Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

  Sleutels tot gesinsgeluk

Berei tieners voor vir volwassenheid

Berei tieners voor vir volwassenheid

“Dit was altyd lekker om met my seuns te gesels. Hulle het aandagtig geluister na wat ek sê, en hulle het onmiddellik gereageer. Maar noudat hulle tieners is, stry ons oor alles. Hulle kla selfs oor ons geestelike roetine. ‘Moet ons regtig oor die Bybel praat?’ vra hulle. Voordat my seuns puberteit bereik het, het ek nooit gedink dat dit met my gesin sou gebeur nie—selfs nie toe ek dit met ander gesinne sien gebeur het nie.”—Reggie. *

HET jy ’n adolessent in die huis? Dit is een van die fassinerendste stadiums van jou kind se groei. Dit kan ook een van die senutergendste stadiums wees. Klink die volgende scenario’s bekend?

  • Toe jou seun jonger was, was hy soos ’n boot wat vasgemeer is aan ’n kaai—jy. As ’n tiener pluk hy nou aan die tou, gretig om weg te vaar, en jy kry die indruk dat jy nie aan boord genooi is nie.

  • Toe jou dogter ’n kind was, het sy jou alles vertel. As ’n tiener het sy nou ’n ‘sosiale klub’ met haar vriendinne gevorm, en dit voel asof jy nie lidmaatskap gegun is nie.

As iets soortgelyks in jou huis gebeur, moet jy nie oorhaastig tot die slotsom kom dat jou kind ’n verstokte rebel word nie. Maar wat gebeur dan? Om hierdie vraag te beantwoord, kan ons kyk na die noodsaaklike rol wat adolessensie in jou kind se ontwikkeling speel.

Adolessensie—’n Mylpaal

Van ’n kind se geboorte af is sy lewe ’n lys van eerste ondervindinge—sy eerste treetjies, sy eerste woord, sy eerste dag op skool, om net ’n paar te noem. Ouers is verheug wanneer hulle kind ’n mylpaal bereik. Dit is ’n bewys van iets wat hulle graag wil sien—groei.

Adolessensie is ook ’n mylpaal—hoewel party ouers dit moontlik nie met vreugde begroet nie. Hulle besorgdheid is verstaanbaar. Watter pa of ma is immers bly om ’n inskiklike kind in ’n nukkerige tiener te sien verander? Adolessensie is nietemin ’n baie belangrike groeifase. In watter opsig?

Die Bybel sê dat ’n man mettertyd ‘sy vader en sy moeder sal verlaat’ (Genesis 2:24). Adolessensie speel ’n belangrike rol daarin om jou seun of dogter vir hierdie bittersoet dag voor te berei. Dán moet jou kind soos die apostel Paulus kan sê: “Toe ek ’n klein kindjie was, het ek soos ’n klein kindjie gepraat, soos ’n klein kindjie gedink, soos ’n klein kindjie geredeneer; maar noudat ek ’n man geword het, het ek die eienskappe van ’n klein kindjie afgelê.”—1 Korintiërs 13:11.

Dit is basies wat jou seun of dogter gedurende die tienerjare doen—hulle lê die eienskappe van ’n kind af en leer om ’n verantwoordelike jong volwassene te word wat selfstandig en volwasse genoeg is om die huis te verlaat. Trouens, een naslaanwerk beskryf adolessensie heel gepas as “een lang afskeid”.

 Dit is so dat die blote gedagte dat jou “seuntjie” of “dogtertjie” onafhanklik sal word, jou miskien nou skepties laat voel. Jy vra dalk:

  • “As my seun nie verantwoordelik genoeg is om sy kamer skoon te hou nie, hoe sal hy ’n woonstel aan die kant kan hou?”

  • “As my dogter nie betroubaar genoeg is om op ’n spesifieke tyd by die huis te wees nie, hoe sal sy ’n werk kan behou?”

As jy met sulke vrese worstel, moet jy onthou: Onafhanklikheid is nie ’n deur waardeur jou kind maar net stap nie; dit is ’n pad waarop hy of sy reis, en dit neem jare om die reis te voltooi. Uit wat jy al gesien het, weet jy dat “dwaasheid [vassit] in die hart van ’n seun”—of ’n dogter.—Spreuke 22:15.

Maar met die regte leiding sal jou kind waarskynlik adolessensie agterlaat as ’n verantwoordelike jong volwassene wat sy of haar “waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen [het] om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is”.—Hebreërs 5:14.

Sleutels tot sukses

Kan jy meer vryheid aan jou tiener toestaan weens sy of haar verantwoordelike gedrag?

Om jou adolessent vir volwassenheid voor te berei, moet jy hom help om sy “denkvermoë” te ontwikkel sodat hy op sy eie goeie besluite sal kan neem (Romeine 12:1, 2). * Die volgende Bybelbeginsels sal jou help om dit te doen.

