Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Dink tog aan my, o my God, ten goede”

“Dink tog aan my, o my God, ten goede”

Kom nader aan God

“Dink tog aan my, o my God, ten goede”

“EK HET gedink dat Jehovah, wat my so goed ken, my nooit kan liefhê en dat ek nooit sy goedkeuring kan hê nie.” Dit is wat ’n getroue Christenvrou geskryf het wat met ’n gebrek aan eiewaarde gesukkel het. Is jy al ooit deur soortgelyke gevoelens geteister, wat jou laat dink het dat jy nie God se aandag verdien nie, wat nog te sê sy goedkeuring kan geniet? Indien wel, sal jy die woorde in Nehemia 13:31 dalk bemoedigend vind.

Nehemia, die goewerneur van die Jode in die vyfde eeu VHJ, het sy bes gedoen om God te behaag. Hy het die voortou geneem met die herbouing van Jerusalem se mure ondanks teenstand van vyande. Hy het seker gemaak dat God se Wet toegepas word, na die onderdruktes omgesien en die geloof van sy mede-Israeliete probeer opbou. Het God die goeie raakgesien wat hierdie getroue man gedoen het? Het Nehemia Jehovah se goedkeuring geniet? Ons kan die antwoord sien in die slotwoorde van die boek wat sy naam dra.

Nehemia bid: “Dink tog aan my, o my God, ten goede.” a Is Nehemia bang dat God nie sy goeie dade raakgesien het nie of dat God hom sal vergeet? Nee. Nehemia is ongetwyfeld bewus van wat vroeëre Bybelskrywers gesê het oor Jehovah se lewendige belangstelling in sy getroue knegte en in hulle goeie dade (Eksodus 32:32, 33; Psalm 56:8). Wat is dit dan wat hy van God vra? Volgens een naslaanwerk impliseer die Hebreeuse term wat met “dink aan” vertaal word, “die geneentheid van die verstand en die optrede wat met herroeping gepaardgaan”. Met volle vertroue in die krag van gebed vra Nehemia dat God met geneentheid aan hom dink en hom seën.—Nehemia 2:4.

Sal Jehovah Nehemia se versoek om aan hom te dink, toestaan? In een opsig het Jehovah dit reeds gedoen. Die blote feit dat Jehovah dit goedgedink het om ’n permanente verslag van Nehemia se gebed te laat opteken deur dit ’n deel van die geïnspireerde Skrif te maak, verseker ons dat hy met geneentheid aan Nehemia dink. Maar die “Hoorder van die gebed” sal nog meer doen om Nehemia se opregte versoek toe te staan.—Psalm 65:2.

God sal Nehemia nog beloon vir al die goeie wat hy ter bevordering van ware aanbidding gedoen het (Hebreërs 11:6). In die komende regverdige nuwe wêreld wat Jehovah belowe het, sal hy Nehemia seën deur hom uit die dood op te wek (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). b Met die vooruitsig op ewige lewe op ’n paradysaarde sal Nehemia dan kan sien dat Jehovah wel ten goede aan hom gedink het.

Nehemia se gebed bekragtig koning Dawid se woorde: “U sal almal seën wat regverdig is, o Jehovah; soos met ’n groot skild sal u hulle met goedkeuring omring” (Psalm 5:12). Ja, God sien en waardeer ons opregte pogings om hom te behaag. Solank jy jou bes doen om hom te dien, kan jy seker wees dat hy met geneentheid aan jou sal dink en jou ryklik sal seën.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Februarie:

Nehemia 1-13

[Voetnote]

a Dit is die laaste van vier versoeke in hierdie Bybelboek waar Nehemia God in gebed vra dat sy getroue dade goeie vrugte sal afwerp.—Nehemia 5:19; 13:14, 22, 31.

b Vir meer inligting oor God se voorneme met getroue mense op die aarde, sien hoofstukke 3 en 7 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.