Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie kan profesieë uitlê?

Wie kan profesieë uitlê?

Wie kan profesieë uitlê?

Die Gordiaanse knoop was in die dae van Aleksander die Grote na bewering die grootste van alle raaisels. Wys was die persoon—en groot sy prestasie—wat daardie ingewikkelde knoop kon losmaak. a Aleksander het volgens legende die raaisel deur een kap van sy swaard opgelos.

DEUR die eeue heen het wyse manne nie net probeer om ingewikkelde knope los te maak nie, maar ook om raaisels op te los, profesieë uit te lê en selfs die toekoms te voorspel.

Maar dit was gewoonlik bo hulle vuurmaakplek. Die wyse manne van Babilon kon byvoorbeeld nie die handskrif uitlê wat tydens ’n luidrugtige feesmaal wonderbaarlik teen die muur van koning Belsasar se paleis verskyn het nie. Slegs Daniël—die bejaarde profeet van Jehovah God, wat bekend was vir “die losmaak van knope”—kon die profetiese boodskap uitlê (Daniël 5:12). Daardie profesie, wat die ondergang van die Babiloniese Ryk voorspel het, is daardie selfde aand nog vervul!—Daniël 5:1, 4-8, 25-30.

Wat is profesie?

Profesie is al gedefinieer as die openbaring van die toekoms, gebeurtenisse wat opgeteken word voordat dit plaasvind. Ware profesie is ’n geïnspireerde boodskap, hetsy in geskrewe of gesproke vorm, ’n openbaring van die goddelike wil of voorneme. Die Bybel bevat profesieë in verband met die verskyning en identiteit van die Messias, “die voleinding van die stelsel van dinge” en oordeelsboodskappe van God.—Matteus 24:3; Daniël 9:25.

Die “wyse manne” van vandag—deskundiges in die wetenskap, ekonomie, gesondheidsorg, politiek, omgewingswetenskap en baie ander velde—probeer die toekoms voorspel. Hoewel baie van hierdie voorspellings wye mediadekking kry—en gretig deur die publiek verslind word—is dit hoogstens ingeligte raaiskote en persoonlike opinies. Daarbenewens is daar vir elke opinie altyd tallose botsende opinies en teenargumente. Om die toekoms te voorspel, is inderdaad ’n waagstuk.

Die bron van ware profesie

Wat is dan die oorsprong van ware profesieë, en wie kan dit uitlê? Die apostel Petrus het geskryf: ‘Geen profesie van die Skrif spruit voort uit enige eie uitlegging nie’ (2 Petrus 1:20). Die Griekse woord vir “uitlegging” beteken “oplossing, onthulling”, met die gedagte dat dit “wat sodoende losgemaak of losgebind is, vroeër gebind was”. The Amplified New Testament gee dus Petrus se woorde soos volg weer: “Geen profesie van die Skrif is [’n saak] wat deur enige persoonlike poging . . . losgemaak kan word nie.”

Stel jou ’n matroos voor wat op behendige wyse ’n ingewikkelde knoop in ’n tou maak. Wanneer hy klaar is, kan ’n leek sien hoe die tou in die knoop inloop, maar hy weet nie hoe om dit los te maak nie. So ook kan mense sien dat huidige tendense op ’n toekoms sal uitloop wat verstrengel is in kompleksiteit, maar hulle weet nie hoe daardie toekoms sal ontwikkel nie.

Die geïnspireerde profete van ouds, soos Daniël, het nie die tendense van hulle tyd ontleed en toe ’n ingewikkelde toekoms probeer ontrafel deur ’n profesie uit te spreek nie. As hulle probeer het om die toekoms in ooreenstemming met hulle profesie te laat ontvou, sou dit beteken dat so ’n profesie in hulle verbeelding ontstaan het. Dit sou dan ’n voorspelling gewees het wat van ’n mens gekom het, ’n voorspelling gegrond op ’n onvolmaakte fondament. Maar Petrus het verder verduidelik: “Profesie is nooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is.”—2 Petrus 1:21.

“Is uitleggings nie ’n saak van God nie?”

Sowat 3 700 jaar gelede was twee manne in ’n gevangenis in Egipte opgesluit. Elkeen het ’n raaiselagtige droom gehad. Omdat hulle nie die wyse manne van die land kon raadpleeg nie, het hulle vir ’n medegevangene, Josef, vertel hoe verbysterd hulle was en gesê: “Ons het ’n droom gedroom, en daar is niemand by ons wat dit kan uitlê nie.” Hierdie kneg van God het hulle gevra om vir hom hulle drome te vertel en gesê: “Is uitleggings nie ’n saak van God nie?” (Genesis 40:8). Slegs Jehovah God het die vermoë om profesieë te ontrafel, net soos ’n ervare matroos ’n ingewikkelde knoop kan losmaak. Dit was immers God wat daardie profesieë in die eerste plek gemaak of vasgeknoop het. Dit is logies dat ons op hom moet staat maak om die betekenis daarvan los te maak. Ja, Josef het tereg die eer aan God gegee.

