Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

1 Petrus 5:6, 7 – “Verneder julle . . . onder die kragtige hand van God . . . Werp al julle bekommernis op Hom”

1 Petrus 5:6, 7 – “Verneder julle . . . onder die kragtige hand van God . . . Werp al julle bekommernis op Hom”

 “Onderwerp julle nederig aan die magtige hand van God, sodat hy julle op die regte tyd kan verheerlik. Gee al julle bekommernisse oor aan God, want hy gee om vir julle.” – 1 Petrus 5:6, 7, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.” – 1 Petrus 5:6, 7, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van 1 Petrus 5:6, 7

 Met hierdie woorde het die apostel Petrus Christene verseker dat hulle met vertroue tot God kan bid oor hulle probleme en bekommernisse. God beskou diegene wat nederig is, as kosbaar, en hy sal hulle ryklik beloon.

 “Onderwerp julle nederig aan die magtige hand van God.” In die Bybel verwys God se hand dikwels na sy krag om ander te red en te beskerm (Eksodus 3:19; Deuteronomium 26:8; Esra 8:22). Christene onderwerp hulle nederig aan God se hand wanneer hulle op hom vertrou. Hulle erken hulle eie beperkings en besef dat hulle nie alleen probleme kan oorkom nie (Spreuke 3:5, 6; Filippense 4:13). Hulle is oortuig dat God die mag het om hulle op die regte tyd en op die beste manier moontlik te help. – Jesaja 41:10.

 “Sodat hy julle op die regte tyd kan verheerlik.” Diegene wat geduldig deur moeilike tye gaan, kan die vertroue hê dat God hulle uiteindelik sal verheerlik, of beloon. Hy sal nie toelaat dat sy aanbidders toetse deurmaak wat hulle nie kan hanteer of wat vir ewig aanhou nie (1 Korintiërs 10:13). Inteendeel, as hulle aanhou om te doen wat goed is, sal God hulle beslis “op die regte tyd” beloon. – Galasiërs 6:9.

 “Gee al julle bekommernisse oor aan God, want hy gee om vir julle.” Christene kan al hulle bekommernisse aan God oorgee, of op hom werp, deur nederig tot hom te bid. ’n Naslaanwerk verduidelik: “Die werkwoord om te werp dra die gedagte oor dat ’n mens jou inspan om iets van jou af weg te gooi. Dit beskryf iets wat ’n mens doelbewus doen.” Wanneer ’n Christen sy bekommernisse aan God oorgee, kan dit veroorsaak dat hy minder stres het, en dan kan hy volgens die Bybel “die vrede van God” ervaar (Filippense 4:6, 7). Hy kan seker wees dat God hom wil help omdat hy weet dat God vir hom omgee en Sy oorvloedige krag kan gebruik om hom te ondersteun. – Psalm 37:5; 55:22.

Konteks van 1 Petrus 5:6, 7

 Hoofstuk 5 sluit die eerste brief af wat die apostel Petrus aan Christene geskryf het (1 Petrus 1:1). Christus se volgelinge het in daardie tyd, net soos vandag, allerhande moeilike tye deurgemaak wat hulle geloof getoets het en hulle angstig kon gemaak het (1 Petrus 1:6, 7). Omdat Petrus bewus was dat hulle swaarkry, het hy ’n liefdevolle en aanmoedigende brief in ongeveer 62-64 HJ geskryf. – 1 Petrus 5:12.

 Petrus sluit sy brief af met ’n aanmoedigende herinnering vir diegene wat deur moeilike tye gaan as gevolg van hulle geloof. As hulle nederig bly en op God vertrou, kan hulle seker wees dat God hulle sal help om standvastig te bly (1 Petrus 5:5-10). Petrus se woorde kan vandag ook Christene aanmoedig wat vervolg word.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek 1 Petrus te kry.