarde deur middel van hom geseën sal word’. – Genesis 12:3.

Wat leer dit ons? God is baie lief vir ons en wil alle families – mans, vroue en kinders – seën wat gehoorsaam is aan hom.

MOSES

God is genadig en seën mense wat moeite doen om hom te leer ken.

Die Almagtige het die profeet Moses die krag gegee om groot wonderwerke te doen. Tog het Moses gebid: “Maak . . . u weë aan my bekend, sodat ek u kan ken en kan aanhou om u goedkeuring te geniet” (Eksodus 33:13). Moses se versoek het God gelukkig gemaak, en God het hom geseën met meer kennis en begrip van Sy weë en eienskappe. Byvoorbeeld, Moses het geleer dat die Skepper “’n God [is] wat genadig is en medelye betoon”. – Eksodus 34:6, 7.

Wat leer dit ons? God wil ons almal – mans, vroue en kinders – seën as ons hard werk om hom beter te leer ken. Hy wys vir ons in die Heilige Skrif hoe om hom te aanbid en dat hy graag vir ons sy guns en seën wil gee.

JESUS

Jesus is deur medelye beweeg om alle soorte siektes gesond te maak

Ons kan vir ewig God se seëninge geniet as ons leer oor wat Jesus gedoen het en wat hy ander geleer het.

God se Woord bevat baie inligting oor Jesus se lewe en wat hy ander geleer het. God het Jesus die vermoë gegee om baie kragtige wonderwerke te doen, soos om die blindes, die dowes en die kreupeles gesond te maak. Hy het selfs die dooies weer laat lewe. Op hierdie manier het Jesus gewys hoe God alle mense in die toekoms sal seën. God sal volmaakte gesondheid aan almal gee en die dooies weer laat lewe in die paradys op die aarde. Jesus het verduidelik hoe elkeen van ons hierdie seëninge kan geniet: “Om die ewige lewe te ontvang, moet hulle u leer ken, die enigste ware God, en ook die een wat u gestuur het, Jesus Christus.” – Johannes 17:3.

Jesus het medelye gehad, en hy was saggeaard en liefdevol. Mans en vroue, jonk en oud, het na hom toe gestroom as gevolg van sy liefdevolle uitnodiging: “Leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry” (Matteus 11:29). Anders as party in Jesus se tyd wat vroue mishandel het, was hy liefdevol teenoor vroue en het hy hulle met waardigheid en respek behandel.

Wat leer dit ons? Jesus was baie lief vir mense, en hy het ’n uitstekende voorbeeld gestel van hoe ons mekaar moet behandel.

JESUS IS NIE GOD NIE

Die Heilige Skrif leer dat “daar in werklikheid vir ons net een God” is, wat die Skepper van die heelal is, en dat Jesus Christus God se nederige boodskapper is (1 Korintiërs 8:6). Jesus het duidelik gesê dat God groter is as hy en dat God hom na die aarde toe gestuur het. – Johannes 11:41, 42; 14:28. *

^ par. 17 Om meer uit te vind oor Jesus Christus, sien deel 8 en 9 van die brosjure Real Faith—Your Key to a Happy Life beskikbaar aanlyn by www.ps8318.com.