In watter sin ‘is uitleggings dan ’n saak van God’? Dit is in ’n aantal opsigte die geval. Party Bybelprofesieë word saam met hulle vervulling opgeteken. Hierdie profesieë is dus betreklik maklik om te ontknoop, soos in die geval van party knope wat die matroos goedgunstig verduidelik hoe om los te maak.—Genesis 18:14; 21:2.

Ander profesieë kan verklaar en ontrafel word deur die konteks te ondersoek. Die profeet Daniël het ’n profetiese visioen gehad van ‘’n ram met twee horings’ wat heeltemal neergestoot is deur ’n “harige bokram” wat “’n opvallende horing tussen sy oë” gehad het. Die konteks toon dat die ram met die twee horings “die konings van Medië en Persië” en die bokram “die koning van Griekeland” voorgestel het (Daniël 8:3-8, 20-22). Meer as 200 jaar later het “die groot horing”—Aleksander die Grote—sy verowering van Persië begin. Die Joodse geskiedskrywer Josefus het beweer dat Aleksander gedurende sy militêre veldtog naby Jerusalem hierdie einste profesie gewys is en dat hy geglo het dat dit na hom verwys het.

‘Uitleggings is ’n saak van God’ in nog ’n opsig. Josef, ’n getroue kneg van Jehovah God, is deur heilige gees gelei en kon dus die betekenis van die raaiselagtige drome van sy mede-gevangenes verstaan (Genesis 41:38). Wanneer hedendaagse knegte van God onseker is oor die betekenis van ’n sekere profesie, bid hulle vir God se gees en bestudeer en ondersoek hulle dan die geesgeïnspireerde Woord van God deeglik. Met God se leiding kan hulle tekste vind wat die betekenis van sommige profesieë ontsluit. Die uitlegging word nie wonderbaarlik deur enige mens geopenbaar nie. Dit word deur God geopenbaar, want dit is deur middel van sy gees en sy Woord dat die betekenis duidelik word. Die uitlegging word nie deur mense geopenbaar sonder inagneming van wat die Bybel sê nie.—Handelinge 15:12-21.

Daarbenewens ‘is uitleggings ’n saak van God’ in die sin dat hy bepaal wanneer sy getroue knegte op aarde ’n profesie sal verstaan. Die betekenis van ’n profesie kan voor, gedurende of ná die vervulling daarvan onderskei word. Aangesien God die profesieë vasgeknoop het, sal hy dit op die regte tyd—sy tyd—ontknoop.

In die verslag van Josef en die twee gevangenes het hy die drome drie dae voor die vervulling daarvan uitgelê (Genesis 40:13, 19). Later, toe Josef voor die magtige Farao gebring is om sy drome te verklaar, sou sewe jaar van oorvloed kort daarna begin. Met behulp van God se gees het Josef die betekenis van Farao se drome ontrafel, sodat reëlings getref kon word om die buitengewoon groot oes wat voorspel is, op te gaar.—Genesis 41:29, 39, 40.

Ander profesieë word slegs ná die vervulling daarvan ten volle deur knegte van God verstaan. Baie gebeure in Jesus se lewe is eeue voor sy geboorte voorspel, maar sy dissipels het dit eers ná sy opstanding ten volle verstaan (Psalm 22:18, 34:20; Johannes 19:24, 36). Laastens, volgens Daniël 12:4 is sekere profesieë “verseël . . . tot die tyd van die einde toe”, wanneer, volgens Daniël, ‘die ware kennis oorvloedig sou word’. Ons lewe nou in die tyd wanneer daardie profesieë vervul word. b

Bybelprofesieë en jy

Josef en Daniël het voor die konings van hulle dag gestaan en profetiese boodskappe oorgedra wat nasies en koninkryke geraak het. Christene van die eerste eeu het voor die mense van hulle dag gestaan as woordvoerders van Jehovah, die God van profesie, en dié wat na hulle boodskappe geluister het, is grootliks bevoordeel.

Vandag word ’n profetiese boodskap—die goeie nuus van God se Koninkryk—wêreldwyd deur Jehovah se Getuies verkondig en vertel hulle mense dat Jesus se profesie in verband met “die voleinding van die stelsel van dinge” nou vervul word (Matteus 24:3, 14). Is jy vertroud met hierdie profesie en hoe dit jou sal raak? Jehovah se Getuies sal jou graag help om een van die grootste van alle Bybelprofesieë te verstaan en daarby baat te vind.

[Voetnote]

a Volgens ’n Griekse legende is Gordius, die stadsvader van Gordium, die hoofstad van Frigië, se strydwa met ’n ingewikkelde knoop aan ’n paal vasgemaak. Hierdie knoop kon alleenlik deur die toekomstige veroweraar van Asië losgemaak word.

b Sien die voorbladreeks “Ses Bybelprofesieë waarvan jy die vervulling sien” in hierdie tydskrif se nommer van 1 Mei 2011.

[Prente op bladsye 12, 13]

Josef sowel as Daniël het God die eer gegee toe hulle profesieë uitgelê het