Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Hebreërs 11:1 – “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop”

Hebreërs 11:1 – “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop”

 “Geloof is die vaste vertroue dat die dinge waarvoor ’n mens hoop, sal gebeur. Dit is die duidelike bewys dat dinge wat nie gesien word nie, ’n werklikheid is.” – Hebreërs 11:1, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” – Hebreërs 11:1, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983).

Betekenis van Hebreërs 11:1

 Hierdie vers gee die kortste en eenvoudigste definisie van geloof in die Bybel en wys dat geloof meer behels as om net te glo.

 “Geloof is die vaste vertroue dat die dinge waarvoor ’n mens hoop, sal gebeur.” In die oorspronklike teks van Hebreërs 11:1 dra die Griekse woord vir “geloof” die gedagte oor van vertroue of vaste oortuiging. Sulke geloof gaan nie oor wat ons wens sal gebeur nie. Dit gaan oor “vaste vertroue”. Die Griekse woord wat met “vaste vertroue” a vertaal word, kan ook met “eiendomsbewys” vertaal word. Dit verwys na ’n waarborg wat sekerheid, of vertroue, aan die eienaar gee.

 “Geloof is . . . die duidelike [of “oortuigende”, voetnoot] bewys dat dinge wat nie gesien word nie, ’n werklikheid is.” Geloof is die gevolg van oortuigende bewyse. Sulke bewyse is so sterk dat dit iemand oortuig dat iets regtig bestaan al kan hy dit nie sien nie.

Konteks van Hebreërs 11:1

 Die Bybelboek Hebreërs is ’n brief wat die apostel Paulus geskryf het aan die eerste-eeuse Christene wat in en rondom Jerusalem gewoon het. In hierdie deel van die brief het Paulus die belangrikheid van geloof bespreek. Byvoorbeeld, hy het geskryf: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God se goedkeuring te verkry, want as iemand God wil nader, moet hy glo dat hy bestaan en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Nadat Paulus die definisie van geloof in Hebreërs 11:1 gee, verwys hy na voorbeelde van mans en vroue in die Bybel wat hierdie eienskap gehad het. Hy vertel hoe hulle hulle geloof getoon het omdat hulle volgens God se wil gelewe het. – Hebreërs 11:4-38.

a Die Griekse woord hy·poʹsta·sis word hier met “vaste vertroue” vertaal. Dit kan letterlik weergegee word as “dit wat onder iets staan, ’n grondslag”.