Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Waarom het mense in Bybeltye asfalt as messelklei gebruik?

Met verwysing na die bouers van die toring van Babel sê die Bybel dat “bakstene vir hulle as bousteen gedien [het], maar asfalt het vir hulle as messelklei gedien”.—Genesis 11:3.

Asfalt kom in die natuur voor. Dit kom van petroleum, en baie daarvan word in Mesopotamië gevind, waar dit uit die aarde opwel en stol. Die doeltreffendheid daarvan as ’n bindmiddel was bekend in Bybeltye. Asfalt was “geskik vir gebruik in geboue wat van bakstene gemaak is”, sê een naslaanwerk.

’n Artikel in die tydskrif Archaeology beskryf ’n onlangse besoek aan die oorblyfsels van ’n ziggoerat in die eertydse stad Ur, in Mesopotamië. “Die asfaltmesselklei—een van die eerste produkte van Suid-Irak se groot olievelde—is vandag nog sigbaar tussen die bakstene”, sê die skrywer. “Die klewerige swart stof, wat vandag een van die oorsake van die onstabiliteit in die gebied is, het vroeër hierdie beskawing letterlik saamgebind. Die gebruik van asfalt as messelklei en plaveisel het gehelp om die andersins bros Sumeriese roustene waterdig te maak, wat verseker het dat die strukture duisende jare lank behoue gebly het.”

Watter soort “papier” was in Bybeltye beskikbaar?

Die vraag ontstaan na aanleiding van iets wat die Bybelskrywer Johannes gesê het: “Hoewel ek baie het om aan julle te skryf, wil ek dit nie met papier en ink doen nie.”—2 Johannes 12.

Die Griekse woord charʹtes, wat hier met “papier” weergegee word, verwys na papier wat van papirus, ’n waterplant, gemaak is. Een naslaanwerk beskryf die tegniek wat gebruik is om velle skryfmateriaal van die stingels van hierdie plante te maak, soos volg: ‘Stingels, waarvan party drie meter lank was, se buitekant is afgestroop en dan in dun repies gesny en aanmekaargelym om velle te maak. Hierdie velle is bo-op mekaar gelym sodat die grein ’n hoek van 90 grade ten opsigte van mekaar gevorm het; daarna is dit met ’n houthamer geslaan en laastens met ’n skraper gladgestryk.’

Argeoloë het talle eertydse papirusdokumente in Egipte en in die gebied om die Dooie See gevind. Sommige van die skriftuurlike papirusdokumente wat in hierdie gebiede gevind is, dateer uit die tyd van Jesus of selfs vroeër. Dit was heel moontlik die materiaal waarop briewe in die Bybel, soos dié van die apostels, oorspronklik geskryf is.

[Foto-erkennings op bladsy 11]

Spectrumphotofile/ photographersdirect.com

© FLPA/David Hosking/age fotostock