Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer uit God se Woord

Sal God ’n wêreldregering voorsien?

Sal God ’n wêreldregering voorsien?

Hierdie artikel bespreek vrae wat jy dalk al gevra het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.

1. Waarom het die mensdom ’n wêreldregering nodig?

Die mensdom ondervind vandag dikwels probleme op ’n wêreldskaal. In sommige lande is die meeste mense arm en word hulle onderdruk. In ander lande lyk dit of mense meer geld het as wat hulle nodig het. Net ’n wêreldwye administrasie kan die aarde se hulpbronne regverdig verdeel.—Lees Prediker 4:1; 8:9.

2. Wie kan vertrou word om oor die wêreld te regeer?

Die idee van ’n wêreldheerser is ongewild, want geen mens kan hom goed van hierdie taak kwyt nie. Niemand sal dit regkry om deur almal aanvaar te word nie. En daar is bitter min mense wat nie deur mag verderf sal word nie. Die gedagte van ’n enkele tiran wat oor die mensdom heers, is skrikwekkend.—Lees Spreuke 29:2; Jeremia 10:23.

Jehovah God het sy Seun, Jesus, gekies om vir ewig oor die mensdom te heers (Lukas 1:32, 33). Jesus het voorheen op die aarde gelewe. Terwyl hy hier was, het hy die siekes genees, die sagmoediges geleer en tyd saam met kinders deurgebring (Markus 1:40-42; 6:34; 10:13-16). Jesus is dus die ideale Heerser.—Lees Johannes 1:14.

3. Is ’n wêreldregering werklik moontlik?

God het sy Seun aangestel om vanuit die hemel oor die aarde te heers (Daniël 7:13, 14). Net soos ’n menseheerser nie teenwoordig hoef te wees in elke stad waaroor hy heers nie, hoef Jesus nie fisies op die aarde teenwoordig te wees om oor die mensdom te heers nie.—Lees Matteus 8:5-9, 13.

Sal almal Jesus as Heerser aanvaar? Nee. Net mense wat lief is vir wat goed is, sal hom aanvaar. Jehovah sal diegene van die aarde verwyder wat sy liefdevolle en regverdige Heerser verwerp.—Lees Matteus 25:31-33, 46.

4. Wat sal die Wêreldheerser doen?

Net soos ’n herder sy skape bymekaarmaak, maak Jesus reeds sagmoediges uit al die nasies bymekaar en leer hy hulle God se weë van liefde (Johannes 10:16; 13:34). Hierdie mense word ywerige ondersteuners van Jesus en sy koningskap (Psalm 72:8; Matteus 4:19, 20). Wêreldwyd kondig Jesus se lojale onderdane as ’n verenigde groep aan dat hy Koning geword het.—Lees Matteus 24:14.

Jesus sal binnekort daadwerklik optree om die mensdom van korrupte regerings te bevry. Hy het van sy lojale volgelinge gekies om saam met hom as konings vanuit die hemel oor die aarde te heers (Daniël 2:44; 7:27). Jesus se Koninkryk sal die aarde vul met die kennis van Jehovah en sal ’n paradys tot stand bring soos dié wat aan die begin van die mensegeskiedenis verloor is.—Lees Jesaja 11:3, 9; Matteus 19:28.