Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Skat wat eeue lank verborge was

’n Skat wat eeue lank verborge was

Die geleerde kan sy oë nie glo nie. Hy ondersoek die stukkie antieke teks oor en oor. Die skrif en die grammatika het hom oortuig—voor hom is fragmente van die oudste Bybelvertaling in Georgies waarvan mense weet!

HIERDIE skat is laat in Desember 1922 ontdek, toe die Georgiese geleerde Iwané Jawachisjwili navorsing gedoen het oor hoe die Georgiese alfabet ontwikkel het. Hy het ’n afskrif van die Jerusalemse Talmoed gevind. Terwyl hy dit ondersoek het, het hy gesien dat daar gedeeltelik uitgewiste skrif in Georgiese karakters onder die Hebreeuse teks is. *

Die teks wat onder die Talmoed “verborge” was, was ’n afskrif van ’n gedeelte van die Bybelboek Jeremia wat uit die vyfde eeu HJ dateer. Voor hierdie ontdekking het die oudste Georgiese Bybelmanuskrip waarvan mense weet, uit die negende eeu HJ gedateer. Kort voor lank is dele van ander Bybelboeke gevind wat uit die vyfde eeu HJ of selfs vroeëre eeue dateer. Dink net: Bybelmanuskripte is ontdek wat net ’n paar honderd jaar ná Jesus en die apostels geskryf is!

Wie het dit vertaal? Was dit een persoon of ’n groep toegewyde vertalers? Tot nou toe is daar nog geen geskiedkundige verslag ontdek wat die antwoord voorsien nie. Maar dit is duidelik dat die Bybel, of ten minste dele daarvan, reeds teen die vierde eeu in Georgies vertaal was en dat die Georgiese volk sedertdien God se Woord in hulle moedertaal beskikbaar gehad het of daarmee vertroud was.

’n Verslag wat toon in watter mate die Georgiese volk met die Skrif vertroud was, word gevind in die boek The Martyrdom of St. Shushanik the Queen, wat waarskynlik laat in die vyfde eeu geskryf is. Die skrywer vertel die tragiese verhaal van die koningin en sluit aanhalings in uit dele van die Psalms, die Evangelies en ander dele van die Bybel, asook verwysings daarna. Hy vertel dat Sjoesjanik se man Warsken, ’n goewerneur van die Georgiese Koninkryk van Kartli, in ’n poging om die Persiese heersers tevrede te stel, die “Christelike” godsdiens die rug toegekeer het, hom tot Persiese Zoroastrianisme bekeer het en geëis het dat sy vrou dit ook doen. Volgens die boek het sy geweier om haar oortuigings te verloën  en gedurende haar laaste dae vertroosting uit die Skrif geput.

Sedert die vyfde eeu het die werk om die Georgiese Bybel te vertaal en afskrifte daarvan te maak, blykbaar nooit opgehou nie. Die groot hoeveelheid Bybelmanuskripte in Georgies getuig van die harde werk van toegewyde kopiïste en vertalers. Kom ons kyk na twee aspekte van hierdie boeiende verhaal—hoe die Bybel vertaal en gedruk is.

BYBELVERTALING NEEM TOE

“Ek, Giorgi, ’n nederige monnik, het die boek Psalms met groot ywer en inspanning uit Nieu-Grieks in Georgies vertaal.” Dit is die woorde van die 11de-eeuse Georgiese monnik Giorgi Mtatsmindeli. Waarom was dit nodig om die Bybel te vertaal as ’n Georgiese vertaling reeds eeue lank bestaan het?

Teen die 11de eeu was baie min van die vroeë handgeskrewe manuskripte van die Georgiese Bybel nog in omloop. Party boeke het heeltemal verlore geraak. Wat meer is, die taal het ietwat verander, wat dit vir lesers moeilik gemaak het om ouer afskrifte te verstaan. Hoewel ’n hele paar vertalers betrokke was by die hervertaling van die Georgiese Bybel, het Giorgi die belangrikste rol gespeel. Hy het bestaande Georgiese vertalings met Griekse manuskripte vergelyk en ontbrekende dele, selfs hele boeke, vertaal. Gedurende die dag het hy sy take as hoof van ’n klooster verrig. In die aand het hy die Bybel vertaal.

