Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Brooklynse Bethel—100 jaar se geskiedenis

Brooklynse Bethel—100 jaar se geskiedenis

Bethelhuis Columbia Heights 122-124

Hicksstraat 13-17 (1909-1918)

DIE jaar 1909 was ’n belangrike jaar vir die stad New York. Die Queensboro-brug is oopgestel, wat die stadswyk Queens met Manhattan verbind het, en die Manhattan-brug is oopgestel, wat nog ’n verbinding tussen Manhattan en Brooklyn gevorm het.

Dit was ook ’n belangrike jaar vir Jehovah se Getuies. Charles Taze Russell, die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, die wetlike korporasie van Jehovah se Getuies, het vroeër die moontlikheid gesien dat die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk uitgebrei kon word (Matteus 24:14). Hy het geglo dat die verskuiwing van die Genootskap se hoofkwartier van Pittsburgh, Pennsilvanië, na Brooklyn, New York, ’n belangrike stap in dié rigting sou wees. In 1908 is daar begin met voorbereidings vir die verskuiwing, en dit is vroeg die volgende jaar uitgevoer.

 Waarom na Brooklyn?

Diegene wat destyds die leiding in die predikingswerk geneem het, het geweet dat evangelisasie deur middel van preke wat in koerante gepubliseer word, ’n doeltreffende manier is om Bybelwaarheid te versprei. Trouens, teen 1908 het Russell se weeklikse Bybelpreke in 11 koerante met ’n gesamentlike sirkulasie van 402 000 verskyn.

Russell het egter geskryf: “Broeders wat vertroud is met koerantmetodes . . . , verseker ons dat die weeklikse preke, as dit van ’n [groter sentrum] afkomstig is, moontlik regoor die Verenigde State gepubliseer sal word; dat honderde koerante dit dalk binne ’n jaar gereeld sal publiseer.” Die soektog na die beste plek van waar die predikingswerk uitgebrei kon word, het dus begin.

Russell se koerantpreke

Waarom Brooklyn? Russell het gesê: “Nadat ons goddelike leiding gesoek het, het ons almal tot die slotsom gekom dat Brooklyn, N.Y., met ’n groot bevolking . . . en bekend as ‘Die stad van kerke’, om hierdie redes ons geskikste sentrum sal wees vir die oeswerk.” Die resultate spreek vanself. Binne ’n kort rukkie het 2 000 koerante Russell se preke gepubliseer.

Daar is nog ’n rede waarom New York ’n goeie keuse was. Teen 1909 is takkantore in Groot-Brittanje, Duitsland en Australië geopen, en nog ander sou weldra geopen word. Dit het dus sin gemaak om die wêreldhoofkwartier in ’n hawestad te hê wat ook goeie pad- en spoorwegverbindings met ander plekke gehad het.

Waarom die naam Bethel?

Concordstraat 18 (1922-1927)

Adamsstraat 117 (1927 tot vandag)

Die oorspronklike hoofkwartier van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap is in die 1880’s in Allegheny (nou deel van Pittsburgh), Pennsilvanië, geopen. Dit is destyds die Bybelhuis genoem. Teen 1896 het 12 persone daar gedien.

 Met die verskuiwing na Brooklyn in 1909 is die nuwe woongebou vir die personeel egter Bethel genoem. * Waarom Bethel? Die eiendom by Hicksstraat 13-17 wat die Wagtoringgenootskap gekoop het, het aan die vooraanstaande geestelike Henry Ward Beecher behoort en het bekend gestaan as die Beecher-Bethel. Beecher se voormalige woning, by Columbia Heights 124, is ook gekoop. The Watchtower van 1 Maart 1909 het gesê: “Dit is werklik merkwaardig dat ons die ou Beecher-Bethel gekry het en toe per toeval sy voormalige woning. . . . Ons sal die nuwe woning ‘Bethel’ noem, en die nuwe kantoor en ouditorium, ‘Die Brooklyn-Tabernakel’; hierdie name sal die benaming ‘Bybelhuis’ vervang.”

Vandag word die baie groter fasiliteite in Brooklyn en op twee ander plekke in die staat New York, Wallkill en Patterson, insluitende die woongeboue, die drukkery en die kantore, Bethel genoem. Trouens, daar is nou Bethelhuise in 113 lande regoor die wêreld. Meer as 19 000 bedienaars, wat help om Bybelinligting te versprei, dien by hierdie fasiliteite.

Myrtlelaan 35 (1920-1922)

Besoekers word hartlik verwelkom

Die fasiliteite is op 31 Januarie 1909 toegewy. Maandag 6 September 1909 was Ontvangsdag by Bethel. Honderde Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het, het op ’n toer van die fasiliteit gegaan. Baie van hulle het direk van ’n Christelike byeenkoms in Saratoga Springs gekom, ongeveer 320 kilometer noord van die stad New York. Charles Taze Russell het die besoekers persoonlik verwelkom. *

Besoekers is nog steeds welkom by Bethel. Trouens, meer as 40 000 mense kom elke jaar op ’n toer deur die fasiliteite in Brooklyn. Die Brooklynse Bethel speel nog steeds ’n baie belangrike rol in die uitbreiding van Jehovah se Koninkryksbelange, tot seën van tallose miljoene.

Wallkill-drukkery

Onderrigsentrum in Patterson

^ par. 11 Die Hebreeuse woord vir “Bethel” beteken “Huis van God”. In die Bybel was Bet-El ’n prominente Israelitiese stad. Net die stad Jerusalem word meer dikwels gemeld.

^ par. 14 Vir bykomende geskiedkundige besonderhede, sien Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, bladsye 718-723, uitgegee deur Jehovah se Getuies.