Filippense 4:5: “Laat julle redelikheid . . . bekend word.” Jou tiener vra iets, dalk vir ’n later inkomtyd. Jy weier summier. Jou adolessent kla: “Ek word soos ’n kind behandel!” Voordat jy antwoord: “Wel, jy gedra jou soos een”, kan jy aan die volgende dink: Tieners is geneig om op meer vryheid aan te dring as wat hulle kan hanteer, maar ouers is moontlik geneig om minder vryheid toe te staan as wat hulle kan gee. Kan jy miskien van tyd tot tyd ’n toegewing maak? Kan jy ten minste jou tiener se standpunt oorweeg?

PROBEER DIE VOLGENDE: Skryf een of twee gebiede neer waar jy ’n bietjie meer vryheid aan jou adolessent kan toestaan. Verduidelik aan hom dat jy hierdie vryheid vir ’n proeftydperk gee. As hy dit op verantwoordelike wyse gebruik, kan hy mettertyd meer vryheid ontvang. As hy dit nie doen nie, sal die vryheid wat aan hom toegestaan is, ingekort word.—Matteus 25:21.

Kolossense 3:21: “Vaders, moenie aan julle kinders torring nie. As dit te moeilik is om julle tevrede te stel, sal hulle dalk wil ophou probeer.”—International Children’s Bible. Party ouers probeer hulle tiener in elke opsig beheer. Om hom op die regte pad te hou, sluit hulle hom as ’t ware in die huis toe. Hulle kies sy vriende vir hom en luister sy telefoongesprekke af. Maar hierdie metodes kan boemerang. As jy hom so inperk, sal dit moontlik net die begeerte by hom wek om te ontsnap; as jy sy vriende heeltyd afkraak, sal dit hulle dalk net aantrekliker maak; as jy hom afluister, kan dit hom dwing om maniere te vind om agter jou rug met sy vriende te kommunikeer. Hoe meer beheer jy probeer uitoefen, hoe minder beheer het jy dalk op die ou end. As jou tiener nooit leer om self besluite te neem terwyl hy in die huis is nie, hoe sal hy dan ooit weet hoe om besluite te neem wanneer hy die huis verlaat het?

PROBEER DIE VOLGENDE: Wanneer jy weer met jou tiener oor ’n probleem praat, moet jy hom help om te redeneer oor wat sy keuses van hom sê. Byvoorbeeld, in plaas van sy vriende af te kraak, kan jy sê: “Sê nou [naam] word in hegtenis geneem omdat hy die wet oortree? Wat sal mense van jou dink?” Help jou tiener om te sien hoe sy keuses hom ’n goeie of ’n slegte reputasie kan gee.—Spreuke 11:17, 22; 20:11.

 Efesiërs 6:4: “Moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed.” Die woord “verstandsregulering” verwys nie net na die oordrag van feite nie. Dit beteken om op so ’n wyse ’n beroep op die kind se sedelikheidsgevoel te doen dat dit sy dade beïnvloed. Dit is veral noodsaaklik wanneer jou kind ’n adolessent word. “Hoe ouer jou kinders word”, sê ’n pa met die naam Andre, “hoe meer moet jy jou benadering aanpas en met hulle redeneer.”—2 Timoteus 3:14.

PROBEER DIE VOLGENDE: Wanneer ’n probleem ontstaan, kan julle rolle probeer omruil. Vra jou tiener watter raad hy jou sou gee as jy sy kind was. Laat hom navorsing doen om redes te vind waarom sy denke reg—of verkeerd—is. Bespreek die saak weer binne ’n week.

Galasiërs 6:7: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai.” ’n Kind kan deur middel van straf geleer word—miskien deur hom na sy kamer te stuur of hom nie toe te laat om aan ’n geliefkoosde bedrywigheid deel te neem nie. Maar in die geval van ’n adolessent sal dit goed wees om hom eerder die gevolge van sy dade te laat dra.—Spreuke 6:27.

PROBEER DIE VOLGENDE: Moenie hom uithelp deur sy skuld af te betaal of by sy onderwyser verskonings te maak as hy gedruip het nie. Laat hom die gevolge dra, en hy sal die les lank onthou.

As ’n ouer wens jy seker dat adolessensie soos ’n aanloopbaan was waarop jou kind gou en behendig spoed kon vermeerder en na volwassenheid kon opstyg. Maar die opstyging verloop selde so glad. Nietemin bied jou kind se adolessensie jou ’n wonderlike geleentheid om “’n seun op [te lei] volgens die weg vir hom” (Spreuke 22:6). Bybelbeginsels is ’n vaste fondament waarop jy gesinsgeluk kan bou.

^ par. 3 Die naam is verander.

^ par. 19 Hoewel ons na die kind as manlik sal verwys, is die beginsels onder bespreking op albei geslagte van toepassing.

VRA JOU AF . . .

Sal my adolessent die volgende kan doen teen die tyd dat hy of sy die huis verlaat?

  • ’n goeie geestelike roetine handhaaf

  • goeie keuses en besluite maak

  • doeltreffend met ander kommunikeer

  • na sy of haar gesondheid omsien

  • sy of haar geldsake behartig

  • ’n huis of ’n woonstel netjies en in stand hou

  • selfgemotiveerd wees