Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons lesers vra . . .

Waarom het God Abraham gevra om sy seun te offer?

Waarom het God Abraham gevra om sy seun te offer?

▪ Soos opgeteken in die Bybelboek Genesis, het Jehovah God Abraham gevra om sy seun Isak te offer (Genesis 22:2). Party Bybellesers vind dit moeilik om hierdie verslag te verstaan. “Toe ek hierdie verhaal vir die eerste keer as kind gehoor het, was ek baie kwaad”, sê ’n professor genaamd Carol. “Watter soort God sou so iets van iemand verwag?” Hoewel sulke gevoelens verstaanbaar is, is dit goed om ’n paar punte in gedagte te hou.

Eerstens, kyk na wat Jehovah nie gedoen het nie. Hy het Abraham nie toegelaat om sy seun te offer nie, al was Abraham bereid om dit te doen, en God het ook nooit weer so iets van enigiemand gevra nie. Jehovah wil hê dat al sy aanbidders, insluitende kinders, moet aanhou lewe, ja, dat hulle ’n lang en bevredigende lewe moet geniet.

Tweedens, die Bybel dui aan dat Jehovah ’n spesiale rede gehad het waarom hy Abraham gevra het om Isak te offer. God het geweet dat Hy eeue later Sy eie Seun, * Jesus, sou toelaat om vir ons te sterf (Matteus 20:28). Jehovah wou ons help om te verstaan hoeveel hierdie offerande hom sou kos. Hy het ’n kragtige voorafskaduwing van daardie toekomstige offerande voorsien deur wat hy van Abraham gevra het. Hoe so?

Kyk na Jehovah se woorde aan Abraham: “Neem asseblief jou seun, jou enigste seun wat jy só liefhet, Isak, en . . . offer hom . . . as ’n brandoffer” (Genesis 22:2). Let op dat Jehovah na Isak verwys het as die seun “wat jy só liefhet”. Jehovah het geweet hoe kosbaar Isak vir Abraham is. God het ook geweet hoe Hy oor sy Seun, Jesus, voel. Jehovah het Jesus so liefgehad dat hy twee keer vanuit die hemel gepraat het en direk na Jesus verwys het as “my Seun, die geliefde”.—Markus 1:11; 9:7.

Let ook op dat Jehovah se versoek aan Abraham die woord “asseblief” ingesluit het. Een Bybelgeleerde gee te kenne dat God se gebruik van hierdie woord aandui dat “die HERE bewus is van die kosbaarheid van wat hy vra”. Soos ons ons kan voorstel, het daardie versoek Abraham diep bedroef; so ook kan ons ons skaars die intense pyn voorstel wat Jehovah ongetwyfeld ervaar het terwyl hy toegekyk het hoe sy geliefde Seun ly en sterf. Dit was ongetwyfeld die ergste pyn wat Jehovah nog ondervind het of ooit sal ondervind.

Hoewel ons dalk terugdeins wanneer ons dink aan wat Jehovah Abraham gevra het om te doen, is dit goed om te onthou dat Jehovah nie daardie getroue aartsvader toegelaat het om sy seun te offer nie. Hy het Abraham die ergste verlies gespaar wat ’n ouer kan ly; hy het Isak teen die dood beskerm. Tog het Jehovah nie “sy eie Seun” beskerm nie, “maar hom vir ons almal oorgelewer” (Romeine 8:32). Waarom het Jehovah homself aan so ’n verskriklike beproewing onderwerp? Hy het dit gedoen sodat ons “die lewe kan verkry” (1 Johannes 4:9). Wat ’n kragtige herinnering aan God se liefde vir ons! Beweeg dit ons nie om bewys te lewer van ons liefde vir hom nie? *

[Voetnote]

^ par. 5 Die Bybel leer nie dat God Jesus letterlik deur middel van ’n vrou verwek het nie. Jehovah het eerder die geesskepsel geskep wat later na die aarde gestuur is om vir die maagd Maria gebore te word. As die een wat Jesus geskep het, kan God dus tereg sy Vader genoem word.

^ par. 8 Om meer uit te vind oor waarom Jesus moes sterf en hoe ons ons waardering daarvoor kan toon, sien hoofstuk 5 van die boek Wat leer die Bybel werklik?