Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LEWENSVERHAAL

Materieel arm, maar geestelik ryk

Materieel arm, maar geestelik ryk

My oupa en my pa het in ’n onvoltooide huis gewoon in Cotiujeni, ’n plattelandse dorpie in die noorde van wat nou Moldowa is. Ek is in Desember 1939 daar gebore. In die vroeë 1930’s het my oupa en my pa Jehovah se Getuies geword. My ma het ook ’n Getuie geword nadat sy besef het dat my oupa meer van die Bybel weet as die dorpie se priester.

Toe ek drie was, is my pa, my oom en my oupa weens hulle standpunt oor Christelike neutraliteit na strafkampe gedeporteer. Slegs my pa het dit oorleef. In 1947, ná die Tweede Wêreldoorlog, het hy met ’n gebreekte rug teruggekeer huis toe. Hoewel hy liggaamlik ’n wrak was, het hy vasgestaan in sy geloof.

GROOT VERANDERINGE IN ONS LEWE

Toe ek nege was, is ons gesin en honderde ander Moldowiese Getuies na Siberië verban. Op 6 Julie 1949 is ons in veetrokke saamgehok. Ná ’n ononderbroke reis van 12 dae en meer as 6 400 kilometer het ons by die Lebjazje-treinstasie stilgehou. Die plaaslike owerheid het vir ons gewag. Ons is in groepies verdeel en onmiddellik regoor die gebied versprei. ’n Leë skooltjie het ons groep se tuiste geword. Ons was uitgeput en swaarmoedig. ’n Bejaarde vrou wat saam met ons was, het ’n lied geneurie wat Getuies gedurende die Tweede Wêreldoorlog geskryf het. Kort voor lank het almal hierdie woorde heelhartig saam met haar gesing:

“Baie broers is na verre plekke verban.

Hulle is na die noorde en die ooste geneem.

Omdat hulle God se werk gedoen het, is hulle tot teëspoed gevonnis en het hulle ontsettende beproewinge verduur.”

Ná verloop van tyd kon ons elke Sondag Bybelvergaderinge sowat 13 kilometer van ons tuiste af bywoon. Ons het dikwels op donker wintersoggende vroeg vertrek en in temperature van tot -40 grade Celsius deur sneeu gestap wat tot by ons middellyf gekom het. Vyftig of meer van ons het in ’n vertrek van net 19 vierkante meter bymekaargekom. Ons het begin deur ’n lied of twee of drie te sing. ’n Hartgrondige gebed is gedoen, en Bybelvrae is bespreek. Dit het ’n uur of wat geduur. Ons het dan nog liedere gesing, en daarna nog Bybelvrae bespreek. Dit was waarlik ’n geestelik versterkende tyd!

NUWE UITDAGINGS

By die Dzjankoi-treinstasie, omstreeks 1974

Teen 1960 het die verbanne Getuies groter vryheid gehad. Hoewel ons arm was, kon ek Moldowa besoek, waar ek Nina ontmoet het, wie se ouers en grootouers ook Getuies was. Ons is kort voor lank getroud en het teruggetrek na Siberië, waar ons dogter, Dina, in 1964 en ons seun, Viktor, in 1966 gebore is. Twee jaar later het ons na die Oekraïne getrek en gaan woon in ’n huisie in Dzjankoi, ’n stad ongeveer 160 kilometer van Jalta af, op die Krim-skiereiland.

In die Krim was daar ’n verbod op die bedrywighede van Jehovah se Getuies, soos ook in die hele  Sowjetunie nog die geval was. Maar daar was nie streng beperkings op ons werk nie, en ons is ook nie daadwerklik vervolg nie. ’n Gees van oorgerustheid het dus onder party Getuies posgevat. Hulle het geredeneer dat dit gepas is om nou hard te werk om materiële geriewe te verkry, aangesien hulle so swaargekry het in Siberië.

OPWINDENDE VERWIKKELINGE

Op 27 Maart 1991 is wetlike erkenning verleen aan ons bedrywighede regoor die destydse Sowjetunie. Daar is onmiddellik reëlings getref vir sewe tweedaagse spesiale streekbyeenkomste oral in die land. Ons is gevra om die byeenkoms in Odessa, in die Oekraïne, by te woon, wat op 24 Augustus sou begin. Ek het ’n maand voor die tyd daar aangekom om met voorbereidings vir die byeenkoms by die groot sokkerstadion te help.

Ons het bedags lang ure gewerk en het snags dikwels op stadionbankies geslaap. Spanne Getuievroue het die park om die stadion skoongemaak. Sowat 70 ton vullis is weggery. Diegene wat in die huisvestingsafdeling gewerk het, het die stad gefynkam op soek na huisvesting vir die verwagte 15 000 byeenkomsgangers. Toe het ons skielik skokkende nuus ontvang!

Op 19 Augustus—net vyf dae voor ons byeenkoms sou begin—is Michail Gorbatsjof, die destydse president van die USSR, in hegtenis geneem terwyl hy met vakansie was naby Jalta, nie ver van waar ons was nie. Die toestemming vir ons byeenkoms is teruggetrek. Byeenkomsgangers het die byeenkomskantoor begin bel en gevra: “Wat moet ons doen omtrent die plek wat ons op die bus en die trein bespreek het?” Ná vurige gebede het diegene wat vir die byeenkomsreëlings verantwoordelik was, vir hulle gesê: “Kom in elk geval!”

Voorbereidings—en gebede—het nie opgehou nie. Die vervoerafdeling het byeenkomsgangers wat uit baie dele van die Sowjetunie aangekom het, gaan haal en na hulle verblyfplekke geneem. Elke oggend het lede van die Byeenkomskomitee vertrek om met stadsamptenare te vergader. Elke aand het hulle sonder goeie nuus teruggekeer.

’N ANTWOORD OP ONS GEBEDE

Op Donderdag 22 Augustus—twee dae voordat die byeenkoms sou begin—het lede van die Byeenkomskomitee teruggekom met die goeie nuus: Ons het toestemming gekry om die byeenkoms te hou! Gedurende die openingslied en -gebed het ons vreugde geen perke geken nie. Ná die laaste sessie op Saterdag het ons tot laat in die aand gebly om te gesels en vriendskappe te hernieu. Ons was saam met Christene wie se geloof so sterk was dat hulle ondanks die moeilikste toetse standvastig gebly het.

Streekbyeenkoms in Odessa, 1991

Gedurende die meer as 22 jaar ná hierdie byeenkoms is ongelooflike geestelike vooruitgang gemaak. Koninkryksale is oral in die Oekraïne gebou, en die getal Koninkryksverkondigers het toegeneem van 25 000 in 1991 tot meer as 150 000 vandag!

NOG STEEDS GEESTELIK RYK

Ons woon nog steeds in dieselfde huis in Dzjankoi, wat nou ’n stad met omtrent 40 000 inwoners is. Hoewel daar net ’n paar Getuiegesinne in Dzjankoi was toe ons in 1968 uit Siberië hier aangekom het, is daar nou ses gemeentes.

My familie het ook groter geword. Daar is nou vier geslagte wat Jehovah getrou dien—ons kinders, hulle kinders en hulle kinders se kinders.