Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe moet jy jou kinders dissiplineer?

Hoe moet jy jou kinders dissiplineer?

“Ek het ongeduldig geluister na die dreuning van elke motor wat verbyry. Dit was die derde keer dat Jordan sy inkomtyd oorskry het. ‘Waar is hy?’ het ek gewonder. ‘Is hy in die moeilikheid? Besef hy nie dat ons bekommerd is nie?’ Teen die tyd dat hy by die huis gekom het, wou ek ontplof.”GEORGE.

“Ek het my boeglam geskrik toe my dogter skielik gil. Ek het omgedraai en gesien dat sy haar kop vashou en huil. Haar vierjarige boetie het haar geslaan.”—NICOLE.

“‘Ek het nie die ring gesteel nie. Ek het dit opgetel!’ het Natalie, ons sesjarige dogtertjie, met groot onskuldige blou oë gesê. Sy het aanhoudend ontken dat sy dit gesteel het, en dit het ons so ontstel dat ons gehuil het. Ons het geweet dat sy jok.”—STEPHEN.

KAN jy, as jy ’n ouer is, jou vereenselwig met die gevoelens wat in die inleiding uitgespreek word? Wonder jy, wanneer jy voor soortgelyke situasies te staan kom, hoe jy jou kind moet dissiplineer—en selfs of jy dit moet doen? Is dit verkeerd om jou kinders te dissiplineer?

WAT IS DISSIPLINE?

In die Bybel is die woord vir “dissipline” nie net ’n ander woord vir straf nie. Dissipline hou hoofsaaklik verband met onderrigting, opvoeding en teregwysing. Dit word nooit met mishandeling of wreedheid verbind nie.—Spreuke 4:1, 2.

Die dissipline wat ouers gee, kan vergelyk word met tuinmaak. ’n Tuinier berei die grond voor, gee die plant water en voeding en voorsien beskerming teen peste en onkruid. Terwyl die plant groei, moet die tuinier dit dalk snoei sodat dit in die regte rigting kan groei. Die tuinier besef dat hy verskillende tegnieke noukeurig sal moet toepas om ’n gesonde plant te kweek. Net so sorg ouers op baie maniere vir hulle kinders. Maar soms moet hulle dissipline gee—wat, soos snoeiwerk, verkeerde neigings op ’n vroeë ouderdom kan regstel en hulle kinders kan help om as ’t ware in die regte rigting te groei. Maar snoeiwerk moet versigtig gedoen word sodat die plant nie blywende skade opdoen nie. Ouers moet dissipline eweneens op ’n liefdevolle manier gee.

Die God van die Bybel, Jehovah, stel in hierdie verband ’n pragtige voorbeeld vir ouers. Die dissipline wat hy sy gehoorsame aardse aanbidders gee, is so doeltreffend en begeerlik dat hulle “dissipline liefhet” (Spreuke 12:1). Hulle “gryp dissipline aan” en wil “dit nie laat los nie” (Spreuke 4:13). Jy kan jou kind help om gunstig te reageer deur drie sleutelaspekte van God se dissipline noukeurig na te volg: Dit is (1) liefdevol, (2) redelik en (3) konsekwent.

 LIEFDEVOLLE DISSIPLINE

Liefde is die grondslag sowel as die beweegrede vir God se dissipline. Die Bybel sê: “Jehovah wys die een tereg wat hy liefhet, net soos ’n vader doen met ’n seun in wie hy behae het” (Spreuke 3:12). Jehovah is ook “’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie” (Eksodus 34:6). Jehovah sal dus nooit wreed teenoor mense wees of hulle mishandel nie. Hy wend hom ook nooit tot harde woorde, voortdurende kritiek of kwetsende sarkasme, wat ‘soos swaardsteke’ kan seermaak nie.—Spreuke 12:18.

LUISTER

Dit is natuurlik nie vir ouers moontlik om God se volmaakte voorbeeld van selfbeheersing ten volle na te volg nie. Soms sal jou geduld tot die uiterste beproef word, maar wanneer dit gebeur, moet jy altyd onthou dat straf wat toegedien word terwyl jy woedend is, gewoonlik onderdrukkend, uitermatig en teenproduktief is. Wat meer is, straf wat in woede of frustrasie toegedien word, is glad nie dissipline nie. Dit is eenvoudig ’n gebrek aan selfbeheersing.

Maar as jy jou kinders met liefde en selfbeheersing dissiplineer, sal jy waarskynlik beter resultate kry. Kyk hoe George en Nicole, twee van die ouers wat aan die begin aangehaal is, sake hanteer het.

