Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe is briewe in Bybeltye afgelewer?

Amptelike Persiese regeringskorrespondensie in verband met sake van nasionale belang, is aan ’n Staatsposdiens toevertrou. Die Bybelboek Ester beskryf hoe die Persiese stelsel gewerk het: “[Mordegai] het in die naam van koning Ahasveros geskryf en dit met die koning se seëlring verseël en geskrewe dokumente gestuur deur die hand van die boodskappers te perd, wat op posperde gery het wat in die koninklike diens gebruik is, hingsvulle van vinnige merries” (Ester 8:10). Die Romeinse Ryk het ’n soortgelyke diens vir administratiewe en militêre korrespondensie gehad.

Persoonlike pos, soos briewe wat deur die apostel Paulus of ander geskryf is, is nie op hierdie wyse afgelewer nie. As iemand ryk was, kon hy ’n slaaf stuur om ’n brief af te lewer. Die meeste mense het egter briewe laat aflewer deur middel van kennisse, of selfs vreemdelinge, wat in die regte rigting gereis het. Familielede, vriende, soldate of handelaars was almal moontlike posmanne. Van groot belang was natuurlik hoe betroubaar die persoon was en of hy die brief sou oppas en onbeskadig sou aflewer. Die Bybel dui aan dat Paulus ten minste sommige van sy briewe toevertrou het aan mede-Christene wat sou reis.—Efesiërs 6:21, 22; Kolossense 4:7.

Hoe het die eertydse Israeliete goedere gekoop en verkoop?

Die nasie se ekonomie was hoofsaaklik gebaseer op landbou, veeteelt en ruilhandel. Die Bybel maak melding van markte by stadspoorte—“die Skaappoort”, “die Vispoort” en “die Potskerwepoort” (Nehemia 3:1, 3; Jeremia 19:2). Hierdie name verwys blykbaar na die handelsware wat op elkeen van hierdie plekke verkoop is. Die Skrif praat ook van “die straat van die bakkers” in Jerusalem sowel as ’n aantal koopware.—Jeremia 37:21.

Wat van die pryse? Een Bybelkommentaar sê: “Pryse het natuurlik deur die eeue heen gewissel, en dit is moeilik om vas te stel hoeveel ’n spesifieke handelsartikel op ’n sekere tyd en plek gekos het.” Nogtans toon inligting uit eertydse bronne, insluitende die Bybel, dat pryse selfs destyds aan inflasie onderhewig was. In die ou tyd was dit byvoorbeeld ’n algemene gebruik om met slawe handel te dryf. Josef is vir 20 silwerstukke, moontlik sikkels, verkoop, wat waarskynlik gedurende die 18de eeu VHJ die gemiddelde prys vir ’n slaaf was (Genesis 37:28). Driehonderd jaar later was die prys 30 sikkels (Eksodus 21:32). Teen die agtste eeu VHJ was die prys 50 sikkels (2 Konings 15:20). Twee eeue later, gedurende die Persiese tydperk, was die prys tot 90 sikkels of meer. Stygende pryse is klaarblyklik nie net ’n onaangename werklikheid van die moderne lewe nie.