Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | JESUS RED—WAARVAN RED HY ONS?

Waarom ons redding nodig het

Waarom ons redding nodig het

“Die mens, uit ’n vrou gebore, lewe ’n kort rukkie en is sat van ontsteltenis. Soos ’n bloeisel het hy te voorskyn gekom en word hy afgesny, en hy vlug soos die skaduwee en bly nie bestaan nie.”—Job 14:1, 2.

Mense droom al van die vroegste tye af oor hoe wonderlik dit sou wees om vir ewig jonk en gesond te wees. Maar die wrede werklikheid is ongelukkig: Ons is sterflik. Die woorde van Job hierbo, wat hy meer as drieduisend jaar gelede gespreek het, is vandag nog steeds waar.

Die begeerte om vir ewig te lewe is sterk, en dit is universeel. Die Bybel sê vir ons dat God ’n hunkering na die ewigheid in ons hart gesit het, sowel as ’n begeerte om dit te verstaan (Prediker 3:11). Klink dit dan vir jou redelik dat ’n liefdevolle God ’n begeerte in ons hart sou sit wat ons nooit kan bevredig nie? As jou antwoord nee is, is jy reg. God se Woord noem die dood ’n vyand en belowe dat dit “tot niet gemaak [sal] word”.—1 Korintiërs 15:26.

Daar is geen twyfel dat die dood ’n vyand is nie. Geen regdenkende persoon verwelkom dit nie. Wanneer daar gevaar dreig, koes ons, kruip ons weg of vlug ons. Wanneer ons siek word, soek ons na ’n manier om gesond te word. Ons doen alles in ons vermoë om dinge te vermy wat ons dood kan veroorsaak.

Is daar enige rede om te glo dat hierdie eeue oue vyand tot niet gemaak sal word? Ja, daar is. Jehovah God, die Skepper, het die mens nie geskep om net ’n paar jaar te lewe en dan te sterf nie. Die dood was nie deel van sy oorspronklike voorneme nie. Dit was sy voorneme dat die mens vir ewig op die aarde moes lewe, en hy verwesenlik altyd sy voornemens.—Jesaja 55:11.

Hoe sal die dood dan uit die weg geruim word? Mense het nog altyd ’n oplossing vir die dood probeer vind, maar sonder enige sukses. Hierdie pogings duur vandag nog voort. Wetenskaplikes het entstowwe en medisyne ontwikkel wat party siektes onder bedwang gebring het. Hulle het die genetiese struktuur van lewende dinge ondersoek. In baie lande lewe mense oor die algemeen langer as wat hulle ’n eeu gelede gelewe het. Tog is die dood nog lank nie oorwin nie. Die Bybel sê: “Almal [keer] na die stof terug.”—Prediker 3:20.

Die goeie nuus is dat ons nie op die mens se vindingrykheid hoef staat te maak om hierdie eeue oue probleem op te los nie. Jehovah God het dit alreeds vir ons moontlik gemaak om van die dood gered te word, en die sleutelfiguur in hierdie reëling is Jesus Christus.