BID

“Toe Jordan uiteindelik by die huis kom, was ek en my vrou woedend, maar ons het ons bedwing terwyl ons na sy verduideliking geluister het. Omdat dit so laat was, het ons besluit om die volgende oggend oor die saak te praat. Ons drie het saam gebid en toe gaan slaap. Die volgende dag was dit vir ons makliker om die saak kalm te bespreek en ons seun se hart te bereik. Hy het hom gewillig neergelê by die beperkings wat ons gestel het en verantwoordelikheid vir sy gedrag aanvaar. Gelukkig het ons besef dat dit teenproduktief is om vinnig te reageer wanneer ’n mens kwaad is. Wanneer ons eerste stap was om te luister, het sake gewoonlik goed afgeloop.”—George.

PRAAT

“Ek was woedend toe ek sien dat my seun sy sussie seergemaak het. Ek het nie onmiddellik gereageer nie, maar het hom eerder na sy kamer toe gestuur omdat ek eenvoudig te kwaad was om reguit te dink. Later, toe ek kalm was, het ek streng aan hom verduidelik dat geweld onaanvaarbaar is en vir hom gewys hoe seer hy sy sussie gemaak het. Hierdie benadering het goed gewerk. Hy het sy sussie om verskoning gevra en haar ’n drukkie gegee.”Nicole.

Ja, liefde is altyd die beweegrede vir gepaste dissipline, selfs wanneer dit straf insluit.

 REDELIKE DISSIPLINE

Jehovah se dissipline word altyd “in die regte mate” toegedien (Jeremia 30:11; 46:28). Hy neem al die omstandighede in ag, ook wat nie voor die hand liggend is nie. Hoe kan ouers dieselfde doen? Stephen, wat aan die begin aangehaal is, verduidelik: “Hoewel ons baie ontsteld was en nie kon verstaan waarom Natalie aangehou het om oor die ring te jok nie, het ons probeer in ag neem dat sy nog klein is en nie besef hoe ernstig die situasie is nie.”

Nicole se man, Robert, probeer ook om al die omstandighede in ag te neem. Wanneer die kinders iets verkeerds doen, vra hy hom af: ‘Is dit iets wat nie weer sal gebeur nie of is dit ’n slegte eienskap wat herhaaldelik sal kop uitsteek? Is die kind moeg of voel hy nie lekker nie? Is hierdie gedrag ’n teken van ’n ander probleem?’

Redelike ouers hou ook in gedagte dat kinders nie klein volwassenes is nie. Die Christenapostel Paulus het dit erken toe hy geskryf het: “Toe ek ’n klein kindjie was, het ek soos ’n klein kindjie gepraat, soos ’n klein kindjie gedink” (1 Korintiërs 13:11). Robert sê: “Iets wat my help om die regte beskouing van sake te behou en nie te oorreageer nie, is om te dink aan wat ek gedoen het toe ek ’n seuntjie was.”

Dit is noodsaaklik om realistiese verwagtinge te koester en terselfdertyd nie verkeerde gedrag of gesindhede te verskoon of te vergoeilik nie. As jy jou kind se vermoëns, beperkings en ander omstandighede in ag neem, sal jou dissipline gebalanseerd en redelik wees.

KONSEKWENTE DISSIPLINE

“Ek is Jehovah; ek het nie verander nie”, sê Maleagi 3:6. Dit is ’n feit waarin knegte van God hulle vertroue stel en wat hulle veilig laat voel. Kinders het ook konsekwente dissipline nodig om veilig te voel. As jou standaarde na gelang van jou bui verander, sal dit jou kind dalk verwar en frustreer.

Onthou dat Jesus gesê het: “Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee.” Hierdie woorde is beslis op ouers van toepassing (Matteus 5:37). Dink goed na voordat jy ultimatums stel wat jy nie van plan is om uit te voer nie. As jy jou kind waarsku dat verkeerde gedrag ’n sekere soort straf tot gevolg sal hê, moet jy daarby bly.

Konsekwente dissipline vereis goeie kommunikasie tussen die twee ouers. Robert verduidelik: “Wanneer ek besef dat ons kinders my laat instem het tot iets waarvoor my vrou nee gesê het, verander ek my besluit om my vrou se besluit te ondersteun.” As ouers nie saamstem oor hoe om ’n situasie te hanteer nie, moet hulle hierdie verskille liewer privaat bespreek en ’n eenparige besluit neem.

DISSIPLINE IS NOODSAAKLIK

As jy Jehovah se liefdevolle, redelike en konsekwente dissipline navolg, kan jy seker wees dat jou pogings jou kinders tot voordeel sal strek. Jou liefdevolle leiding kan jou kinders help om verstandige, verantwoordelike en gebalanseerde volwassenes te word. Die Bybel sê tereg: “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom; ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie.”—Spreuke 22:6.