Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | IS DIE EINDE NABY?

“Die einde”—Wat beteken dit?

“Die einde”—Wat beteken dit?

Waaraan dink jy wanneer jy die woorde “Die einde is naby!” hoor? Dink jy aan ’n fanatiese pastoor wat met ’n donderende stem van die preekstoel af praat en wilde gebare maak met die Bybel in die hand? Of dink jy aan ’n bebaarde ou man op ’n straathoek wat ’n lang kleed aanhet en ’n plakkaat met ’n oordeelsboodskap daarop vashou? Sulke tonele maak party mense dalk bekommerd, terwyl ander moontlik skepties is of dit selfs snaaks vind.

Die Bybel sê: “Die einde [sal] kom” (Matteus 24:14). Dieselfde gebeurtenis word ook “die groot dag van God” en “Har–Magedon”, oftewel Armageddon, genoem (Openbaring 16:14, 16). Daar is baie godsdiensverwarring oor die onderwerp, en oor die algemeen het mense vreemde, vreesaanjaende idees daaroor. Maar die Bybel gee ’n baie duidelike beskrywing van die einde—dit toon wat dit is en wat dit nie is nie. God se Woord help ons ook om duidelik te sien hoe naby die einde is. Die beste van alles is dat dit ons leer hoe om die einde te oorleef! Maar laat ons eers ’n paar wanopvattings opklaar en kyk wat dit beteken. Wat is “die einde” werklik volgens die Bybel?

WAT DIE EINDE NIE IS NIE

  1. DIE EINDE IS NIE ’N GEBEURTENIS WAARTYDENS DIE AARDE IN ’N GROOT VUUR VERNIETIG WORD NIE.

    Die Bybel sê: “[God] het die aarde op sy vaste plekke gegrondves; tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid sal niks dit laat wankel nie” (Psalm 104:5). Hierdie en ander tekste verseker ons dat God nooit die aarde sal vernietig of sal toelaat dat dit vernietig word nie!—Prediker 1:4; Jesaja 45:18.

  2. DIE EINDE IS NIE ’N TOEVALLIGE, ONBEPLANDE GEBEURTENIS NIE.

    Die Bybel openbaar dat daar wel ’n vasgestelde tyd vir die einde is—God het ’n spesifieke tyd daarvoor vasgestel. Ons lees: “Van daardie dag of die uur weet niemand nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader. Bly op die uitkyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie” (Markus 13:32, 33). Dit is duidelik dat God (“die Vader”) ’n presiese, “vasgestelde tyd” het wanneer hy die einde sal bring.

  3. DIE EINDE WORD NIE VEROORSAAK DEUR MENSE OF DEUR ’N METEORIET WAT DIE AARDE TREF NIE.

    Wie sal die einde bring? Openbaring 19:11 sê: “Ek het die hemel geopend gesien, en kyk! ’n wit perd. En die een wat daarop sit, word Getrou en Waaragtig genoem.” Vers 19 sê verder: “En ek het die wilde dier en die konings van die aarde en hulle leërs versamel gesien om die oorlog te voer teen die een wat op die perd sit en teen sy leër” (Openbaring 19:11-21). Hoewel hierdie verse van simboliese taal gebruik maak, is dit duidelik: God sal ’n leër van engeleskepsele stuur om sy vyande te vernietig.

Die Bybel se boodskap oor die einde is goeie nuus, nie slegte nuus nie

WAT DIE EINDE IS

  1. DIE EINDE VAN MISLUKTE MENSEREGERINGS.

    Die Bybel verduidelik: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk [regering] oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan” (Daniël 2:44). Soos vroeër onder punt 3 gemeld is, sal “die konings van die aarde en hulle leërs”, vernietig word. Hulle sal “versamel [wees] om die oorlog te voer teen die een wat op die perd sit en teen sy leër”.—Openbaring 19:19.

  2. DIE EINDE VAN OORLOG, GEWELD EN ONGEREGTIGHEID.

    “[God] laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde” (Psalm 46:9). “Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly. Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en die verraderlikes sal daarvan weggeruk word” (Spreuke 2:21, 22). “Kyk! Ek maak alles nuut.”—Openbaring 21:4, 5.

  3. DIE EINDE VAN GODSDIENSTE WAT GOD EN DIE MENSDOM IN DIE STEEK GELAAT HET.

    “Die profete profeteer op grond van leuens; en wat die priesters betref, hulle onderwerp mense met hulle mag. . . . En wat sal julle aan die uiteinde daarvan doen?” (Jeremia 5:31). “Baie sal in daardie dag vir my sê: ‘Here, Here, het ons nie in u naam geprofeteer en in u naam demone uitgedryf en in u naam talle kragtige werke verrig nie?’ En tog sal ek dan openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my af, julle werkers van wetteloosheid”!—Matteus 7:21-23.

  4. DIE EINDE VAN MENSE WAT DIE HUIDIGE WÊRELDSITUASIE BEVORDER EN ONDERSTEUN.

    Jesus Christus het gesê: “Dít is die grondslag vir die oordeel, dat die lig in die wêreld ingekom het maar die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad het, want hulle werke was goddeloos” (Johannes 3:19). Die Bybel het ’n wêreldwye vernietiging beskryf wat voorheen, gedurende die tyd van die getroue man Noag, plaasgevind het. “Die wêreld van daardie tyd [is] vernietig toe dit met water oorstroom is. Maar deur dieselfde woord is die hemele en die aarde wat nou is, vir die vuur weggelê en word dit bewaar tot die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense.”—2 Petrus 3:5-7.

Let op dat die komende “dag van die oordeel en van die vernietiging” vergelyk word met die vernietiging van “die wêreld” van Noag se tyd. Watter wêreld is vernietig? Ons planeet is nie vernietig nie; “die goddelose mense”—God se vyande—is “vernietig”. Gedurende God se komende “dag van die oordeel” sal diegene wat kies om God se vyande te wees, ook vernietig word. Maar God se vriende sal bewaar word, soos Noag en sy gesin bewaar is.—Matteus 24:37-42.

Dink aan hoe wonderlik hierdie aarde sal wees nadat God al die goddelose invloede uitgewis het! Dit is duidelik dat die Bybel se boodskap oor die einde goeie nuus is, nie slegte nuus nie. Maar dalk wonder jy nog steeds: ‘Sê die Bybel vir ons wanneer die einde gaan kom? Is dit naby? Hoe kan ek dit oorleef?’