Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vraag 1: Het my lewe ’n doel?

Vraag 1: Het my lewe ’n doel?

ROSALIND, wat in Engeland grootgeword het, het ’n onlesbare dors na kennis gehad. Sy wou ook mense help. Nadat sy skool klaargemaak het, het sy ’n gesogte betrekking beklee wat behels het dat sy die haweloses help, en sy het ook mense met liggaamsgebreke en leergestremdhede gehelp. Hoewel sy bevredigende werk gehad het en ’n goeie bestaan gemaak het, sê sy: “Ek het jare lank gewonder: ‘Waarom is ons hier?’ en ‘Wat is die doel van die lewe?’”

Waarom vra mense hierdie vraag?

Mense is nie soos redelose diere nie. Ons het die vermoë om uit die verlede te leer, vir die toekoms te beplan en ’n doel in ons lewe te probeer vind.

Wat sê party is die antwoord?

Baie mense meen dat die najaging van rykdom of roem die hoofdoel van die lewe is en dat hulle sodoende geluk kan verkry.

Wat gee hierdie antwoord te kenne?

Ons stel ons eie prioriteite in die lewe. God se wil is minder belangrik as ons eie begeertes.

Wat leer die Bybel?

Koning Salomo het ontsaglike rykdom vergaar en genot nagejaag, maar hy het gevind dat hierdie dinge hom nie ’n doel in die lewe gegee het nie. Hy het aangedui wat ’n mens ’n ware doel in die lewe gee toe hy geskryf het: “Die slot van die saak, nadat alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens” (Prediker 12:13). Wat behels dit om God se gebooie te onderhou?

Deel van God se voorneme vir ons is dat ons die lewe geniet. Salomo het geskryf: “Vir ’n mens is daar niks beters nie as dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk. Ook dit het ek gesien, ja ek, dat dit uit die hand van die ware God is.”—Prediker 2:24.

God wil ook hê dat ons ons gesin moet liefhê en vir hulle moet sorg. Let op die eenvoudige, praktiese leiding wat aan elke gesinslid gegee word.

  • “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam.”—Efesiërs 5:28.

  • “Die vrou . . . moet diep respek vir haar man hê.”—Efesiërs 5:33.

  • “Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers.”—Efesiërs 6:1.

As ons hierdie Bybelbeginsels toepas, sal ons ’n mate van geluk en tevredenheid vind. Maar die belangrikste ding wat ons kan doen, is om soveel as moontlik oor ons Skepper te leer en ’n hegter verhouding met hom op te bou as ons Vriend. Trouens, die Bybel nooi ons om ‘nader aan God te kom’. Dan maak dit hierdie merkwaardige belofte: “Hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). As jy hierdie uitnodiging aanvaar, sal jy ’n ware doel in die lewe vind.

Rosalind, wat vroeër aangehaal is, meen nou dat sy die doel van die lewe gevind het. In die artikel met die titel “Die Bybel verander lewens” kan jy lees wat sy sê tot haar veranderde gesindheid gelei het.