Giorgi se tydgenoot Efrem Mtsire het Giorgi se werk ’n stap verder gevoer. Hy het ’n gids vir vertalers saamgestel. Dit het grondbeginsels vir vertaling bevat, soos om uit die oorspronklike taal te vertaal wanneer dit ook al moontlik is en die bronteks noukeurig te volg sonder om natuurlikheid prys te gee. Hy het ook die gebruik van voetnote en kanttekeninge in Georgiese vertalings ingevoer. Efrem het ’n aantal Bybelboeke heeltemal van nuuts af vertaal. Die werk van Giorgi en Efrem het ’n vaste grondslag vir verdere vertaalwerk gelê.

Gedurende die volgende eeu is al hoe meer letterkundige werke in Georgië voortgebring. Akademies is in die dorpe Gelati en Ikalto gestig. Die meeste geleerdes meen dat die sogenaamde Gelati-Bybel, wat tans by die Georgiese Nasionale Sentrum vir Manuskripte gehou word, ’n heeltemal nuwe Bybelvertaling is wat deur een van die geleerdes van Gelati of Ikalto vertaal is.

Watter uitwerking het hierdie werk in verband met Bybelvertaling op die Georgiese volk gehad? In die 12de eeu het die Georgiese digter Sjota Roestaweli Wepchis-tqaosani (Ridder in die swart luiperd se vel) geskryf, ’n werk wat deur die eeue heen so ’n groot invloed gehad het dat dit al die Georgiërs se tweede Bybel genoem is. Die hedendaagse  Georgiese geleerde K. Kekelidze sê dat “party van [die digter se] beskouings ’n regstreekse weerspieëling van verskeie Bybelgedeeltes is”, hetsy die digter die Bybel direk aangehaal het of nie. Hoewel die gedig baie geromantiseer is, handel dit dikwels oor temas soos ware vriendskap, vrygewigheid, respek vir vroue en onselfsugtige liefde vir vreemdelinge. Hierdie en ander waardes wat die Bybel leer, het geslagte lank ’n rol gespeel in die denke van die Georgiese volk en word nog steeds as hulle sedelike waardes beskou.

KONINKLIKES WIL DIE BYBEL DRUK

Teen die einde van die 17de eeu wou die Georgiese koninklike familie graag die Bybel laat druk. Om dit moontlik te maak, het koning Vachtang VI ’n drukkery in die hoofstad, Tbilisi, laat bou. Maar die teks van die Bybel was nog nie gereed om gedruk te word nie. Die Georgiese Bybel het in sekere sin weer verborge geraak. Van sekere dele was daar slegs onvolledige manuskripte beskikbaar, en die taal wat gebruik is, was verouderd. Soelchan-Saba Orbeliani, ’n ervare taalkundige, is die taak gegee om die teks van die Bybel te hersien en by te werk.

Orbeliani het die werk pligsgetrou aangepak. Omdat hy etlike tale geken het, insluitende Grieks en Latyn, kon hy ander bronne behalwe bestaande Georgiese manuskripte raadpleeg. Maar sy onbevooroordeelde benadering het nie die goedkeuring van die Georgiese Ortodokse Kerk weggedra nie. Die geestelikes het hom daarvan beskuldig dat hy die kerk verraai en het dit reggekry om die koning te oorreed om sy werk aan die Bybel stop te sit. Volgens sekere Georgiese bronne het die geestelikes Orbeliani by ’n kerkraadsitting gedwing om die Bybel waaraan hy jare lank gewerk het, te verbrand!

Dit is betekenisvol dat een afskrif van die Mtscheta-manuskrip (Mckseta-manuskrip), wat ook bekend staan as Saba se Bybel en tot vandag toe behoue gebly het, Orbeliani se handgeskrewe opmerkings bevat. Party twyfel egter of dít die Bybel is waarteen die geestelikes geveg het. Slegs die aanhangsel kan met sekerheid aan hom toegeskryf word.

Ten spyte van die uitdagings het dit vir party van die koninklike familie ’n belangrike saak gebly om die Bybel te laat druk. Tussen 1705 en 1711 is dele van die Bybel gedruk. Danksy die pogings van die Georgiese prinse Bakari en Vachoesjti is die hele Bybel uiteindelik in 1743 gedruk. Dit kon nie meer verberg word nie.

^ par. 3 In die ou tyd was skryfmateriaal skaars en duur. Dit was dus algemeen om ouer teks van ’n manuskrip af te krap en die materiaal weer vir nuwe teks te gebruik. Sulke manuskripte staan bekend as palimpseste, ’n woord wat afkomstig is van ’n Griekse woord wat “weer afgekrap” beteken.