Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer uit God se Woord

Hoe raak geesskepsele ons lewe?

Hoe raak geesskepsele ons lewe?

Hierdie artikel bespreek vrae wat jy dalk al geopper het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.

1. Wie is die engele?

Engele is geesskepsele wat in die hemel woon. Hulle is ’n hoër lewensvorm as mense. Die ware God, wat self ’n gees is, het die engele geskep voordat hy die aarde geskep het (Job 38:4, 7; Matteus 18:10). Jehovah het hom met miljoene lojale engele omring.—Lees Psalm 103:20, 21; Daniël 7:9, 10.

2. Help engele mense?

Engele het ’n regverdige man met die naam Lot gehelp. Hy het in ’n stad gewoon wat God besluit het om te vernietig omdat die mense so sleg was. Twee engele het Lot en sy gesin gewaarsku en hulle aangespoor om te vlug. Party mense het gedink dat die waarskuwing ’n grap is en het dit geïgnoreer. Maar Lot en sy dogters het die vernietiging oorleef omdat hulle ag geslaan het op die waarskuwing wat God deur middel van engele gegee het.—Lees Genesis 19:1, 13-17, 26.

Volgens die Bybel help engele mense vandag deur die werk te rig van diegene wat die goeie nuus van God se Koninkryk getrou verkondig (Matteus 24:14). Die goeie nuus sluit ’n waarskuwing in. Soos die waarskuwing wat aan Lot gegee is, is dit ook nie ’n grap nie. Dit kom van God, deur middel van engele.—Lees Openbaring 1:1; 14:6, 7.

God kan engele gebruik om ons te versterk wanneer ons met beproewinge te kampe het. Hy het ’n engel gebruik om Jesus te versterk.—Lees Lukas 22:41-43.

Binnekort sal God engele op ’n ander manier gebruik—om goddelose mense wat lyding veroorsaak, te vernietig. Dit sal vreugdevolle verligting vir die mensdom bring.—Lees 2 Tessalonisense 1:6-8.

3. Hoe raak demone ons lewe?

Net soos baie mense op aarde sleg gehandel het deur aan God ongehoorsaam te wees, het baie engele in die hemel teen God in opstand gekom (2 Petrus 2:4). Ongehoorsame engele word demone genoem. Die vernaamste een onder hulle is Satan, die Duiwel. Satan en sy demone mislei die mensdom.—Lees Openbaring 12:9.

Satan het korrupte besighede, menseregerings en valse godsdiens gebruik om mense te beïnvloed en hulle van God af weg te keer. Satan is dus verantwoordelik vir die ongeregtigheid, geweld en lyding wat die mensdom teister.—Lees 1 Johannes 5:19.

4. Hoe mislei demone mense?

Satan het baie mense mislei deur te leer dat die dooies geeste word wat met hulle kan kommunikeer. Die Bybel sê egter dat die dooies hoegenaamd niks kan doen nie (Prediker 9:5). Maar demone mislei mense dikwels deur die stem van geliefdes wat gesterf het, na te boots (Jesaja 8:19). Demone mislei ander weer deur geestemediums, fortuinvertellers en beoefenaars van waarsêery en sterrewiggelary. God se Woord waarsku ons om al hierdie gebruike te vermy. As ons enigiets besit wat met die demone en die okkulte verband hou, moet ons dus daarvan ontslae raak.—Lees Deuteronomium 18:10, 11; Handelinge 19:19.

As ons Jehovah liefhet, hoef ons nie in vrees vir die demone te lewe nie. Wanneer ons God se Woord bestudeer en doen wat dit sê, staan ons die Duiwel teë en kom ons nader aan God. Jehovah is magtiger as die demone. Sy getroue engele kan ons versterk wanneer ons hulp nodig het.—Lees Psalm 34:7; Jakobus 4:7, 8

Vir meer inligting, sien hoofstuk 10 van hierdie boek, Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.