Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Antwoorde op Bybelvrae

Antwoorde op Bybelvrae

Hoe kan ’n huwelik gelukkig wees?

Die Bybel se raad oor hoe om ’n gelukkige huwelik te hê, werk omdat dit kom van die Insteller van die huwelik, Jehovah God. Dit leer ons om eienskappe aan te kweek wat ’n huwelik gelukkig kan maak en waarsku ons teen gesindhede wat ’n huwelik kan verwoes. Dit leer ons ook kommunikasievaardighede wat bydra tot geluk in die huwelik.—Lees Kolossense 3:8-10, 12-14.

Die man en vrou moet mekaar eer en respekteer. As albei die rol aanvaar wat God hulle in die huwelik gegee het, kan hulle gelukkig wees.—Lees Kolossense 3:18, 19.

Wat maak ’n huwelik blywend?

As egpare lief is vir mekaar, help dit hulle om bymekaar te bly. God leer ons hoe om lief te hê. Hy en sy Seun, Jesus, is volmaakte voorbeelde van selfopofferende liefde.—Lees 1 Johannes 4:7, 8, 19.

As die man en die vrou die huwelik respekteer as God se reëling, sal hulle bymekaar bly. God het die huwelik ingestel as ’n permanente verbintenis tussen ’n man en ’n vrou sodat gesinne veilig kan wees. Die huwelik kan blywend wees, want God het die man en die vrou gemaak om mekaar fisies en emosioneel aan te vul. Hy het hulle ook na sy beeld gemaak, met die vermoë om sy liefde na te volg.—Lees Genesis 1:27; 2:18, 24.